Antjie Se Pen (subtitel van www.afrikakiwi.com)

Antjie se pen was die geboorte van my groot droom om eendag 'n boek of dalk twee te skryf. Een van my drie vereistes voor ek Nieu-Seeland toe gekom het, was dat daar van dag 1 af 'n rekenaar in die huis moet wees, want kommunikasie met die familie en vriende was uiters belangrik. Die dag dat ons voet op Kiwi bodem gesit het, het die eerste Nieu-Seeland nuusbrief die lig gesien... besoek ons webtuiste: www.afrikakiwi.com

Die nuwe Kiwi's

Woensdag- 30 November 2005

22H00

More-sê

Vanaand skryf ek in my amptelike hoedanigheid as ‘n Kiwi. Die mense wat foto’s kan ontvang, sal netnou so ‘n kykie in ons groot dag kry.

Vandag het ek al douvoordag hier gesit en eers gou die volkslied geleer. Die Engelse weergawe het vinnig vasgesteek, maar daardie eerste vers in Maori, het nou nog nie ingeskop nie. So halfnege vind ek toe uit dat aangesien dit ‘n klein intieme seremonie is, gaan ons glad nie die volkslied sing nie en wend die manne toe nie eens ‘n poging aan om daarna te kyk nie.

Die seremonie was toe glad nie wat ek verwag het nie - gedink ons gaan in so ‘n stowwerige regeringskantoor sit, die eed aflê en dan ‘n sertifikaat ontvang. Die hele proses het hom afgespeel in ‘n saaltjie op die 6de verdieping van die AA-gebou in die hartjie van Auckland - ons het dus eerstens ‘n “ room with a view “ gehad. Die vertrek self was baie NZ – die vlag, die landswapen, ‘n foto van die Queen. Daar was 15 van ons wat vandag Kiwi’s geword het - omtrent ‘n mengelmoes: ‘n Moeslem-gesin, ‘n jong Amerikaanse meisietjie, ‘n stokou vroutjie van een van die eilande af, ‘n Franse paartjie met die mooiste Franse-Engelse aksent, ons vyf en dan nog ‘n SA-ertjie – Keisha Paulse. Ek weet nie of sy familie van Breyton Paulse is nie, maar ek weet net dat sy amper net so beroemd en bekend soos hy was. Sy is die eerste SA-er wat een van die 10 deelnemers aan NZ Idol was - nogal baie talentvol, al het sy in die tweede rondte uitgeval. Ek het natuurlik tot die seuns se misnoë vir haar gevra of sy saam met ons vir ‘n foto sal “pose”.

Die aflê van die eed was baie besonders. In plaas daarvan dat ons een-een vorentoe moes gaan om dit voor te lees, kon ons vyf as ‘n familie dit in ‘n spreekkoor doen, met die Bybel in die linkerhand en die regterhand in die lug. En toe almal nou klaar trou aan die Queen beloof het, word aangekondig dat ons nou die volkslied gaan sing. So, ek het dus nie vanoggend verniet so hard geleer nie. Een van die Amerikaanse vrouens het ons kom komplimenteer met die seuns wat die volkslied so uit volle bors en in Maori sing - hulle sing mos so af en toe die volkslied by die skool.

Nog seremonie-foto’s : Drie seuns; Vier manne voor die seremonie; Ma en seuns ;
Vier manne na die seremonie

En soos die gewoonte nou maar is, moet alle gebeure mos met baie eet gevier word. Ons vyf is toe Denny’s toe waar ons lekker gekuier en gesmul het.

Ons het vandag vir ‘n verandering ‘n pragtige somersdag gehad en die Claassen-manne het gesorg dat hulle elke minuut van die sonskynweer geniet. Hier weet ‘n mens nie wanneer jy weer sulke mooi weer sien nie. Ons bly net drie blokke van die see af en Marco en Reghardt het die middag in die branders gaan deurbring, Nic het so ‘n uur noord gery en die groter golwe op sy branderplank gaan aandurf. Pieter het vandag altesaam so 50 km op sy fiets deurgebring - 23 vanoggend en vanmiddag weer 27. Oor waarmee ek my besig gehou het, sal ek swyg… een van my sondetjies.

Nic was verlede week baie teleurgesteld. Hy sien nou al maande daarna uit om Februarie Wellington toe te gaan vir die Nieu-Seeland Sewes-toernooi. Tien minute na die kaartjieverkope egter oopgemaak het, is alles uitverkoop. Nou is dit maar “ big screen “ vir hom. Saterdag behoort egter op te maak daarvoor. Hy gaan Edenpark toe waar die Black Caps en Australië teen mekaar speel.

Nic en Kerry het die afgelope naweek op Waiheke Eiland deurgebring. Ons was self nog nooit daar nie, maar dit is glo ‘n paradys - vir duikers en kaalbaaiers. Vandag se koerant het egter minder goeie nuus oor Waiheke:

A couple of small tremors felt on Waiheke Island could be a sign of things to come.

The earthquakes measuring 2.5 on the Richter scale hit about 30 kilometres east of
Auckland last night and again today.

Seismologist Ken Gledhill says local earthquakes only happen about once a decade in
Auckland and these ones are very small, but he says they are centred just outside the Auckland volcanic field, so there is a small chance it could be the start of something happening.

Dr Gledhill says all scientists can do at this stage is keep a close watch on the situation
.

En so met die aardbewing-nuus, sê ek eers nag. Skryf weer na die naweek.

Liefde

Anna-Maré

0 Comments:

Post a Comment

<< Home