Antjie Se Pen (subtitel van www.afrikakiwi.com)

Antjie se pen was die geboorte van my groot droom om eendag 'n boek of dalk twee te skryf. Een van my drie vereistes voor ek Nieu-Seeland toe gekom het, was dat daar van dag 1 af 'n rekenaar in die huis moet wees, want kommunikasie met die familie en vriende was uiters belangrik. Die dag dat ons voet op Kiwi bodem gesit het, het die eerste Nieu-Seeland nuusbrief die lig gesien... besoek ons webtuiste: www.afrikakiwi.com

Mense wat my lewe aanraak

Saterdag – 11 April 2009
 
1800
 
More Almal
 
Die dood van ‘n goeie e-pos-buddie, ‘n groot siel wat my lewe aangeraak het, het my baie laat dink…
 
Die mense op my e-poslys is soos passassiers saam met my op ‘n reis, hetsy ‘n trein, ‘n boot of  ‘n vliegtuig. In 2001 begin ek my reis die onbekende in met ‘n oorvol passassierslys. “Moenie kontak verloor nie.” “Skryf vir ons.” “Moet ons nie vergeet nie.” Dit is maar ‘n paar van die laaste afskeidswoorde.
 
In 2009 staan ek terug en kyk na die mense wat in die 8 jaar saam met my op reis was. Sommige het nog voor die eerste halte afgeklim; ander het darem nog by so ‘n paar stilhouplekke bly sit. Die groot hartseer is dat die meeste van die wat nie meer langer deel van die reis wou wees nie, familie en baie goeie vriende was. Van sommige was daar van  die begin af nooit ‘n “hallo en hoe gaan dit met julle?”  nie en ander het na ‘n eerste kort briefie ook net doodstil geraak. Uit die oog, uit die hart…
 
Ander het weer nie gehou van die manier waarop ek skryf nie en het sommer so in die ry afgespring. Dankie tog…
 
Maar soos mense afklim, is daar ook altyd diegene wat langs die pad opklim. Dit is juis baie van hierdie mense wat my lewe op besonderse wyses aangeraak het. Byna die helfte van my epos-buddies het ek nog nooit ontmoet nie. Hulle het my sommer so langs die pad òf by mense op my e-poslys òf Antjie se pen raakgelees. Vandag is hulle dan ook die mense wat ‘n pad saam met my stap. Ek huil op hul skouers as die lewe druk, ek vra hulle om te bid as die pad duister lyk, ek gesels en baklei rugby met hulle, ek doen my vliegtuigbesprekings deur hulle, ons ruil notas uit oor immigrasie, ek kuier sommer net lekker op die internet met hulle. Byna almal vreemdelinge wat ek graag eendag sal wil ontmoet.
 
Een van hulle was Peter Beets. Toe my nood in April 2004 op sy hoogste was, kom hy in my lewe. Ek sit en slaap en skakel nie my SA-rybewys binne die eerste jaar oor na ‘n Kiwi-lisensie nie. Die klomp Kiwi’s wil toe hê ek moet die hele proses van leerlinglisensie tot beperkte lisensie tot vol-lisensie deurgaan, ‘n hele 2-jaar gedoente. Ek Google Peter Beets raak. Hy is ‘n hoge persoon daar by die Wes-Kaapse Departement van Vervoer en binne ‘n paar dae stuur hy vir my vorms uit die Kaap op sy eie onkoste. Twee dae later het ek ‘n geldige Kiwi-lisensie en so word ons twee hegte e-pos-maaikies. Ek ken later sy hele familie tot by Adam se kant en hy myne. Sy briewe lees soos ‘n storie en die meeste van die tyd skree ek soos ek lag, want hy mag maar stories vertel.
 
Sy e-posse word toe almal in ‘n aparte plekkie op die rekenaar gebêre, net ingeval ek hulle eendag in my boek wil gebruik. En toe skielik word hy stil en ek bekommerd. Na baie oproepe spoor ek hom op. Hy is met kanker gediagnoseer. Hy word nooit beter nie, maar hy hou ook nooit op met glo dat hy weer gesond sal word nie. Die belangrikste, hy hou nooit op met skryf nie. Selfs wanneer sy briewe aan my terugbons, gee hy nie op nie. Dan kommunikeer hy met my via my groot Aussie-vriend, wat hy deur my leer ken het en wat hom ook gaan opsoek het toe hy in SA was.
 
Peter Beets was nog in die fleur van sy lewe toe hy die stryd teen die siekte wat hom opgevreet het, verloor. Drie weke voor die Here hom kom haal, is sy vrou saggies in haar slaap langs hom oorlede. Peter Beets het die Here geken, hy het vir sy familie geleef, hy was bemind onder almal wat sy pad gekruis het, hy was ‘n meester met die pen en bowenal het hy tyd vir almal in sy lewe gemaak.
 
Ek sou graag al sy briewe met julle wou deel, maar dit is te veel. Hier is so ‘n paar uittreksels wat vir my baie spesiaal is:
 
Dit was ‘n dierbare ene:
 
Theresa verjaar more en ek moet nog ietsie moois vir my ou wyf gaan soek.  Hoop maar ek kry iets.  Sy kan nie meer winkels toe gaan nie na so twee beroertes en nou moet ek klere koop.  Ek verkondig darem so uit die staanspoor kliphard, sodat almal in die winkel kan hoor, dat ek die klere nie vir myself koop nie (vrees altyd iemand dink ek is 'n cross-dresser).  Gelukkig is Theresa kort en mollig (ek stel dit maar sagkens) en haar saais is gelukkig groter en korter as myne.  Dankbaar vir hierdie tipe van redding.
 
 
Sy humorsin het geen gelyke nie:
 
My Ma is toe om 01:39 op Dinsdagnag / Woensdagoggend 12 Oktober oorlede.  Ek glo ek het jou seker vertel dat sy baie siek was.  Ons het haar toe Vrydag 14 Oktober by haar ma in Pretoria begrawe.  Was maar 'n baie treurige dag vir my broer en my vier susters, maar ek glo ons sal bo uitkom as dinge eers bedaar het.  My Ma se testament lui dat haar aardse besittings deur haar ses kinders in gelyke dele geerf moet word.  Maar se jy nou vir my - as jy dan nie juis iets het nie, hoe deel jy dit dan op?  My susters se dogters het heerlik geshop tussen al die poeiertjies, lipstiffies, laventeltjies en sulke goedjies.  Volgens die hoeveelhede wat daar was, was Ma van plan gewees om 160 jaar of ouer te word en altyd opgetof te wees.  Glo dit of nie - wat maak mens met 41 pare skoene, 29 waslappe (alles nuut) en elf vlieeslaners - laasgenoemde nogals merkwaardig omdat sy in so eenman woonstelletjie gebly het tussen 'n klomp ander ou tannies.  Ek het die vlieeplakke huis toe gebring - seker op een of ander uitverkoping gekoop, want die bandjie wat die goedjies bymekaar gehou het, was ook nog daar - twelve for the price of one - tipiese Suid-Afrikaanse koeliewinkel.  Ek is so dankbaar vir die feit dat al ses van ons darem iets in die lewe bereik het en dat sy haar nie oor enige een van ons hoef te geskaam het nie.

 
 
Sy laaste brief aan my:
 
My vriendinn daar in die verte, stuur groete vir jou man en jou bulle en
onthou dak ek julle nie sommer net so sal vergeet nie.  Mens gryp nie
net die griffel vir so paar jaar en vergeet die res sommer net so nie.
Mens onthou, stuur groete en probeer om in kontak te bly.  Met die rugby
wat eersdaags weer begin, kan ons gerus weer vir vriend Kevin nader trek
en sewe soorte hartseer uit hom uit irriteer met die vieringe van ons
souperieure (vieslike verkeerdgeselde stuk anglisisme, maar tog te
lekker) spanne se gereelde oorwinnings.  Mag ons drie hierdie jaar baie
rede tot groot vreugde kan belewe met ons spanne se oorwinnings.  Mooi
bly en baie liefde hier uit die Kaap aan julle groepie Kiwi's.
 
Gods rykste seen.

 
 
Peter Beets het my lewe verryk en dit was ‘n voorreg om hom op my e-poslys te hê.
 
Groete
 
Anna-Maré

 

 

 

 

 

 

 

 

0 Comments:

Post a Comment

<< Home