Dinsdag – 11 Julie 2006
22H00
More-sê
A White Christmas… in die middel van die winter …
Daar is vir weke opgewonde uitgesien na hierdie sneeu-naweek. “Thermals”, “beanies” en handskoene was op almal se inkopielys, want dit is nie verniet NZ se koudste winter in 14 jaar nie. Na verlede jaar se heerlike ski-naweek by Whakapapa, was dit ‘n absolute moet dat die kinders ook hierdie jaar in die sneeu gaan baljaar.
Ons het Vrydagoggend 5-uur in die pad geval met die melktrein of altans so het dit gevoel, want die rit wat normaalweg 5 ure duur, het ons in 8 ure afgelê. ‘n Plek moes nes ‘n goeie “draai-loop-plek” lyk, dan is daar stilgehou. Skaars ‘n uur op die pad en toe moes daar koffie gedrink word. Dit is toe dat ek die skokkende ontdekking maak. My beursie met ons bankkaarte en kontant is net weg. Gelukkige het ons kinders sakke vol geld en swaai ons toe maar die hele naweek Nic se kaart.
Dit het nou al instelling geword dat as ons suid reis, daar eers in Otorohanga, NZ se kiwiana-dorpie, ontbyt genuttig moet word. Na ‘n heerlike ontbyt en minder lekker cappuchino, moes daar eers foto’s by die Maori-beelde geneem word. Ek is mos mal oor Kodak-oomblikke, solank ek net nie voor die kamera hoef te wees nie. ‘n Uur later het Pieter begin glo dat hierdie naweekuitstappie “gejinx” is, want ons ry die afrit na Mt Ruapehu mis en gaan draai byna by die kus om.
Toe ons einde ten laaste by die berg aankom, is Whakapapa-skiveld toe - te veel sneeu op die pad. Dit het ons egter nie verhoed om sommer daar langs die pad saam met die ander hordes aspirant-skiërs in die sneeu te speel nie. Dit was die seuns se eerste kennismaking met die wit vlokkies en sommer gou was daar ‘n sneeugeveg.
Ons het in Ohakune, Nieu-Seeland se “Carrot Capital” tuisgegaan. Ohakune lê aan die voet van Mt Ruapehu en is net ‘n klipgooi van die ander ski-oord, Turoa. Aangekom by ons motel waar ons ‘n 4-slaapkamer chalet gehuur het, wag daar nog ‘n skok op my. Almal help vinnig afpak sodat ons nog ‘n groot deel van die namiddag kan benut om Turoa te gaan verken. Gewapen teen die koue daar buite, wag almal net vir my, want ek soek nog na my tas, wat nêrens te vinde is nie. Dié het agtergebly in ons motor in Auckland toe ons oorgepak het na Johan se 4WD. Ek het toe maar die naweek in die seuns en Pieter se tasse gekuier en het toe ‘n goeie rede gehad om ‘n paar nuwe onder-kledingstukkies te kry.
‘n Sprokieswêreld. ‘n Wit Kersfees ( jy het enige oomblik ‘n takbok iewers verwag ). Sneeu en nogmaals sneeu, hoe hoër ons teen die berg uit is. Die berg was ongelukkig gesluit vir ski-aktiwiteite, maar dit het nie die kinders gekeer nie. Daar is geduik in die sagte sneeu, sneeugevegte is gevoer en natuurlik moes daar ‘n sneeuman gebou word(nog ‘n foto).Ons het omtrent gesukkel om die kinders daar weg te kry, selfs toe dit liggies begin reën, was hulle nog dapper genoeg om in die sneeu rond te rol.
Toe die ski-veld Saterdagoggend oopmaak, was die kinders op hulle pos vir hulle eerste ski-les wat twee ure geduur het. Volgens hulle was hulle sommer baie gou tuis op die ski’s en het ons hulle eers weer gesien toe die berg toemaak. Daar is ongelukkig nie foto’s van hulle ski-pogings nie, want ons was nie op dieselfde ski-helling as hulle nie.
Die ouer generasie het hierdie jaar maar weggebly van die ski’s en “snow boards “ af en hulle lewe gewaag op die “toboggans”. Dit was net soveel vet pret om met ‘n slee teen die hellings af te seil as om te ski. Jy val nog steeds dat jy hop as jy nie jou sit ken of goed kan stuur met die lyf nie. Ek en Engela was maar slegte bestuurders. As ons nie ander mense disnis gery het nie, het ons onsself katswink geval. Pieter was soos ‘n kind op die “toboggans” - kon nie genoeg kry nie. Dit het natuurlik baie gehelp dat hy so fiks is, want dit is maar ‘n stywe entjie se stap terug sneeulangs as jy aan die onderpunt van die “toboggan”-helling is.
Dit is seker nie eens nodig om te sê wat ons Saterdagaand gedoen het nie….Hie-ha!! Ons het na ‘n heerlike aandete by die restaurant in die motel ons tuisgemaak in die kroeg waar daar ‘n heerlike kaggelvuur gebrand het. Dit was fantasties om saam met ander Kiwi’s te kyk hoe die Mighty All Blacks die res van die wêreld op hulle neuse laat kyk. Dit nou eers daar gelaat, want dit is ‘n onderwerp op sy eie.
Die kinders is Sondagoggend vroeg terug berg toe, want hulle wou darem nog vir oulaas ook gaan “toboggan”. Ons was al byna terug by die huis, toe is hulle eers uit Ohakune weg. Dit is seker maar die voordeel van jonk wees - tyd is eindeloos….
Die hele naweek was eenvoudig perfek. Saans het daar twee warm spapoele gewag vir die moeë en seer liggame. Vir diegene wat nog genoeg energie oorgehad het, was daar ‘n speletjieskamer met ‘n “pooltafel” en “dart board “. En niemand het hulle doodgewerk nie - elke maaltyd het ‘n ander kok gehad, selfs al was dit net die laataand-milo-en-koekies wat gemaak moes word.
Wat die naweek nog meer besonders gemaak het, is dat ons in die pret kon deel met goeie vriende. Nic het Kerry aan sy sy gehad, Marco het sy boesemvriend van laerskooldae saamgenooi ( hulle twee staan ook bekend as Ebony and Ivory ) en Reghardt het besluit hy hang sommer saam met Marco en Dominique uit. Dit was vir ons net so lekker om ons maaikies saam te neem.
Na die naweek het ons weer eens besef hoe ongelooflik bevoorreg ons is om in so ‘n mooi land te woon en dat ons ons kinders soveel geleenthede kan bied.
Nou ja, tot Vrydag wanneer ek julle bombardeer met ‘n lekker laaaaang nuusbrief.
Groete
Die Sneeukoningin