Antjie Se Pen (subtitel van www.afrikakiwi.com)

Antjie se pen was die geboorte van my groot droom om eendag 'n boek of dalk twee te skryf. Een van my drie vereistes voor ek Nieu-Seeland toe gekom het, was dat daar van dag 1 af 'n rekenaar in die huis moet wees, want kommunikasie met die familie en vriende was uiters belangrik. Die dag dat ons voet op Kiwi bodem gesit het, het die eerste Nieu-Seeland nuusbrief die lig gesien... besoek ons webtuiste: www.afrikakiwi.com

Mail was te groot - ek stuur weer

Maandag – 18 Oktober 2010
2200
 
Ek is terug…
 
Mos gesê ek het ‘n hele jaar se nuus om julle mee toe te gooi….
 
Dit is alweer 15 dae later. Soms wil ek net aan daardie wysers van die horlosie hang dat die tyd tog net nie so vinnig verby moet gaan nie. Daar is nog so baie wat ek wil doen in die lewe en dit voel soms of ‘n mens se lewe sommer so vinnig verby gly. Ek gaan nog eendag ‘n hele storie oor my “Bucket List” skryf.
 
Verlede Maandagaand het ek weer eens besef hoe kosbaar tyd is. Nic en Kerry het ons uitgeneem vir ‘n mosselpotjie by die Belgiese restaurant. Gister nog was hulle klein seuntjies wat grondpaadjies vir hul karretjies in my tuin gemaak het en en vandag is hulle jongmanne wat nie omgee om ons so nou en dan op iets lekkers te trakteer nie. Ons koester die gesellige aande saam met die kinders baie, want hulle aldrie het die vermoë om met hul kwinkslae en humorsin ‘n eenvoudige maal in koningskos te verander, hetsy by die huis of in ‘n eetplek.
 
Verlede Dinsdagoggend was Pieter onder die mes. So twee jaar gelede het Pieter ‘n knoppie, wat soms baie gevoelig was, op sy linkersy ontdek. Ons het dit maar afgeskryf as ‘n ekstra ribbetjie wat daar hang. Die ribbetjie het egter meer as net gehang…die ribbetjie het al hoe groter geword en het later in my hand gepas, Toe Pieter later geforseer is om net op die een sy te slaap, was dit tyd om geslag te word. ‘n Ag sentimeter lipoma, ‘n gewas wat algemeen voorkom by volwassenes tussen 40 en 60, is toe verwyder. A lipoma is a benign tumor composed of fatty tissue. These are the most common form of soft tissue tumor. Die outjie was mooi skoon, het selfs in sy eie sakkie tot teen die ribbekas gelê.

 
Moet nou nie dink dat ‘n sny met baie steke Pieter kan rustig hou nie. Vier dae later het hy, Philip en die seuns alweer met die « quad bikes » op Muriwai se strand gaan speel. Dit was Marco en Reghardt se eerste kennismaking met die vierwielfietse. Hulle het dit so geniet dat Reghardt sommer nou van naweekwerk wil verander dat hy meer vrye tyd kan hê om ook naweke saam met die manne te kan gaan baljaar.
 
Nic het verlede Woensdagoggend Christchurch toe gevlieg vir 8dae. Hy het twee kursusse daar gehad met ‘n naweek tussenin waar hy nog ‘n nuwe opwindende ervaring langs sy naam kon sit….of eintlik twee. Christchurch is nou onlangs geteister met ‘n 7.1 aardbewing wat die pragtige stad met biljoene dollars se skade gelaat het, maar gelukkig geen lewensverliese nie. Dit is nou behalwe vir ‘n 50-jarige vrou wat ‘n hartaanval gehad het en nie betyds gered kon word nie, want die telefoonlyne was oorlaai en haar kinders kon nie betyds ‘n ambulans in die hande kry nie. Intussen was daar alreeds meer as 1500 naskokke, twee net voordat Nic moes terugvlieg, ‘n kleintjie en ook ‘n redelike knewel van 5.1.


As of the 12th October, Christchurch had suffered over 1500 aftershocks from the 7.1 magnitude earthquake that caused immense damage on the 4th September. After two days of relative peace, Christchurch residents have lived through four aftershocks in the space of eight hours. According to Geonet, these quakes registered 3.2, 3.6, 4.1 and 5.0 on the Richter scale. The last one was reported as having potentially caused minor damage. Buildings already weakened by the Christchurch earthquake are susceptible to further damage by aftershocks.
 
Gedurende die naweek was die weer maar goor in Christchurch en het Nic se “snow board” verniet saamgevlieg. Hy het egter dadelik iets gekry wat vir hom ‘n nuwe maar opwindende ondervinding was…en iets wat hom baie ongewild by die res van ons gemaak het. Hy het gaan hase jag en ook ‘n possum geskiet. Possums is ‘n pes in NZ. Daar is omtrent 30 miljoen possums in Kiwiland – dit is omtrent 7 possums vir elke persoon. “Possums will munch through around 9,000 tonnes of leaves, berries and fruit every night. Possums are not native to New Zealand. The first possums were brought to New Zealand in 1837 from Australia. Possums is ‘n beskermde spesie in Australië.

Dit is ongelooflik hoe klein die wêreld soms voel. Op pad huis toe vandag ry daar ‘n wit afleweringswa vol Zoeloes en SA-vlae verby my…gelukkig net foto’s van hulle. “Another delivery by Inside Africa”…nog een van die baie SA-winkels hier in ons omgewing wat op pad terug is van ‘n aflewering. Ek koop ook elke Donderdag mieliepap, Rooibostee, Niknaks, Aromat en al die ander tipies SA-kos vir my deli by ‘n groot Invoerhandelaar, Zebra Zoo. Ons maak baie dollars met ons Internasionale reeks, veral die produkte wat ek spesiaal aankoop vir die Pomme.


Nog ‘n bekende invoerproduk het die begin van Oktober die kollig gesteel. Irene van Dyk was NZ se vlagdraer by die Statebondspele in Delhi. Die aankondiging is begroet met: “Wow! Holy Moly!” Sy het glo al die eienskappe gehad wat ‘n waardige vlagdraer moet hê:"What we want is someone the team are happy to go into battle behind, and someone who displays all the qualities we hold dear as New Zealanders - grit, determination, courage, never give up, and someone to draw strength from adversity, and who does it with humility and humour," he said. En sy het dit alles getoon in daardie Riller van ‘n eindstryd…seker die beste Netbalwedstryd ooit gespeel. Selfs Prins Edward het ons netbalsenter vergewe toe sy met die medalje-oorhandiging in plaas daarvan om die kniebuiging te maak, hom styf om die hals val. Sy reaksie:”You are really happy.”

Vir ‘n klein landjie soos NZ met sy 4.2 miljoen inwoners het ons nie te sleg in Delhi gevaar nie. Daar was darem so 36 medaljes wat hierdie kant toe gekom het. My hoogtepunt was natuurlik die NZ Sevens, want ek het die aand voor hulle Delhi toe gevlieg het, ‘n liefdadigheidsete wat Eric Rush, oud-All Black en Sevens-speler, aangebied het, bygewoon. Die NZ Sevens-span was die eregaste en het ook baie bygedra tot die duisende dollars wat ingerol het vir ‘n onder 11-rugbyspannetjie wat Australië toe wil toer. Ek was buite my nate toe die bod vir ‘n foto saam met die manne met hul kaalbolywe op ons tafel toegeslaan is. Hierdie $850 stukkie goud hang nou hier bokant my lessenaar…geskenk van die baas. Hy het onder andere ook Colin Meads se getekende onderbroek in ‘n raam gekoop…een van daai ou groot wittes.
 
Ek het gister my laaste eksamen ooit geskryf en dit was baie erg. Nie net het ek nie klaargekry nie, maar daar was ook een 12-punt vraag wat ek nou nog nie ken nie. Dit sal hartseer wees as ek nie ook die 13de November die gradeplegtigheid kan bywoon nie. So 30 jaar gelede sou ek geweet het hoe om my uit hierdie dilemma te kry, maar nou is ek al te oud vir al die truuks. Ek moet nou maar net hoop en bid vir genade.
 
Daar was mense wat laas lank moes wag vir hulle epos om af te laai as gevolg van die foto’s wat ek gestuur het. Daarom stuur ek hierdie keer net die enetjie…die ene wat die goue medalje vir die vierde keer gewen het. (Onthou hierdie is 'n foto wat ek van 'n foto geneem het)
 
Liefde
 
Anna-Maré

 



0 Comments:

Post a Comment

<< Home