Antjie Se Pen (subtitel van www.afrikakiwi.com)

Antjie se pen was die geboorte van my groot droom om eendag 'n boek of dalk twee te skryf. Een van my drie vereistes voor ek Nieu-Seeland toe gekom het, was dat daar van dag 1 af 'n rekenaar in die huis moet wees, want kommunikasie met die familie en vriende was uiters belangrik. Die dag dat ons voet op Kiwi bodem gesit het, het die eerste Nieu-Seeland nuusbrief die lig gesien... besoek ons webtuiste: www.afrikakiwi.com

Nuus van Down Under

Sondag – 4 Oktober 2009

 

1800

 

More Almal


ONTHOU OM OP DIE ONDERSTREEPTE BLOU DELE TE KLIEK.

 

Toe ons vir die derde oggend in ‘n ry, lank voor die alarm moet afgaan en nog stikdonker buite, wakker gemaak word deur die voëls, besef ek die somer is op pad. Ons vroegoggend-besoekers Saterdag bevestig die vermoede vir my. Met die ooptrek van ons slaapkamergordyne, kyk ek vas in die twee Eastern Rozellas wat ou stukke in die droë boom sit en gesels. Die Eastern Rozellas is ingevoer van Australië en in NZ kry jy hulle net in Auckland en Rotorua. Hulle is my gunsteling voëls hier in die tuin, maar sit ongelukkig nie lank genoeg op een plek dat jy hulle kan sit en bewonder nie. Hier is net vier van hulle in ons bostuin en ek hoop maar daar is hierdie jaar ‘n paar ekstra bont bekkies.

 

Verlede Sondag is ons weer lekker ingeloop met tyd. Ons moes Sondagoggend 2-uur ons horlosies ‘n uur aandraai. “Daylight saving” het begin, net nog ‘n teken dat die somer hier is, en al het die horlosie gesê dit is sewe-uur toe van ons moes opstaan vir werk, het ons liggame goed geweet dit is eintlik nog slaaptyd. So vir julle almal in SA wat so graag in die nag sms’e stuur, onthou ons is nou 11 ure voor julle. Ek kla nie regtig oor die boodskappies wat so alle ure van die nag inkom nie. Dit is lekker om te weet daar is nog baie van julle wat aan ons dink en ek hoop soms ook ‘n bietjie verlang.

 

Dit gaan soos altyd baie goed met die familie. Die enigste rede waarom ons nooit kla nie, is omdat NIEMAND mag kla nie. Ek is nou nie wat ‘n mens sal noem ‘n goeie Florence Nightingale nie. Wanneer iemand wel durf waag om siek te word, moet hy hoor: “Sê net vir jouself jy makeer niks”. Dit werk soos ‘n bom, want hoe positiewer jou gedagtes is, hoe gelukkiger en gesonder is jy. Dit werk in elk geval vir ons, behalwe natuurlik vir Marco wat baie siek was, een van ons dokter se ergste gevalle hierdie winter. Eers het Marco die gevreesde varkgriep gekry en in plaas daarvan om gesond te word, kry hy toe klierkoors ook. Die stresvlakke was maar baie hoog hier in die huis, want daar was take en toetse wat moes in, maar met so ‘n bietjie ekstra tyd, goedgunstelik geskenk deur die universiteit, het hy baie goeie jaarpunte met die eindeksamen drie weke om die draai.

 

Almal is soos gewoonlik baie besig met een of ander projek, hetsy werk of vir ons ontspanning. Pieter, seker die mees doelgerigte en vasberade persoon wat ek ken, doen sy eie “100-dag uitdaging”. Dit beteken 100 dae van oefening en nog erger 100 dae van gesond eet en Pieter se gesond-eet bestaan uit die Atkins-dieet. Daarvoor alleen verdien hy ‘n medalje, want ‘n ou stukkie brood is darem maar lekker. Vandag is dag 34 vir hom, amper halfpad. Gaan kyk ‘n bietjie op sy blog hoe hy vorder. Sy inskrywings is ook baie interessant. http://pieter100days.blogspot.com

 

Nog 2 weke voor my eksamen en vind ek elke dag baie dinge om te doen sodat ek net nie die boeke hoef oop te slaan nie. My verslawing aan al die ou TV-reekse help ook nie veel vir my studies nie, want elke aand is dit òf Grey’s Anatomy òf The OC. En so tussenin moet ek ook nog seker maak dat my boerdery op Facebook groei. Eintlik kan ek dit glad nie bekostig om so lyf weg te steek nie, want die klomp in my tweedejaarklas is dekades jonger as ek en wil ek nie hê hulle moet stof in die outannie se oë skop nie. Ons laaste 3-dag werkswinkel was fantasties, nie net was dit baie interessant en leersaam nie, maar ons het ook as groep hegte bande gesmee. Ek sal dus van Maandag af baie akademies moet raak as ek deel van die klas wil bly.

 

Kersfees het hierdie jaar baie vroeg vir my gekom. Kameras met lang lense wat ‘n mens so kan draai, het nog altyd my verbeelding aangegryp. Terwyl Pieter se sussie hier gekuier het, het ek heeltemal verlief geraak op haar kamera waar jy sommer die knoppie so kon inhou en dan gaan die kamera mal. Dit was seker die begeerte in my oë wat Pieter genoop het om vir my ‘n vroeë Kersgeskenk te koop. Ek kry deesdae baie geleentheid om met my nuwe speelding te speel, want ek is nou die amptelike fotograaf by die werk. My arme rekenaar steun en kreun onder al die foto’s wat ek so aflaai en die boekrak word al hoe voller met die foto-albums.

 

New Zealand het ook nou sy eie Scott Scott, alias Antjie alias Anna-Maré. Al ooit gehoor van “geocachet”? Ek ook nie totdat Johan een Sondag baie opgewonde vir Pieter vertel het hoe ‘n mens nou regoor die wêreld kan skattejag. Geocaching is a high-tech treasure hunting game played throughout the world by adventure seekers equipped with GPS devices. The basic idea is to locate hidden containers, called geocaches, outdoors and then share your experiences online. Geocaching is enjoyed by people from all age groups, with a strong sense of community and support for the environment. Pieter het dadelik die webblad platgetrek, alles daaroor opgelees en die volgende Sondag het ek ons eerste twee skatte ontdek. Ek was eers nie baie lus vir hierdie rondklouter en klim agter blikkies en botteltjies vol allerhande goetertjies nie, want dit het nes oefening vir my geklink. Toe ons egter eers begin soek en plekke sommer so naby ons huis ontdek wat ons nie eens geweet het, bestaan nie, het die eerste gogga gebyt. Pieter geniet die oplees oor die verskillende plekke baie, maar is baie minder entoesiasties as hy sy hande oral moet insteek om die skat uit te haal. Hy krap net so bolangs en buk ook nie graag nie. Gelukkig gee ek nie om om my hande vuil te kry nie en daarom is ek ook die ontdekker van al ons skatte sover. Eintlik maak ons twee ‘n baie goeie span. Gaan krap ‘n bietjie rond op www.geocaching.com en kyk net hoeveel skatte is daar sommer so naby jou huis.

 

Anders as Moedersdag, val ons Vadersdag nie saam met Suid-Afrika s’n nie. Ek weet die Aussies en ons bederf almal vir Pa die tweede Sondag in September. Hierdie jaar het Pieter sommer ‘n lekker groot bederf gehad. Hy is mos glad nie skaam om te sê wat hy vir ‘n geskenk wil hê nie, want hy is bang hy sal iets kry wat iewers in ‘n laai gaan lê en vergaan. Nie net kry hy toe waarvoor hy gevra het nie, maar het Nic ook vir ons ‘n fantastiese Vadersdagontbyt by een van die restaurante in ons waterfront bespreek. Daar was jong, nuwe pappas, pappas met tieners en oupas saam met hul kinders en kleinkinders. Die restaurant het geleef. Die borde was monsteragtig groot en gevul van rand tot rand met die heerlikste disse. Dit is ook die eerste eetplek wat ek raakloop waar daar lewer op die spyskaart is…Njammies vir my, grillerig vir die res van die familie. Agterna was ons verplig om eers in die waterfront tussen al die bote rond te drentel sodat ons om al die kilojoules kan afskud. Ek floreer op familiedae

 

En die Ouma-koors het nog nie gewyk nie. Inteendeel dit het nou nog erger geword. So drie weke gelede het Gerrie en Santjie en hul drie dogtertjies vir die naweek kom kuier en het dit my sommer ver terug in die verlede geneem… toe die seuns nog baie klein was en ons vakansies na ouma en oupa in George gegaan het vir die groot bederf. Ek het douvoordag saam met die kleintjies opgestaan, ontbyt gegee, tekenprente gekyk, na hul pypies gedans en dit sommer net geniet. Intussen kon pappa en mamma vir ‘n slag lekker inslaap… net soos toe ek by my ma en pa gaan kuier het.

 

En dan maak Daniël dit ook nie makliker om minder broeis te wees nie. Hy is die mooiste ou seuntjie wat ons almal om sy pinkie draai. Pieter “deps” die stootwaentjie as daar in die park geloop word, Marco gryp eerste die bottel as dit eettyd is en ons ander staan ry om hom te troetel. Ek het selfs kleinkinders op my Kersfeeslys gesit, maar Nic sê dit is ‘n bietjie kort kennisgewing. Eintlik het hy my nou al mooi laat verstaan ek moet maar vir my my eie kinders aanneem as ek dan so graag babatjies in die huis wil hê, want hy en Kerry het nog eers baie ander toekomsplanne.

 

My staanplek by die KKNK op Oudtshoorn is bespreek en betaal. Staanplek 73 by Hoërskool Oudtshoorn het my en Karin se naam op. Nou begin die vakansie al werklik voel.

 

En ja, baie geluk aan al die Springbokondersteuners met die Drienasie-oorwinning. Ek is darem nou al oor die ergste hartseer. Die arme sukkelende Black Caps het my darem weer ‘n bietjie hoop gegee.

 

Groete uit ‘n nat en winterkoud Nieu-Seeland

 

Anna-Maré

0 Comments:

Post a Comment

<< Home