Antjie Se Pen (subtitel van www.afrikakiwi.com)

Antjie se pen was die geboorte van my groot droom om eendag 'n boek of dalk twee te skryf. Een van my drie vereistes voor ek Nieu-Seeland toe gekom het, was dat daar van dag 1 af 'n rekenaar in die huis moet wees, want kommunikasie met die familie en vriende was uiters belangrik. Die dag dat ons voet op Kiwi bodem gesit het, het die eerste Nieu-Seeland nuusbrief die lig gesien... besoek ons webtuiste: www.afrikakiwi.com

Deel 1: NZ-nuus

Vrydag – 3 Augustus 2007
 
20H00
 
Deel 1
 
Goeiemore
 
Miskien moet ek eers my hoed ingooi om te sien of ek nog welkom is…..dit is al meer as drie maande dat ek laas ‘n algemene nuusbriefie gestuur het.
 
In hierdie tyd was daar soveel opwinding in ons almal se lewe dat ek maar weer in hoofstukke sal moet skryf. Gelukkig is dit naweek en kan ek dus vanaand my vervolgverhaal klaarmaak.
 
Dit is koud en nat soos dit net op hierdie eiland kan raak in die winter, maar ons kla nie, want almal is gesond en rond (party meer as die ander). Verlede winter het die kaggel oortyd gewerk, maar hierdie jaar het ons ‘n gasverwarmer en “mink” komberse ontdek  -  minder moeite. Hout is boonop vrekduur omdat dit so skaars is. So hier stook ons nie groot vure as daar vleisgebraai word nie. Dit is òf gas òf sommer so ‘n paar stukkies Namchar daar van die SA-winkel.
 
Dit gaan baie goed met die driemanskap  -  hulle haal nou al amper met mekaar se longe asem. Dit doen ‘n moederhart goed om te sien hoe dik die bloed in hulle are vloei. Die nadeel nou is natuurlik dat hulle so saamstaan as een in die moeilikheid is dat ek altyd aan die verloorkant is. Ek kan nie glo dat 2007 se Kersfees ons laaste voltallige familiefees vir ‘n baie lang ruk gaan wees nie. Nic en Kerry beplan nog steeds om volgende jaar na gradeplegtigheid vir ‘n jaar of twee Londen toe te gaan  -  die pond is mos sterk en Europa net ‘n klipgooi ver.
 
Hulle twee het die afgelope vakansie vir Kerry se ouers in Australië gaan kuier. Op pad Gladstone toe het hulle ‘n paar dae in Brisbane deurgebring. My Aussieboer-vriend en ook Nic se rugby-meneer in SA het hom oor hulle ontferm en hulle sommer al die eerste aand voorgestel aan Brisvegas se naglewe. Nic het die drie weke in Oz baie geniet, maar het besluit dit is nie die plek waar hy eendag sal wil woon nie. Sy NZ-wortels is te diep. Kliek op blou onderstreepte skakels hierbo vir foto’s.
 
Nog net drie maande en dan het ek en Pieter nie meer kinders op skool nie. Marco se laaste skoolkwartaal het uiteindelik aangebreek. Dit is nogal ontstellend as jy nooit skoolboeke sien rondlê nie. Ek sien hy en Nic bespreek sy vakkeuse vir volgende jaar, wat beteken hy beplan darem om universiteitstoelating te kry. Net soos Reghardt is hy gekys met die rekenaar en weet jy nie eens van hulle bestaan nie. So op hierdie stadium het Kerry geen kompetisie in die huis nie. Reghardt kla maar dat sy vakke moeilik is. Dit beteken maar net dat hy ekstra hard sal moet leer, want hy weet dit waarmee jy begin, moet jy klaarmaak. Hy koop nou ons motor, want ons het ‘n nuwe ryding aangeskaf sodat daar ook plek vir ons fietse is. So dalk sal hy en Marco nou ook ‘n bietjie meer uitgaan.
 
En dan ons vierbeen-kind, Pikes, vernoem na my pa. Ons moes vir ‘n hele week pap en droë brood eet, want die veearts het ons hele kosbegroting laat kantel nadat Pikes weer die hele buurt se katte die stryd aangesê het. Hy het soos ‘n Chinees gelyk nadat die ander katte met hom klaar was  -  eintlik skrefie-oë gehad as gevolg van die infeksie in sy wonde. Al is hy amptelik my kat, is Kerry sy gunsteling  -  seker maar omdat hulle dieselfde kleur hare het. Waar sy sit of staan of lê, is hy. Hy het die hele eksamen op haar boeke deurgebring. Kliek hier vir ware liefde.
 
Pieter besluit toe ‘n mens kan nie in Nieu-Seeland woon en nie ‘n kampeerder wees nie. So daar koop ons toe ‘n tent en ‘n dubbelbed-opblaasmatras wat net-net in die tent pas. Die eerste geleentheid wat toe opduik vir tentopslaan, is die Rotorua Maraton. Ongelukkig trek die byeenkoms net soveel reën as deelnemers en val die watertjies die eerste nag harder op die seil as op ‘n sinkdak. Aanvanklik was ek in ekstase daaroor, maar toe ek in die middel van die nag wakker word omdat die bed nou heelwat laer as vroeër die aand is en daar toe weer gepomp moet word – met bittermin staanplek in die tent -  is kampeer ook nie meer lekker nie. Ek het toe alklaar ander planne in my kop en terwyl Pieter die volgende oggend 42 km te voet rondom Lake Rotorua aflê, gradeer ek ons tentstaanplek op tot ‘n warm huisie met ‘n regte dubbelbed. Intussen het ek uitgevind dat ‘n “backpacker”-hostel ’n baie beter opsie as ‘n tent is. Ek vertel in my volgende briefie ‘n paar “backpacker”-stories.
 
Die Rotorua Maraton is een van die strafste internasionale padwedlope en die ongure weer het dit nie makliker vir die hardlopers gemaak nie. Pieter was gaar toe hy by die eindstreep aankom. Sy eerste woorde was: “Nooit weer nie.” Die volgende oggend was die ergste eina egter vergete en het hy klaar ‘n nuwe doelwit vir die volgende Rotorua Maraton gestel  -  baie soos iemand wat nou net gekraam het. Kliek hier vir ons Rotorua-ondervinding.
 
Ek is nou al vier maande by my nuwe werk en dit gaan sommer baie goed. Die eerste maand het ek harde klippe gekou met die moeilike tweede-in-bevel. Sy het my so ‘n lewe gelei dat hulle haar moes “demote”. Na ‘n 8-weke lange Dale Carnegie-kursus (How to win friends and influence people) wat ek en sy bygewoon het, is ons nou groot vriende en werk baie goed saam. Sy is terug in die leierspan as een van my drie opsieners. Ek wil eers weer ‘n bietjie my eie beuel blaas… aan die einde van die kursus het ek die “ highest award for achievement” gekry. Dit beteken ek het uitgestaan as ‘n leier  -  lekkerrr windgat! Kliek hier vir die kursusfoto.
 
Ek en die res van die span het sommer van die begin af gekliek. Ek is mos mal oor die “coconuts” en die meeste van die meisies in die deli kom van die Cook Eilande af. My verwelkomingpartytjie was ‘n groot fees. Na ‘n ete in die Sky Tower het ons in die Waterfront (Viaduct) gaan rondloop op soek na musiek en beland toe by Cowboys. Ek het lanklaas gesien dat ‘n klomp vrouens soveel pret kan hê sonder dat enige een ‘n sopie gehad het. Hulle behoort omtrent almal aan die Mormoon Geloof en drink glad nie. Kliek hier om saam partytjie te hou.
 
Groete tot netnou
 
Anna-Maré

0 Comments:

Post a Comment

<< Home