Antjie Se Pen (subtitel van www.afrikakiwi.com)

Antjie se pen was die geboorte van my groot droom om eendag 'n boek of dalk twee te skryf. Een van my drie vereistes voor ek Nieu-Seeland toe gekom het, was dat daar van dag 1 af 'n rekenaar in die huis moet wees, want kommunikasie met die familie en vriende was uiters belangrik. Die dag dat ons voet op Kiwi bodem gesit het, het die eerste Nieu-Seeland nuusbrief die lig gesien... besoek ons webtuiste: www.afrikakiwi.com

Goeie nuus

More Almal
 
Maandagoggend het net soos enige ander Bloumaandag begin... besig en nogmaals besig. Ek en Pieter het daarom besluit dat ek hom na werk in die stad sal kry en dan eers 'n bietjie gaan uit-"chill" met 'n koffietjie by Engela-hulle.
 
Kwart-oor-drie die middag is daar 'n kliënt om my te sien. Ek stap toe uit met een van daardie opgeplakte professionele glimlagte, want na 9 ure is my eie een al opgeglimlag. Daar staan Kerry toe met 'n ou by haar. Ek groet haar, loer na die ou wat in my seun se slaai krap en "smile" toe weer met haar. Iets omtrent die ou lyk toe so bekend dat ek weer na hom kyk...net om in daardie helder blou oë vas te kyk wat net aan een seun kan behoort!
 
Ek het daardie klomp meters om die toonbank vinniger afgelê as Bryan Habana met 'n rugbybal en sover ek gehardloop het, het ek gejil. Voor almal wat wou kyk en gekyk het, het ek die kind opgesoen. Hy moes eers Donderdagoggend hier land, maar het al maande gelede besluit om ons vroeër te kom verras. Hy het Sondag met Kerry gereël dat sy Maandag 1-uur by ons huis is, want hy wil haar bel. Hy het toe Maandagoggend 'n bus vanaf die lughawe gehaal tot in die stad en vandaar weer 'n volgende bus tot in Orewa. Toe sy dus 12-uur natgesweet van die Gym af by die huis instap, sit en wag hy haar in. So van die kind se planne om haar op te dollie vir die lughawe het daar toe niks gekom nie.
 
Marco en Reghardt het albei net met sulke groot oë gestaar. Nic was nog meer verras toe hy hulle sien, want nie net het hulle 'n hele paar sentimeters by hulle lengte gevoeg terwyl hy weg was nie, maar die Gym het ook vir hulle 'n bietjie skouers gegee. Ek dink dit is die skielike verliefdheid waarmee hulle twee gepla is wat hulle so laat uitsit het. Nog voor die einde van die jaar sit ek met 6 kinders by die huis, want Marco het reeds gevra of hy maar die naweek sy vriendinnetjie mag huis toe bring.
 
Nic en Kerry is toe saam om vir Pieter te gaan haal. Hy het Nic 'n paar keer vasgegryp en gedruk om seker te maak hy is terug.
 
Nic lyk soos iemand wat van 'n tropiese vakansie af kom, bruingebrand en ontspanne. Hy borrel oor van sy ervaring daar en het pakke foto's saamgebring  -  elke foto het sy eie storie om te vertel.
 
Nou het Nic 4 maande oor voor die universiteit weer begin en begin hy Dinsdag weer by sy vorige werk arbei. Hy jeuk nou om 'n ander voertuig te koop en hoop om sy eie motor aan Reghardt te verkoop. Reghardt het vir hom twee groot geel leerlingbestuurder-tekens gekoop en nou bestuur hy Nic se motor met sy broer langs hom om 'n ogie te hou.
 
Wou net graag ons goeie nuus met almal deel.
 
Lekker naweek vir almal.
 
Liefde
 
Anna-Maré

Lentegroete uit NZ

Vrydag  -  2 September 2005

 

13H00

 

Goeiemore

 

Net so vaal en nat soos dit hier in Kiwiland kan wees as dit reën, net so onbeskryflik mooi is ‘n lentedag hier op die eiland. Vandag behoort al wat leef en beef buite te wees. Ek beplan om self nou-nou op Orewa se laaaaang strand te gaan stap.

 

Volgende Vrydag kan julle maar almal in ons vreugde deel. Nic land Donderdag na ‘n 4-maande besoek aan Amerika. Kerry het ons almal mooi in duidelike terme laat verstaan sy gaan alleen lughawe toe. Gelukkig is ons enige skoondogter se droom en val gehoorsaam by haar planne in. Ons was mos self nie te lank gelede ook nog jonk nie. Pieter is Donderdag by die huis en ek Vrydag  -  so ons het genoeg tyd om in te haal.

 

Nic het verlede Sondag uit Los Angeles gebel en vir byna 2 ure met ons gesels. Die kamp het so 3 weke gelede tot ‘n einde gekom en het hy nog vir ‘n week daar in Indianopolis gekuier om al die goeie vriende wat hy by die kamp gemaak het, te groet. Ek hoop nie dit sluit ‘n gebroke hart ook in nie. Ek moes ‘n hele sak vol NZ-aandenkings pos wat hy daar kon agterlaat sodat hy nie te gou vergete raak nie. Daarna het hy en twee Pommies verder getoer. Hulle is eers San Francisco toe. Hy is in ekstase oor die plek, maar sê darem in dieselfde asem dit is nie Nieu-Seeland nie  -  ‘n kind so na my hart. Hulle drie bly nou in ‘n Backpackers in een van LA se areas waar die enigste wit gesigte die van die mense in die Backpackers is. Dit is egter goed ingerig, daar is ‘n swembad en ‘n goedkoop restaurant en hulle sorg maar net dat hulle saans voor donker terug is. Hy het ‘n regte adrenalien-vraat geraak en hulle boer op al wat “ roller coaster “ is   -  hoe hoër hoe beter. Sy volgende vakansie is glo Australië toe om te gaan “ roller coaster “ ry.

 

Ek weet nie wie van Pieter of Kerry die meeste opgewonde is oor Nic se terugkoms nie. Sodra Nic terug is, begin sy en Pieter se duikkursus en dan is dit of Great Barrier Reef toe of die Cook Eilande. Dit is baie belangrik vir Pieter om die kinders so lank as moontlik aan sy broekspante vas te hou, daarom die gemeenskaplike belangstellings. Marco het so ‘n jaar gelede skielik ywerig die Gym begin besoek en nou het dit oorgespoel na nog een van Pieter se groot liefdes  -  hardloop. Soggens 6-uur vat Marco en een van sy vriende die pad en is hulle hard aan die oefen vir hulle eerste 10km-wedloop. Pieter gaan saam, maar hy gaan die halfmaraton doen. Ek sit en tel die jare af dat die kinders nou die nes moet verlaat dat ek my vlerke kan sprei, maar Pieter beplan om saam met hulle oud te word in een huis.

 

Laat ek nou maar eerlik wees... ek het glad nie verlede Saterdagaand rugby gekyk nie, altans nie die hele wedstryd nie. Ek het hier bo by die rekenaar kom sit en besluit ek sal na die heruitsending kyk ( net as my span wen ), want my hart en senuwees kan die spanning nie hanteer nie. Ek is 'n verskriklike swak verloorder.

 

Gewoonlik bevind ek my net in All Black-geselskap as ek rugby kyk, maar met Basie hier by ons, is daar nou 'n vurige Sprinbok-ondersteuner in die huis. So dit maak 'n verloor nog soveel erger. Pieter het gewerk en Basie en Kerry het mekaar toe maar die stryd aangesê en het ek eintlik presies geweet wat daar onder aangaan  -  ek hoef net te geluister het wie se beurt dit is om te gil.

 

Nou moet ek nog meer bieg. My SA-Aussie-vriend daar in Brisbane het eendag vertel hoe hy, toe nog ‘n laerskool kannetjie, langs die veld gesit en bid het dat die Bokke moet wen en toe is dit ook so. Saterdagaand besluit ek toe dit is al wat nou oorbly en sê ek toe maar vir Liewe Jesus ek weet nou nie eintlik of die All Blacks ooit bid nie, maar vanaand bid ek nou sommer namens al 15 van hulle. En toe is ek gereed om ook my sitplek te gaan inneem. Die res is geskiedenis. Ek het dit nie self gesien nie, maar ek hoor Kevin Mealamu het self toe hy sy drie gedruk het ‘n dankie-sê gebedjie gedoen. Ek weet julle skree almal more-aand vir die Aussies en ek kan daarmee saamleef. Die Aussies veg mos tot die einde en kan dalk more-aand ‘n hele paar Boereharte gelukkig maak.

 

Wat die nuwe Haka betref… ek dink dit is “awesome“, maak nie saak wat die res van die wêreld daarvan sê nie. Vir diegene wat ook dink ons is ‘n bietjie aan die wrede kant en sny deesdae mense se kele af, stuur ek hierdie stukkie uit die NZ Herald en ook ‘n vertaling van die nuwe Haka:

 

 A throat-cutting gesture at the end of a fierce new All Black haka symbolises the cutting edge of sport and not the slaughter of opponents, says the haka's composer. Explaining the gesture, composer and haka expert Derek Lardelli said: "Playing rugby at this level, with this intensity, is the cutting edge of sport.

"The players are on the knife edge. They are gladiators in the arena. If they win they are heroes, if they lose they are taken apart."

Mr Lardelli urged understanding of the throat-cutting gesture - performed with particular feeling by halfback Piri Weepu.

He said it was symbolic of the intensity of first-class rugby, and the consequences of defeat. They talked of the black jersey and the silver fern, their relationship with the land. I thought that was all marvellous."

 WHAT THE HAKA SAYS

Kapa o pango kia whakawhenua au i ahau!
Let me become one with the land
Hi aue, hi!
Ko Aotearoa e ngunguru nei!

This is our land that rumbles
Au, au, aue ha!

And it's my time! It's my moment!
Ko Kapa o Pango e ngunguru nei!

This defines us as the All Blacks
Au, au, aue ha!

It's my time! It's my moment!
I ahaha!
Ka tu te ihiihi

Our dominance
Ka tu te wanawana

Our supremacy will triumph
Ki runga ki te rangi e tu iho nei,
tu iho nei, hi!

And will be placed on high
Ponga ra!

Silver fern!
Kapa o Pango, aue hi!

All Blacks!
Ponga ra!

Silver fern!
Kapa o Pango, aue hi, ha!

All Blacks!

 

Die seuns het gister hulle vakke vir volgende jaar geregistreer en het ek weer iets nuuts geleer. Jy het ‘n sekere aantal krediete nodig vir universiteitstoelating. Reghardt wil seker maak hy het maksimum punte vir toelating en het toe ingeskryf vir “ extension subjects “. Wiskunde en Fisika is sy gunsteling vakke en hy het toe op hulle besluit as sy “ extension subjects “.  Volgende jaar doen hy dus vir die een helfte van die jaar ekstra Wiskunde en die ander ses maande ekstra Fisika. Dit klink vir my maar deurmekaar, maar dit is glo hoe dit werk.

 

Reghardt het toe uiteindelik begin met sy bestuurslesse by ‘n bestuurskool. Ons het nie een kans gesien om hom te leer nie. Sy instrukteur is so ‘n stokou omie wat glo al voorheen ‘n hartaanval gehad het. Die eerste les het glo maar beroerd gegaan, want hy het blykbaar om die eerste draai byna ‘n paar bome saam met hom geneem. Die omie se hart het dit darem oorleef en al wat hy glo sê as Reghardt so droogmaak, is “You are evil.“ Dit kos Reghardt $ 47 elke keer as hy agter daardie stuurwiel inklim. So ons hoop nou maar dit dien as motivering om so gou as moontlik sy lisensie te kry.

 

Die natuur is darem onvoorspelbaar. Nie net is ons nartjies nog groen nie, maar hierdie jaar is ons nartjie-oes maar baie skraps. Verlede jaar het die boom gekreun onder al die nartjies en het ons die hele buurt en hulle familie en vriende voorsien van heerlike soet en pitlose nartjies en nou het ons skaars genoeg vir die huis. Die omie wat die groentetuin versorg, sit gereeld so ‘n vars koolkoppie of wat ook al uit die tuin kom voor die deur neer.

 

My besoek aan Palmerston North was omtrent ‘n ervaring. Die ouens by die werk het my opgekommandeer om met my motor tot by die lughawe te ry, want ons was nie verniet op pad na ‘n voedsel- en WYNfees nie. Ons het met so ‘n ou klein vliegtuigie, net 40 sitplekke, gevlieg. Jy sit maar opmekaar en kry net so ‘n plastiek glasie met water om te drink. Met die terugkomslag was die ouens goed geolie  en het hulle eie “ verversings “ op die vliegtuig geneem..Die vorige week het ons mos op Mt Ruapehu gaan ski en dit was ‘n groot verrassing toe die berg skielik hier uit die lug uit voor my opdoem. Ek kon toe ‘n mooi lugfoto neem van die plek waar ons die vorige week ons lewens op die ys gaan waag het. Die fees self was ‘n groot geëet en drink en het ek baie van die kosbedryf kon leer. Die ouens het so een keer ‘n rondte gedoen en toe by die biertent gaan parkeer vanwaar ek 45 minute voor ons vlug vertrek het, gesukkel het om hulle in ‘n taxi te kry. Toe wou hulle net kuier. Ek moes hulle natuurlik almal by hulle huise gaan aflaai  -  seker die dat hulle my saam fees toe gesleep het.

 

Ons is almal baie opgewonde, want Pieter het ‘n nuwe posisie in sy maatskappy gekry. Dit beteken groter uitdaging vir hom en geen skofte meer nie. Al sy harde studies werp nou vrugte af en sy ervaring van webbladontwerp het hom ook ‘n goeie hupstootjie gegee. Hierdie Sondag is Vadersdag in NZ, maar omdat ons almal werk en Nic ook nog nie by die huis is nie, sal ons maar Vadersdag en sy nuwe pos later gaan vier.

 

Lentegroete uit NZ

 

Anna-Maré