Antjie Se Pen (subtitel van www.afrikakiwi.com)

Antjie se pen was die geboorte van my groot droom om eendag 'n boek of dalk twee te skryf. Een van my drie vereistes voor ek Nieu-Seeland toe gekom het, was dat daar van dag 1 af 'n rekenaar in die huis moet wees, want kommunikasie met die familie en vriende was uiters belangrik. Die dag dat ons voet op Kiwi bodem gesit het, het die eerste Nieu-Seeland nuusbrief die lig gesien... besoek ons webtuiste: www.afrikakiwi.com

Nuus uit NZ en foto's

Saterdag – 11Augustus 2012

1400

 

Hallo Almal

 

Vandat Facebook byna elke huis in die wêreld oorgeneem het, het my NZ-nuusbriewe ook nie meer ‘n nut nie. ‘n Nog groter nagevolg is dat ek nou nog stadiger tik as tevore, want met Facebook is die eenlynboodskappies genoeg dat mense weet hoe dit gaan. Ek kry dus geen tikoefening meer nie, so my tikspoed is nou nog stadiger as in standerd sewe toe ek net 24% vir Tik gekry het.

 

Hierdie briefie is meer vir die mense wat nie op Facebook kuier nie….13 maande sedert ek laas ‘n bietjie nuus hier uit NZ gestuur het…..en BAIE dinge het intussen gebeur.

 

 “NZ Hangover Boys Only”-groep se kuier in September en Oktober verlede jaar vir die Wêreldrugbybeker was definitief een van 2011 se hoogtepunte…dit is nou behalwe vir daardie Goue Koppie wat hier by ons staan. “More is nog ‘n dag” het nie vir ons bestaan nie…elke dag is daar gekuier asof dit die laaste dag is. Die rugbykoors wat hier geheers het, het ‘n mens net eenvoudig ingesuig. Ek was gelukkig om ses wedstryde hier in Auckland op Edenpark en North Harbour Stadion te gaan kyk. Die ander groot wedstryde het ons òf iewers in ‘n “pub” òf in die Waterfront gaan kyk. Op een van die foto’s wat ek aangeheg het, is ek en Pieter op pad Waterfront toe saam met die Hangover Boys om NZ teen Frankryk te gaan kyk.

 

Die res van 2011 het ons om gekampeer. Daar was die lang en stylvol kampe wanneer die groot tent en al die geriewe saam karwei is en dan was daar die kort oornagkampe met net ‘n “pop-up” tentjie, matras, ketel en leeslampie. Ons het selfs een naweek by Waiouru, NZ se militêre basis, in stormweer kampeer….en dit met die klein tentjie. Daar was ‘n “quadbike” en “dirt bike” saamtrek vir 800 mans en so ongeveer 20 vrouens waarvan ek een was. Behalwe vir die sneeu op die berg en die reën, moes ek tevrede wees met weermagkos, ‘n yskoue opslaanstort en ‘n “long drop”. Dit was so hittete of Pieter en Philip se vierwielfietse het weggespoel toe hulle tydens die byeenkoms ‘n rivier oorsteek. Dit lyk asof Pieter se fiets binnekort te koop gaan wees…hy hang nou sy fietrystewels op.

 

2011 het ook minder goeie nuus gebring. Beide ons moeders is met kanker gediagnoseer in September. Pieter se ma se lyding was vinnig oor en in November is sy oorlede aan longkanker. My ma het borskanker en haar een bors en al die kliere onder die arm is dadelik verwyder. Sy was baie gelukkig, want die kanker het nie verder versprei nie. Daar was later ander komplikasies wat veroorsaak het dat sy byna haar been verloor het, maar sy is dit ook gespaar.

 

Dit is een van die min kere dat immigrasie sy negatiewe kant wys…….wanneer ‘n mens so ver van jou ouers is as hulle jou einlik nodig het. 2012 was nie in die kaarte vir ‘n besoek aan SA nie. Ek was besig om al my geld en verlof te spaar om 2013 Suid-Afrika toe te vlieg vir my pa se 80ste verjaarsdag, maar toe besluit ons dat al wat my ma nodig het, is ‘n kuiertjie van my om haar weer op te beur. Ek het dus einde Mei net ‘n vinnige inloer in Suid-Afrika gemaak. Al was die besoek net 2 weke lank, het ek 4 weke se kuier ingewerk. Ek het die hele 2 weke in George by my ouers deurgebring. Tussen my jarelange George-vriende en my broer en ander vriende van ver wat die pad George toe aangepak het, het ek ‘n onvergeetlike vakansie gehad. Ek is moeër terug huis toe en weet nou nog nie wie het meer gesprankel na die vakansie nie….ek of my ma. As alles goed uitwerk, is ek weer einde Maart of begin April in Suid-Afrika om die dansbaan met my pa te open.

 

Tyd staan nie stil nie en ‘n mens se kinders word al hoe groter. Ons huis is leeg en ek SUKKEl om aan te pas. Ek het leë-nes-sindroom........

 

Marco en Reghardt is albei klaar met universiteit, maar nou moet ek net eers weer die storietjie vertel. Toe ons so 11 jaar gelede hier in NZ aangeland het, het so baie mense van hul “partners” gepraat dat ek eendag vir Pieter gesê het maar almal hier het dan ‘n besigheid. Dit is toe dat ek uitvind dat dit eintlik soort van ‘n ander besigheid is. ‘n “parner” is jou saambly-maat.

 

Nou wel, Marco het ook ‘n besigheid en hy en sy vennoot woon so 15 minute se ry van ons af. Hy en Rebecca het vir hulle ‘n vreeslike oulike plekkie gekry waar hulle huisie-huisie speel. Die twee is nou al 2 jaar saam en is heel gelukkig. Ek is seker sodra Marco die werk kry wat meer betaal as wat hy nou kry, hou ons troue….nog voor Nic. Rebecca het argitektuur studeer en werk vir ‘n argitekmaatskappy. Sy is baie kunstig en ek trek al die voordeel daaruit. Sy het vir my ‘n skildery van Aucklandstad wat uit 5 panele bestaan,geverf. (Sien foto van my voorportaal).

 

Intussen het Nic se “partner” se status verander. Kerry is nou Nic se verloofde. Hy het uiteindelik na 9 jaar die ja-woord gevra. Hy en Kerry was in die Bahamas as deel van sy werk toe hy genoeg moed vir die groot vraag bymekaar geskraap het. Nic was verkies as NZ se verteenwoordiger vir sy werk by ‘n Wêreldsaamtrek van HP (Hewlett Packard). Dit was meer ‘n vakansie as werk, want hulle moes net saans funksies bywoon. Ons was bekommerd dat ons nog ‘n 9 jaar sou moes wag vir ‘n troue, maar dit klink darem asof ons volgende jaar Oktober of November ‘n troue in Nieu-Seeland gaan hê.

 

Reghardt het by die Vloot aangesluit as ‘n Elektroniese Ingenieur. Dit beteken nie dat hy sommer net op ‘n boot kon klim en knoppies begin druk nie. Hy moes drie maande basiese opleiding doen soos ons eertydse SA-soldate in die weermag. Hy klaar volgende Vrydag uit, dan is dit ‘n week verlof en weer terug Vlootbasis toe vir ‘n jaar se Elektroniese Opleiding voor hulle op die vlootskepe uitgeplaas word. Hy geniet dit vreeslik en het my stoutste verwagtinge oortref…ek het maar baie asem opgehou vir sommige van die fisiese opleiding waardeur hy is, maar vir hom was dit geen probleem nie.

 

Terwyl ek in Suid-Afrika was, het Pieter met die hulp van die seuns en twee meisiekinders in ons eerste eie huis ingetrek. Na 11 jaar in NZ, het ons uiteindelik huis gekoop. Ons het altyd gesê ons sal huiskoop die dag as al die kinders uit die huis is, want dan kan ons ‘n klein plekkie koop…minder om skoon te maak.  Wel, nou met troues in die vooruitsig, moes ons iets koop waar klein voetjies kan rondhardloop. So ons sit met iets groter as wat ons wou hê, maar ‘n lekker leef-huis. Pieter kla elke dag oor al my kakkertjies wat die plek vol staan, maar ek leef lekker so tussen al my boeke en foto’s. Ek heg ‘n foto van die vooraansig aan, maar het baie foto’s van die huis op my Facebook-blad.

 

Ek kan nou nie meer langer my kop in die grond soos ‘n volstruis steek nie. Nic en Kerry verlaat die 31ste Augustus Nieu-Seeland bodem om hulle groot Oorsese Ervaring(OE) te gaan doen. Hulle beplan om vir 4 maande te toer – 3 maande in Suid-Asië en ‘n maand in Suid-Afrika. Dit sal Nic se eerste besoek aan SA wees sedert ons geïmmigreer het. Daarna gaan hulle Hong Kong toe vir ‘n jaar of twee om te gaan werk. Terwyl hulle daar is, wil hulle ook Europa gaan toer. Gelukkig is Nic vasbeslote dat hulle kinders eendag gebore-Kiwi’s sal wees en dit is ‘n groot troos vir my…ten minste kom hulle terug.

 

Dit gaan goed met Pieter. Hy is nog by dieselfde maatskappy. Sy span word al hoe groter en dit hou hom besig. Hy vlieg gereeld Wellington toe vir werk. Ek weet nie of dit die ouderdom is nie, maar hy weet nie meer hoe die binnekant van ‘n gim lyk nie, sy padfiets se wiele is al meer as ‘n jaar pap en sy tekkies ken nie van ‘n teerpad nie. …dit is Pieter in ‘n neutedop.

 

En met my gaan dit goed….

 

Baie liefde

 

Anna-Maré

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

1 Comments:

  • At Tuesday, January 13, 2015 8:18:00 pm, Anonymous Qposter said…

    It is a great pleasure going through your site because I love your every post. That's why I have bookmarked your site to check out new stuff from you. Thanks for sharing ...

     

Post a Comment

<< Home