Antjie Se Pen (subtitel van www.afrikakiwi.com)

Antjie se pen was die geboorte van my groot droom om eendag 'n boek of dalk twee te skryf. Een van my drie vereistes voor ek Nieu-Seeland toe gekom het, was dat daar van dag 1 af 'n rekenaar in die huis moet wees, want kommunikasie met die familie en vriende was uiters belangrik. Die dag dat ons voet op Kiwi bodem gesit het, het die eerste Nieu-Seeland nuusbrief die lig gesien... besoek ons webtuiste: www.afrikakiwi.com

Weer 'n slag nuus uit NZ

Sondag -  16 Oktober 2005

 

22H00

 

More

 

Gedink ek het julle al van my e-poslyssie afgehaal? Die versoeking word soms groot om dit te doen as daar vir dae‘n groot droogte aan e-posse is. Gelukkig is daar ‘n handjievol getroue “ maaikies “ wat dan weer opmaak vir die stilswye met hulle lekker geselsbriefies. Onthou net al woon ons baie gelukkig hier aan die anderkant van die aardbol, beteken dit nie ons verlang nie soms na julle nie. Laat die nuus inrol….

 

As dit nie was vir die perskeboom wat vol bloeisels is nie, sou ek kon glo dat ons in die hartjie van die winter is. Ons bibber nou wel nie meer van die koue nie, maar dit sous nog omtrent elke tweede dag. Gelukkig is ek ‘n wintermens en kla ek nie te veel oor die Kaapse reën nie. Die ski-oorde glimlag almal oor die uitgerekte winter, want hulle het almal ‘n kort ski-seisoen in die oë gestaar totdat ons so drie weke gelede lekker dik sneeu-neerlae op die regte plekke gehad het. Nou kan al die ski-liefhebbers die nuwe jaar ski-ski ingaan.

 

Saans 7-uur sit die son nog hoog by ons, want in werklikheid is dit nog 6-uur. Die eerste Sondag in Oktober het ons die horlosies weer ‘n uur vorentoe gedraai sodat ons ‘n bietjie daglig kan spaar. Vir die miniatuur groepie mense wat soms ‘n sms stuur, onthou ons is nou 11 ure voor julle in Suid-Afrika en slaap meestal wanneer julle arbei. Ek het natuurlik skoon vergeet van “ daylight saving “ en kom toe ‘n hele uur laat vir werk. Die gevolg is dat terwyl al die departemente in die winkel toe al slaggereed vir  die eerste klante is, die Deli nog in donkerte gehul is. Gelukkig het almal dit baie snaaks gevind en handjie gegee dat ek ook teen oopmaaktyd gereed kon wees.

 

Nic het toe bruingebrand, met 16 spoele se foto’s en nagte se stories, uit Amerika opgedaag. Ons het behoorlik die eerste week aan sy lippe gehang. Vyftien van hulle kampleiers is een oggend gearresteer, aangekla en elkeen met US$ 500 beboet. Hulle het “ cliff jumping “ gedoen in ‘n verbode terrein waar daar glo meer as genoeg waarskuwingsborde was. Gelukkig was een van die meisies in die groep se pa ‘n staatsaanklaer en kon hy sy dogter en Nic se bas red. Hulle twee het toe skotvry daarvan afgekom. Die kamp was vir hom ‘n wonderlike ervaring en ek is seker as hy nie volgende jaar moes terug universiteit toe nie, het hy 2006 se Summer Camp ook gaan bywoon. Hy het baie goeie vriende agtergelaat, maar wil nie sê of daar enige harte gebreek is nie. As ek al die boodskappies wat vir hom op die NZ-vlag geskryf is so lees, klink dit of daar ‘n paar baie hegte vriendskappe gesluit is. Hy het so ‘n week vakansie geneem nadat hy teruggekom het en is toe weer terug na sy deeltydse werk by die houtfabriek tot Februarie wanneer die universiteit begin.

 

Ons skool het weer hierdie week begin. Marco en Reghardt het die grootste gedeelte van hulle vakansie aan hulle bankbalans gewerk. As hulle nie by New World was nie, het hulle voor die rekenaars gekuier. Op ‘n stadium het hulle altwee so gelykertyd rooi hakskene met al die gepaardgaande nukke gehad. Gelukkig het dit vinnig oorgewaai. Nou is dit weer net kop laag hou oor die boeke, want oor ses weke is nog ‘n skooljaar daarmee heen. Reghardt het nou besluit hy wil in 2006 Meganiese of Elektroniese Ingenieurswese by Auckland Universiteit gaan studeer. Hy gaan volgende jaar klippe kou in matriek, want die keuring is baie streng.

 

Wat Reghardt se bestuurslesse betref   -  daar sal nog baie water in die see moet loop voor ek my lewe by hom in ‘n motor waag. Hy het nou al heelwat lesse by die bestuurskool gehad, maar kort nog baie selfvertroue en ervaring. Hy konsentreer so om ratte te wissel dat hy kort-kort aan die verkeerde kant van die pad is. Ons wou hê hy moes maar eers op 'n outomatiese motor leer bestuur, maar Nic wil niks weet nie. Sy broer is glo nie 'n sissie nie en sal op 'n ratkar leer ry. Nou het hy hom oor Reghardt ontferm en waag hy dit saam met sy broer op die pad. Ek sit dan met gespitste ore en luister tot hulle by die huis is. Reghardt is soms maar baie deur die blare.

 

Marco het nou ‘n regte fiksheidsfanatikus geword. Die middae dat hy nie werk nie, vind jy hom in die “gym” en dan is sy gô gewoonlik nog nie uit nie, want daaarna gaan hy gewoonlik draf. Hy het nou in baie duur hardloopskoene belê en beplan om iewers in November sy eerste 10km-wedloop te gaan hardloop.

 

Ons het ook nou eerstehands kennisgemaak met die soort lewe wat die “ celebrities “ soms lei. Marco het twee “ stalkers “ wat hom oral volg waar hy gaan. Dit het so twee weke gelede begin met ‘n motor wat hier vanaf 10-uur in die aand op en af verby die huis jaag terwyl daar na Marco geroep word. Vrydagaand parkeer die motor toe in ons oprit en word daar op die toeter gelê. Toe ons uiteindelik buitentoe gaan, trek die motor teen ‘n hoë spoed weg. Saterdagaand 10-uur wag Marco se twee “ stalkers “ toe buite New World vir hom en volg hom al die pad tot by die huis. Hy het toe die twee meisies met die polisie gedreig, maar dit het nie veel gehelp nie, want toe hy Sondag uit die fliek kom, is hulle weer daar.

 

Nic en Pieter het gisteraand hulle eerste duikles gehad en kon nie ophou praat toe hulle by die huis kom nie. Dit was nog maar net ‘n swembadduik sodat hulle gewoond kan raak aan die gasbottels en al die ander duiktoerusting. Oor drie weke gaan hulle uit oopsee toe en dan is dit die Ware Jakob.

 

Nieu-Seeland se verkiesingsuitslae het hierdie jaar ‘n Al Gore – George Bush verloop geneem. Vanaf die oomblik dat die eerste uitslae bekend geraak het, was dit duidelik dat dit ‘n naelbytstryd gaan wees. Vyf ure na die stembusse gesluit het, was tannie Helen voorlopig weer aan bewind met net een setel meer as die opposisie. Die spesiale stemme moes nog getel raak en sy sou eers twee weke later weet of sy vir ‘n derde termyn die Ystervrou van NZ sou wees. Die finale uitslae  -  vir die volgende drie jaar swaai Helen Clark en die Arbeiders Party weer die septer in die land met ‘n baie sterk opposisie wat in haar nek blaas.

 

Dit gaan baie goed by die werk… so goed dat ek nou al besoek van baie ervare deli-bestuurders kry wat kom kyk hoe ek my afdeling bestuur. Nou blaas ek darem lekker my eie beuel. Kersfees het gister baie vroeg vir my aangebreek in die vorm van ‘n baie goeie salarisverhoging. Met die petrolprys wat die laaste maande so baie gestyg het, kom die ekstra geld nou baie handig te pas.

 

Hierdie naweek is Labour Weekend in NZ en kan Pieter en die seuns Maandag lekker sleg-lê by die huis. Die uwe moet egter Maandag al douvoordag begin werk, want dit is een van ons besigste naweke van die jaar. Dit beteken egter nie dat daar nie iewers vir my ook ‘n bietjie plesier is nie. Engela verjaar Vrydag en om dit te vier gaan ons klomp met die ferry oor na Waiheke Eiland wat bekend is vir sy pragtige klein strandjies en wynplase.

 

Ons het intussen weer ‘n slag ons foto-album op ons webblad opdateer. Daar is oulike foto’s van Nic se Summer Camp, Reghardt se matriekafskeid, ons ski-naweek en ‘n hele klompie “ fun photos “ wat die moeite werd is om te gaan kyk.  Die res van die webblad sal ons binnekort opdateer met nuwe interessante inligting. Daar sal ook onder andere ‘n staaltjie oor Dippies, so ‘n verlore Afrikaanse siel hier in NZ, wees.

 

www.afrikakiwi.com

 

 Volgende week is dit ons Black Caps teen Suid-Afrika se Blommetjies. Ek gaan geen voorspellings maak nie, maar onthou die name Vettori en Bond. Ons is tans derde op die Wêreldranglys vir eendagwedstryde…

 

Kiwi-groete

 

Anna-Maré en Kie

 

Ns. Onthou my antjie@paradise.net.nz bestaan nie meer nie. Skryf seblief vir my by antjie@afrikakiwi.com