Antjie Se Pen (subtitel van www.afrikakiwi.com)

Antjie se pen was die geboorte van my groot droom om eendag 'n boek of dalk twee te skryf. Een van my drie vereistes voor ek Nieu-Seeland toe gekom het, was dat daar van dag 1 af 'n rekenaar in die huis moet wees, want kommunikasie met die familie en vriende was uiters belangrik. Die dag dat ons voet op Kiwi bodem gesit het, het die eerste Nieu-Seeland nuusbrief die lig gesien... besoek ons webtuiste: www.afrikakiwi.com

NZ-nuus Deel1

Sondag – 3 Oktober 2010
1800
 
More Almal
 
Waar begin jy as jy vandag presies ‘n jaar gelede laas ‘n nuusbriefie oor jou doen en late vir al jou epos-vriende gestuur het? Die beste plek is seker die hede…
 
Net eers sê dat ons webblad van 9 jaar ‘n stil dood gesterf het, want dit het net ‘n wit olifant geword. Ons het die blad begin verwaarloos en dit was net nie meer die moeite werd om al die Amerikaanse dollars elke jaar te betaal vir ‘n blad wat nooit opgedateer word nie. Ongelukkig beteken dit nou ook dat ek nie meer die foto’s wat ek so graag saam met my nuusbriewe gestuur het agter die blou geskrewe gedeeltes kan wegsteek nie. Ek sal nog graag so hier en daar ‘n foto’tjie wil aanheg en hoop nie dit gaan jou epos te stadig maak nie. Anders moet julle na die foto’s van al ons manewales op my Facebook-blad gaan kyk.
 
Dit is die mooiste sonskyndag hier in Auckland, iets wat ons nou vir maande nooit gesien en ervaar het nie. Die grond is so deurdrenk met water dat ons weke laas die grassny-omie gesien het en ons ook nie hoef skuldig te voel oor die onkr+
--uid wat al byna by die vensters ingroei nie. Ongelukkig het ons nie almal vandag die voorreg om vir ‘n slag ‘n lekker dosis vitamien D te gaan inneem nie…
 
Die 1ste Oktober het ons AVB (dit is mos die Afrikaans vir GST?) van 12.5% tot 15% opgegaan. Ek het nie geweet dit is so ‘n yslike projek totdat ekself nou al vir weke moet beplan vir my Deli se oorskakeling nie. Ons winkelgroep het besluit om die belastingverhoging terug te hou tot die 4de wat ‘n Maandag is. Alle nuwe “beginne” is mos altyd op ‘n Maandag, vra maar vir my wat net op ‘n Maandag kan begin met ‘n dieet of oefening. Dit beteken nou dat ek die eerste mooi sonskyndag moet opoffer om seker te gaan maak dat die Klakous Kiwi’s nie nog iets het om more-oggend oor te kla nie. Hulle behoort darem met hul eerste salaris in Oktober weer iets te hê om oor te glimlag, want met verkoopsbelasting wat opgegaan het, het persoonlike belasting vir almal afgekom.
 
Pieter is een van die gelukkiges wat vandag hierdie lieflike dag gaan aangryp. Hy en Philip, sy vriend van donkiejare, gaan vandag weer met hul “quad bikes” Muriwai se sandduine aandurf. Hulle twee het mos hierdie jaar al vroeg Kersfees gehou en spandeer baie Saterdae òf op die duine òf in die bos met hul nuwe speelgoed. Ek het dit nog net een keer agterop die fiets gewaag en dit was op die strand. Kyk as ek val, wil ek saggies val. Nic en Kerry het ‘n fees saam met Pieter op die strand met die vierwielfiets gehad Hulle het soos professionele ryers gelyk en het selfs ‘n paar “burn outs” op die sand gedoen. Gelukkig het ek dit net op video gesien, want ek wil mos nog steeds die kinders in matrasse toedraai dat hul nie kan seerkry nie.
 
Dit is egter nie so maklik as jou oudste so ‘n adrenalienvraat soos myne is nie. Oor 2 maande is Nic 25 jaar oud, maar hy is nog steeds soos ‘n kind as dit by speelgoed kom – seker maar ‘n man-ding. As die weer mooi is en die branders speel saam, kry jy Nic in die golwe met sy branderplank en as die berge vol sneeu is, sal hy doer iewers naby die hoogste hange met sy “snowboard” wees. En vir tussenin-weer het hy nou ook ‘n oplossing gekry…’n skaatsplank. Die ene gaan nie so lekker saam met ‘n volwasse man nie, maar hy geniet dit. Kliek ‘n bietjie op hierdie link om te sien hoekom ek my asem so ophou: http://www.facebook.com/#!/video/video.php?v=481708806001&ref=mf
Nic is die ene met die swart jean aan.
 
Nic en Kerry is nog steeds bymekaar en het nou al die sewe sakke sout opgeëet, maar ons wag nog steeds geduldig vir die klokke om te lui. Hulle twee was van plan om aan die einde van die jaar hulle groot OE (overseas experience) te gaan doen, maar Kerry het sopas ‘n jaar kontrak by ‘n nuwe werk geteken waar sy sakke vol geld verdien en ook baie waardevolle ervaring opdoen vir werk later oorsee. Nic het self die laaste twee jaar ongelooflik gevorder in sy werk en hy probeer ook nou om soveel as moontlik kennis in te palm wat hy later weer kan gebruik. Hulle is albei in ‘n gelukkige posisie dat hulle vir Internasionale maatskappye werk en kan dalk oor ‘n jaar oorplasings na takke in Europa of die Ooste kry. Alles is goed solank hulle net terugkom voor die kleinkinders die lewenslig aanskou.
 
Die familie het intusssen uitgebrei. Sondagaande is al 8 stoele om die eetkamertafel byna beset. Dit lyk my asof Marco ook sy Groot Liefde ontmoet het….dit is nou as ek dit moet meet aan die hoeveelheid tyd wat hy by Rebekka se huis spandeer. Hulle tweetjies was saam op skool, maar het mekaar toe nie geken nie. Hulle is egter baie vinnig besig om verlore tyd in te haal. Rebekka is nog baie stil as sy hier kom en het ook al saam met die manne gaan kampeer toe ek in SA was. Sy studeer argitektuur en is baie ernstig oor haar studies…nog ‘n bonuspunt vir haar, want dan hou sy Marco ten minste uit die kwaad. Hulle twee is albei een-en-twintig hierdie jaar en vertrek die 30ste Desember op ‘n 10-dag bootrit na die “Pasific Islands”. Dit gaan ‘n Nuwejaars wees wat hulle seker vir altyd sal onthou.
 
Reghardt bly maar my alleenloper-seun, maar ek is eintlik vreeslik bly daaroor, want hy trek nooit ‘n skewegesig as jy ‘n ou koffietjie soek om te drink nie. Hy het ook geen probleem om kos te maak of die kombuis skoon te maak nie. Boonop hou hy van rondskuur, veral noudat hy ‘n nuwe motor gekoop het. Hy en Nic het nou albei stasiewaens – in NZ is dit ‘n jongman se motor, want jy kan jou hele hangkas en aardse besittings saam met jou rondry. Reghardt is dan sommer ook ons persoonlike chauffeur. Hy het verlede week $700 (R4000) in die Lotto gewen en nou is daar ‘n vreeslike gedoef-doef in die motor. Reghardt en Marco kry albei volgende jaar graad en dan sal die nes seker heeltemal leeg wees.
 
Noudat die seuns groot is en nie meer op ‘n mens se skoot klim en drukkies uitdeel nie, moet Engela maar haar knapie met my deel. Hy is die mooiste, dierbaarste en slimste seuntjie wat daar is. Ek het altyd gewonder of kleintjies dit baie verwarrend vind as hulle by die skool net Engels hoor en by die huis is alles weer in Afrikaans, maar Daniël het die onduidelikheid ook opgelos. Hy is maar 18 maande oud en doen presies wat jy vir hom sê, òf dit nou in Afrikaans òf in Engels is, hy verstaan vir jou. Pieter is Pietie en ek is Mei, maar die oulikste is dat hy homself Dan-Dan noem….NZ se tweede Dan Carter. Ons moet nou omtrent versigtig wees, want hy hoef net een keer ‘n woord te hoor en dan word dit deel van sy woordeskat.
 
Ek gaan nou foto’tjies van Pieter se nuwe speelding, die seuns en die vrouens in hul lewens en my blou-oogseuntjie byvoeg. Laat weet seblief as die foto’s te lank neem om deur te kom, dan doen ek dit nie weer so nie.
 
Nou gaan ek eers ‘n slapie vang voor ek die volgende hoofstuk kom skryf. Die GST het my nou gevang….
 
Ek is net nou weer terug.
 
Liefde
 
Anna-Maré

0 Comments:

Post a Comment

<< Home