Antjie Se Pen (subtitel van www.afrikakiwi.com)

Antjie se pen was die geboorte van my groot droom om eendag 'n boek of dalk twee te skryf. Een van my drie vereistes voor ek Nieu-Seeland toe gekom het, was dat daar van dag 1 af 'n rekenaar in die huis moet wees, want kommunikasie met die familie en vriende was uiters belangrik. Die dag dat ons voet op Kiwi bodem gesit het, het die eerste Nieu-Seeland nuusbrief die lig gesien... besoek ons webtuiste: www.afrikakiwi.com

Deel 2: NZ-vakansie

Vrydag – 3 Augustus 2007

 

20H00

 

Deel 2

 

Terug met die poeding…

 

KKNK 2006 was tot Junie 2007 my beste “memoirs”, maar nou is daar kompetisie. My onlangse vakansie saam met my Aussie-vriend, saam met wie ek ook in Somerset-Wes skoolgehou het, het sommer 25 jaar van my ouderdom weggeneem.

 

Voordat Kevin kom kuier het, het hy altyd met minagting na NZ verwys as Oz se “squatter camp”. Deesdae word daar gepraat van Australië se “township”  - ons is nou so een trappie op met die leer. Die land se natuurskoon en die Kiwi’s se vriendelikheid het vir ons bonuspunte besorg.

 

Die aand voor ek Kevin by die lughawe moes gaan haal, bel ek vir Nic wat by hom kuier en hy waarsku my toe: “ Ma, meneer De Goede het vir jou ‘n verrassing op die lughawe.” Ek het sommer geweet dit is iets met ‘n rugby-kleurtjie, want as dit by die rugby kom, is ons aartsvyande. So wag ek hom toe in op die lughawe met my All Black-trui en ‘n klomp swart balonne, maar toe hy deur daardie deur gestap kom, is hy my alweer een voor. So ‘n spektakel het ek lanklaas in my lewe gesien  -  Springbok-beanie, WP-sweetpak, Springbok-jas EN GUMBOOTS!!

 

Die eerste week en ‘n half het ons die Auckland-omgewing verken: NZ se swart (sand) strand besoek, ‘n toer deur die bierbrouery ( met baie bier by die laaste punt ), die Auckland-museum waar ons ‘n Maori-kultuurvertoning bygewoon het en Kevin se hart amper warm begin klop het vir een van ons Maori skoonhede en dan die Viaduct waar ons die All Black vs Aussie stryd gaan kyk het. Met sy goudgeel Aussie-rugbytrui aan het Kevin alreeds soos ‘n seer vinger tussen al die hordes Kiwi’s in die volgepakte Sport Pub uitgestaan, maar toe staan hy nog boonop op en sing “Advance Australian Fair “ uit volle bors. Hy het natuurlik groot toejuiging daarvoor gekry en baie bewondering van die dames wat sê geen Kiwi-man het soveel moed om dit te doen nie. Onnodig om te sê, was daar EEN baie gelukkige man toe daai eindfluitjie blaas. Gelukkig was daar geen suurgat AB-ondersteuner nie en het die mense hom kom gelukwens. Hy was soos ‘n “celebrity”. Daarna het ons tot die vroeë oggendure by Cowboys gekuier waar die meeste vrouens met wie hy ‘n geselsie aangeknoop het sommer dadelik vir hom gesê:”But you are South African and we don’t like South Africans.” Ons is glo ‘n bietjie te arrogant.

 

Die laaste 10 dae van ons vakansie het ons suidwaarts getoer met alle oë gerig op Jade Stadion in Christchurch. Pieter het die eerste drie dae saam met ons gekuier en daarna teruggekeer Auckland toe. Ek wou seker maak Kevin verander sy opinie oor hierdie plakkerskamp en daarom het ons voluit vir die toeriste ding gegaan. Rotorua (Rotten Egg Town) was dus ‘n groot moet op die roete. Daar het ons “luges” gery (kaskarre sonder wiele teen die berg af); ‘n “sheep show” gaan bywoon – ek het nooit geweet ‘n mens kry soveel verskillende skape nie en dan natuurlik kan jy nie Rotorua besoek sonder om na die borrelende modderpoele en Thermal Wonderland te gaan kyk nie,

 

Kevin kon nie wag om een van NZ se helderblou riviere wat altyd in al die toerisme brosjures is, te sien nie. Dink nie hy het geglo die riviere is regtig so blou nie. Hy het selfs sover gegaan om te sê hy spring kaalbas in die eerste een wat hy sien. By ons volgende stilhouplek was dit sulke tyd. Gelukkig vir hom was dit die Waikato-rivier wat met ‘n gedruis oor die Huka Valle stort. Die Huka Waterval is nie eens so groot nie, maar die helderblou kleur van die water wat daar neerstort, maak dit so besonders.

 

Ons het ook ‘n nag in Ohakune deurgebring waar ons gedurende die dag na die Turoa ski-oord is. Ongelukkig was daar nie soveel sneeu soos verlede jaar nie, maar nog genoeg om lekker koud te kry. Ons het die ski’s maar vir die eksperts gelos en ons by die laer hellings bepaal met ons toboggens. Wellington was volgende op die roete en is eenparig verkies as NZ se lelikste stad  -  boonop moes ons twee dae daar verwyl. Dalk was dit maar omdat dit sulke regte Wellington-weer was  -  wind, koue, reën, storms. Dit het ons egter nie saans binne gehou nie en die eerste aand is ons na ‘n Mardi Gras, waar ons twee die enigste persone was wat omtrent dubbel die ander mense daar se ouderdom was. Dit het ons egter nie daarvan weerhou om saam te kuier tot lank na middernag nie. Daar het Kevin toe ook besluit maak nie saak hoe lelik Wellington is nie, NZ se mooiste vrouens woon daar.

 

Ons Interislander-rit die volgende oggend oor Cook Strait was baie rof. Ek kan nou nog nie glo dat so ‘n groot boot so erg kan skommel in 2-meter hoë branders nie. Blykbaar kan ek dankbaar wees dit was nie 8 of selfs 10 meter hoë deinings nie, want dit gebeur glo soms. Na meer as 4 ure op die water het ons uiteindelik voet aan wal op die Suid-Eiland gesit. Nou het Christchurch nog 5 ure ver gelê, maar dit het ons in ‘n japtrap afgelê  -  en net stilgehou vir die polisieman wat vir ons ‘n kaartjie vir oortreding van die spoedgrens uitgeskryf het.

 

Die briefie word nou te lank. Lewe in ‘n “backpacker”-hostel, rugby in Christchurch en ontmoetings met die All Blacks en Springbokke, verdien ‘n briefie op sy eie.

Tot netnou

 

Anna-Maré

0 Comments:

Post a Comment

<< Home