Antjie Se Pen (subtitel van www.afrikakiwi.com)

Antjie se pen was die geboorte van my groot droom om eendag 'n boek of dalk twee te skryf. Een van my drie vereistes voor ek Nieu-Seeland toe gekom het, was dat daar van dag 1 af 'n rekenaar in die huis moet wees, want kommunikasie met die familie en vriende was uiters belangrik. Die dag dat ons voet op Kiwi bodem gesit het, het die eerste Nieu-Seeland nuusbrief die lig gesien... besoek ons webtuiste: www.afrikakiwi.com

Taupo Fietswedren

Saterdag – 2 Desember 2006

22H00

Goeiemore

Pieter se Taupo-fietswedren-naweek het alle verwagtinge oortref en daarom verdien dit 'n briefie op sy eie....

Die 160 km fietswedren rondom Lake Taupo is verlede naweek afgemerk op Pieter se "Things I want to do"-lysie. Vanaf die dag dat hy sy fiets gekoop het, is daar gepraat oor die Taupo fietswedren. Pieter het vir homself 'n mikpunt gestel - 30 km in 'n uur, wat sou beteken hy sou die 160 km lag-lag onder 6 ure kon klaarmaak. Ongelukkig het dit nie vir hom so uitgewerk nie. Met al die projekte die afgelope 2 maande, sy kursus in Melbourne en die griepvirus wat hom twee keer platgetrek het, het hy besef hy sal nie fiks genoeg wees om so 'n goeie tyd te behaal nie. Om die wedren klaar te maak, was nou sy eerste mikpunt en as dit binne 6 en 'n half uur kon wees, nog te beter. Dalk sou gladde, haarlose bene hom help. Ja, hy is deur die hele pynlike warm wasproses. Kerry het die hele operasie gate uit geniet.

Pieter en Ryno en soms ook Mario, het begin oefen. Hulle drie sou die lang pad om die meer saam aandurf. Daar is verblyf vir die drie families bespreek, want dit is 'n hele naweekuitstappie. Sending Taupo was op koers. 'n Tragiese ongeluk eis egter Mario se lewe voor hy Taupo toe kon gaan. Terwyl hy een aand gaan fietsry, word hy raakgery en herwin nooit weer sy bewussyn nie. Dit was 'n groot slag vir Pieter en Ryno, veral vir Ryno wat ook goeie huisvriende met hulle was. Pieter en Ryno het dus hoofsaaklik verlede Saterdag die wedren vir Mario afgelê. Om hulle eer te betoon, het Marichen vir hulle swart bandjies gemaak wat hulle tydens die wedren gedra het.

Ek en Pieter het al Vrydagoggend douvoordag in die pad geval en langs die pad by 'n paar piepklein dorpies stilgehou vir 'n koffietjie en om bene te rek. Ons het selfs by een van die plekkies 'n Lotto-kaartjie gekoop. Ons het al te veel kere gelees van Lotto-miljoenêrs wat op pad iewers heen hulle wenkaartjie by so 'n klein verlate winkeltjie gekoop het - 'n mens weet mos nooit waar jou geluk lê nie.

Ryno-hulle het Orewa 'n hele paar ure na ons verlaat en eers 'n draai in Matamata of ook genoem Hobbiton ( Hobbit Town) gegooi waar Peter Jackson heelwat tonele uit Lord of the Rings geskiet het. Blykbaar vind jy ook een van NZ se beste restaurante in die Hobbits se dorpie.

Sesuur Vrydagaand word ons deel van die miernes toe die mans hulle "race packs" gaan afhaal....mense en nogmaals mense. Dankie tog vir vandag se tegnologie - gelukkig is daar geen vorms om in te vul nie, want almal registreer via die internet - weke voor die tyd. Die groot prys vir die gelukkige trekking het die mans groot laat droom - 'n Nissan 4X4 motor en 'n boot.

Vrydagaand se kok het seker gemaak dat die fietsers genoeg "carb loading" gedoen het. Saterdagoggend het koud en winderig aangebreek. Pieter en Ryno het al vroegoggend begin om hulself vir die lang dag te bewapen - waterbottels is gevul, sonskerm is aangesmeer, die innerlike is versterk en daar is seker gemaak die tydsensors is stewig vas. Sewe-uur was die manne slaggereed en het sommer opgewarm na die wegspring toe.

Onder in die dorp, waar 12 000 fietsers en hulle ondersteuners gewag het om die wedren te begin, het daar 'n vrolike atmosfeer geheers. Dit het bykans twee ure geneem om die rekordgetal deelnemers oor die wegspringstreep te kry. Die "support crew" het nou 'n hele 5 ure gehad om Taupo se interessante winkeltjies plat te loop voor ons op ons plek langs die wenstreep moes wees.

'n Mens kon nie anders as om by die eindpunt bewondering te kry vir die fietsers nie. Daar was ouens wat net een been het, 'n ou met een arm, ou omies en tannies en selfs 'n blinde vrou. Dis nie 'n jok nie - sy was op 'n tandemfiets besig om voor te berei om in Beijing te gaan deelneem. Die fietsers wat egter die meeste harte gesteel het, was die klein kindertjies - die jongste twee jaar oud. Die Kinderhartvereniging het hierdie jaar die winste van die Taupo Fietswedren ontvang. Daarom dat die kleintjies die laaste 5 km na die wenstreep gery het, party blakendgesond en sommige van hulle met 'n hartdefek.

Vyf uur 24 minute later het Ryno oor die wenstreep gesuiker - 'n uur en 'n half vinniger as verlede jaar en onder sy doelwitttyd vir hierdie jaar. Pieter het 'n halfuur later gevolg, baie tevrede dat hy onder 6 ure kon klaarmaak. Hulle bene was egter nie so gelukkig nie en na 'n draai in die masseertent het hulle weer mens gevoel.

Sesuur Saterdagmiddag was ons deel van die Woodstock-skare....duisende wat in spanning sit en wag vir die prysuitdeling. Die markiestente en kosreuke het gesorg vir 'n heerlike karnavalatmosfeer. Ons is ongelukkig toe nie huis toe met die 4X4 en boot nie. Ons kok vir Saterdagaand het egter vergoed vir die teleurstelling en gesorg dat ons elkeen 'n groot steak vir aandete kry.

Ten spyte van 'n laataand, was ek Sondagoggend halfses op my pos om te kyk hoe die All Blacks die Haka in die kleedkamer doen - good on them! Ryno het met die afskop sy plek ingeneem - ons twee se dag het dus op 'n hoë noot begin. Toe ons by Breakers in Taupo instap vir ontbyt, moes ons maar weer rugby kyk, want al die laatslapers was daar om die heruitsending op die groot skerm te kyk. Moet sê die versoeking was baie groot om die telling te laat uitlek, veral toe ek al die angstige gesigte sien.

So het nog 'n suksesvolle fietsrynaweek tot 'n einde gekom.

Anna-Mare