NZ-nuus 2009
Vrydag – 10 April 2009
1800
More Almal
Verlede Saterdagoggend 6-uur het ons swaar afskeid geneem van my ouers wat byna 6 weke by ons gekuier het. Dit was so vreeslik lekker om hulle hier te hê. Nou is dit weer terug tot die werklikheid en kan ek deel 2 van my vorige nuusbrief voltooi voor ek ‘n aksiegelaaide vakansiebrief skryf.
Net soos met die aanbreek van elke nuwe jaar, was daar weer die gewone doelwitte en ideale gestel vir 2009. Hierdie jaar is die Lotto en Weight Watchers nie op ons lysie nie – net ‘n gesonde leefstyl sal voldoende wees. Daarom skop ons dan ook die nuwe jaar op die regte manier af en soek ons die 1ste Januarie Wenderholm Park se vars lug, blou waters en boomryke piekniekplekke op. Johan sleep sy boot saam en die manne vaar die see in om al die klein eilandjies te gaan verken. Met die klein Beukessie wat die eerste week in April sy verskyning moes maak, is die rubberboot nie die gemaklikste plek vir Engela nie en kuier ons lekker onder die bome met ons storieboeke. Dit het Engela egter nie gekeer om later vir ‘n hele uur saam met Marco met die kajakke op die rivier uit te gaan nie. ‘n Mens het mos darem ook ‘n bietjie vitamien D nodig as jy gesond wil wees.
2009 is ‘n groot jaar vir ons…Ons tel die dae af na Oupa en Ouma se Goue Bruilof-kuiertjie in Februarie, Marco gaan Amerika toe, Reghardt word 21, Nic verlaat die nes, die kinders gaan ‘n “boetie” ryker word en die uwe word ‘n halfeeu oud. So tussenin moet ons nog die baas ook gelukkig hou, veral Pieter, want hy is die ene wat sy hand diep in sy sak moet steek vir baie van hierdie gebeurlikhede. Toe sy werk hom dus Sydney toe stuur vir 2 weke, moes hy maar klim. Gelukkig is hul verblyf altyd luuks en is daar ook genoeg tyd vir ontspanning en word Pieter se Sydney-besoek ‘n werksvakansie. Hy besoek die Opera-huis, ‘n voëlpark en dan sy gunsteling, Sydney se akwarium, waar daar selfs sekere tye van die dag mooi meerminne saam met met die visse swem - ‘n lekker studentewerkie. Twee naweke na Paasnaweek is dit al weer Sydney-tyd.
Ons almal het alreeds ‘n paar sportgeleenthede geïdentifiseer waaraan ons graag hierdie jaar wil gaan deelneem. Een van hulle was die Cathy Pacific Halfmaraton waaraan Pieter en Nic gaan deelneem het. Ek en Kerry het absoluut net in die fotograaf- en ondersteuningsrol saamgegaan. Ons sal later vanjaar genoeg geleentheid kry om ons eie ding te gaan doen. Die twee was maar lekker vodde toe hulle by die eindpunt aankom. Die jonger lede van die familie het seker besef Pa en Ma is ernstig oor hulle Nuwejaarsvoornemens en het ook by ons gym gaan aansluit. Nou hou ons sommer ons familie-saamtrekke so tussen die oefenfietse, roeimasjiene en “tread mills”.
Nic en Kerry het na ‘n verhouding van 6 jaar besluit om te kyk of hulle onder een dak sal kan saambly. Baie mense vra my of ek dink hulle gaan trou. Die antwoord is ‘n besliste Ja, maar net nie nou al nie. Hulle beplan om nog vir ten minste 2 jaar in London te gaan werk en was dit nie vir die skielike ressessie nie, was hulle die einde van die jaar al op pad. Hulle sal weet wanneer hulle reg is vir die Groot Stap, maar intussen ondersteun ons hulle in hul besluit. Gelukkig woon hulle nie te ver van die huis af nie en sien ons hulle gereeld, veral as daar lekker kos op die spyskaart is.
Reghardt is oor 2 weke 21. Anders as Nic, wil hy nie ‘n groot uithangpartytjie hê nie. Hy is tevrede met ‘n intieme familie-ete en sal eerder die geld neem…slim kind! Marco weet nog nie presies waar in Amerika hy geplaas is vir ‘n Summer Camp nie, maar behoort binnekort uit te vind, want hy vlieg einde Mei. Hy weet hy mag nie sy hart op ‘n Yankee gaan verloor nie.
Die afskeid Saterdagoggend is baie makliker gemaak met my geskenk wat ek vir my groot 50 gaan kry - ‘n vliegtuigkaartjie Suid-Afrika toe en natuurlik is dit so gereël dat dit saam met die KKNK val. Daar gaan geen groot makietie gehou word op die Oujaar nie, want elke sent gaan saam Kunstefees toe waar ek die hele week net van tent tot tent wil kuier. Ek het alreeds vroeër in die week die KKNK se program vir 2009 bestudeer, net om solank gees te begin vang.
O ja, julle wonder seker oor die kinders se boetie wat op pad is. Nee, die dae van wonderwerke is verby…Die kinders was vreeslik opgewonde toe Engela swanger word en het heeltyd na hom as hul boetie verwys. Klein Daniël Beukes het toe gisteroggend, die 9de April, sy verskyning in die wêreld gemaak. Met besoektyd wat hier strek van 1-uur in die middag tot 8-uur saans, het ek al die afgelope twee dae lekker popgespeel. Kerry is ook elke keer saam, want sy koer ook net so lekker soos ek. Selfs Pieter het vanmiddag die mannetjie vasgehou.
Ons kon Sondagoggend so ‘n uurtjie langer slaap. Saterdagnag 2-uur is die horlosies weer almal ‘n uurtjie teruggedraai, want “daylight saving” het tot ‘n einde gekom. Net so het my 6-weke vakansie ook tot ‘n einde gekom en was ek Maandagoggend weer terug in die tuig. Ek het gevoel soos iemand wat vir die eerste keer skool toe is.
‘n Geseënde Paasfees vir julle almal.
Groete
Anna-Maré

0 Comments:
Post a Comment
<< Home