NZ-nuus Deel 2
Saterdag – 19 Augustus 2006
21H00
Ek het nie meer naels oor nie. Nou net die rugby klaar gekyk. Die Aussies het alles probeer om van McCaw ontslae te raak en met die hulp van die Suid-Afrikaanse TMO kon hulle ‘n goeie telling op die telbord gesit. Maar ek gaan niks anders sê as “You can’t keep a good man ( and team ) down” nie.
Ek is vreeslik bekommerd oor die kinders - hulle tree buite hulle gewone aard op. Hier hang ‘n akademiese atmosfeer in die huis – ‘n rare verskynsel vir ons. Nic kom net uit sy kamer om te eet, verder sit hy geboë oor die werkstukke wat ingehandig moet word. Hy hoef gelukkig nêrens heen te ry om te gaan opsit nie, want Hatton Road 40 is ook Kerry se gunsteling studieplek. Verder lê die plek gesaai met brosjures van verskillende universiteite. Reghardt se skoolloopbaan kom oor 3 maande tot ‘n einde en nou moet hy ‘n universiteit kies waar hy Ingenieurswese
Die seuns kom seker iets oor as hulle moet weet ek skryf so oor hulle privaatlewens. Ons het mos ons eie Bold and Beautiful-sepie hier in die huis gehad. Marco se Eerste Liefde het die kys gebreek omdat hy te veel tyd in die Gym spandeer en te min aandag aan haar bestee. Hy het die afsêery baie goed hanteer totdat Reghardt skielik baie aandag aan die eks-meisie begin gee en daar uitgeëet en gefliek word. Die twee was al baie groot maats toe sy nog Marco se meisie was. Hier het so ‘n koue luggie getrek met Nic aan Marco se kant, wat reken dit is taboe om jou broer se gewese meisie oor te neem en Pieter wat sê die jagveld is oop en Reghardt mag maar jag. Ek het maar ‘n blinde oog en dowe oor gegooi en neutraal gebly. Die ergste stof het darem nou al gaan lê.
Net soos by die meeste maatskappye en werksplekke in Nieu-Seeland, is daar ook by Gen-I, waar Pieter werk, ‘n menigte verskillende nasionaliteite werksaam. Pieter-hulle het so ‘n rukkie gelede ‘n kultuurdag by hulle werk gehad waar mense kos wat eie aan hulle land en kultuur is, werk toe kon neem. Hulle kon ook “opdress” vir die geleentheid. Die Indiërs trek volgens Pieter die mooiste aan - hy was omtrent beïndruk met hulle kleur-en stylvolle drag. Hy was natuurlik soos ‘n tipiese Kiwi aangetrek - in All Black-klere.
Voedsel-en Wynfeeste is op die oomblik in oorvloed. Die baas sorg dat ek kaartjies vir al wat fees is, kry, want sodoende bly sy Deli een van die voorstes in die groep. Ons Deli is hierdie maand 5de uit 44 ander New World Deli’s op die ranglys geplaas. Dit is glad nie sleg as dit in ag geneem word dat die 4 deli’s wat voor my is, almal dubbel so groot soos ons is nie - dit is nou fyn “brag”. Ek het Engela saam met my na een van die Voedelfeeste gesleep en ons was trommeldik na al die gepeusel aan al die nuwe produkte op die mark. Daar was selfs ‘n Amarulla-stalletjie waar ons ook ‘n Heuningwyn kon proe – nogal lekker, maar vreksterk. Ek en my “coconut”-vriende het ook ‘n Ope Aand by een van die groot verskaffers bygewoon. Dit was omtrent ‘n fees. Ons is met sakke vol likeur huis toe, want as jy van ‘n winkel afkomstig was, kon jy alles teen kosprys koop. Ek geniet regtig my werk vreeslik baie.
Aan die oefenkant gaan dit minder goed. Pieter was die afgelope week baie siek met ‘n maagvirus en toe was dit sommer ook ‘n goeie verskoning vir my om niks te doen nie. Van more-aand af sal ek weer moet gaan drafstap dat die sweet tap, want die Auckland Maraton kom nou vinnig nader en ek en Engela gaan mos die kwart-maraton ( klink baie beter as om te sê 10km ) doen. Marco beplan ook om te gaan deelneem en oefen self baie hard.
Sedert ons potjiekospot so drie jaar gelede ‘n blombak geword het - dit is al waarvoor hulle goed is as hulle begin roes – moet ons maar op ons vriende staatmaak om so nou en dan te pot. Ons was hierdie maand gelukkig om sommer twee keer om die swartpot te kuier. Ons het die aand van die tweede Bledisloe-wedstryd lekker by Hennie en Mari gepotjie, rugby gekyk en ook lekker popgespeel met Lea. Ek wil deesdae net sagte speelgoed en babaklere koop - dink ek word nou al ouma-broeis. Verlede naweek was daar sommer so ‘n lekker groot SA-saamtrek by Ryno-hulle - gelukkig was sy pot groot genoeg om al die honger mae te voed.
‘n Hele tydjie gelede het een van my e-pos vriende na ons immigrante verwys as Suid-Afrika se uitvoerprodukte. Sommige uitvoerprodukte is van hoë gehalte en dan is daar ongelukkig ook die paar wat eintlik in die uitgooi-boks moes beland het, maar deurgeglip het.. Ek het gedink dit is nogal goed bewoord.
Baie groete
‘n SA-uitvoerproduk