Antjie Se Pen (subtitel van www.afrikakiwi.com)

Antjie se pen was die geboorte van my groot droom om eendag 'n boek of dalk twee te skryf. Een van my drie vereistes voor ek Nieu-Seeland toe gekom het, was dat daar van dag 1 af 'n rekenaar in die huis moet wees, want kommunikasie met die familie en vriende was uiters belangrik. Die dag dat ons voet op Kiwi bodem gesit het, het die eerste Nieu-Seeland nuusbrief die lig gesien... besoek ons webtuiste: www.afrikakiwi.com

SKOKNUUS - Ek is verlief

Donderdag- 24 November 2005

22H00

More

Ek is VERLIEF… dolverlief. Gelukkig is dit ons vroulike spesie se voorreg om wispelturig te wees. Verlede week nog was dit “mooi – mooier – Aucklandstad”. Twee weke later verloor ek my hart van alle plekke in Australië. Brisvegas “is to die for”.

My Aussie-maat, Kevin, was verlede Saterdag ‘n baie jong 40. Vir julle wat nie weet nie, ek en Kevin het saam skoolgehou in Somerset-Wes voordat ons ons hier Down Under kom ingrawe het. Aanvanklik sou ek al vroeër hierdie jaar Australië toe gaan om sy troue te gaan bywoon, maar toe gaan trou hy mos verlede jaar Desember op Tafelberg. Danksy die groot verjaarsdag het ek toe ‘n goeie verskoning om die Tasman te kruis.

My naweek het al Dondermiddag op ‘n hoë noot afgeskop met ‘n venstersitplek, twee leë sitplekke langs my, ‘n goeie fliek en ‘n maaltyd van die spyskaart af. As Emirates lugredery nie soos die melktrein by elke lughawe geland het nie, was ons volgende jaar April via Dubai Suid-Afrika toe. AucklandBrisbane-Singapoer-Dubai-Johannesburg-Kaapstad…. Dit is darem ‘n te lang pad, veral nog met Marco en Reghardt ook by my.

Kevin en Bianca was vir twee dae Melbourne toe en hulle vliegtuig het seker so ‘n kwartier voor myne in Brisbane geland. Pieter, ons chauffeur, hoef toe darem net een rit te maak. My eerste indruk van Brisbane op pad huis toe was - Aucklandstad sonder die Sky Tower. Ek kon net sowel by die huis gewees het. Dit was toe ook nie eens so warm soos wat ek gevrees het nie.

Donderdagaand was baie spesiaal. Dit was die stilte voor die groot jolyt begin het. Kevin se ma, Oumie-Jean, het al die pad uit SA gevlieg en ons twee was dadelik soos twee ou karperde – trek lekker saam. Sy lyk nie net soos my ma nie, maar woel en werskaf net so baie soos sy. Seker daarom dat sy so bekend gevoel het. Ons het tot na middernag plat op die mat gesit en gesels - lekker opgevang op al die ou nuus. Dit het by tye nogal vreemd gevoel om so in die Rooitaal te kuier.

As daar nou een plek is wat kan baat by Daylight Saving, dan is dit nou Brisbane. Soggens 5-uur sit die son al hoog en kan jy nie anders as om uit die kooi te klim nie. Die redes waarom die klomp Aussies nie belangstel in Daylight Saving nie, is baie snaaks. Onder andere sal die koeie glo heeltemal deurmekaar wees as die horlosies ‘n uur vroeër aangedraai word en dan is die hele melkbedryf daarmee heen. Verder sukkel ek nog om die tweede verskoning te verstaan - iets te doen met gordyne wat gaan verbleik.

Vrydagoggend 5-uur Aussie-tyd het ek die blye nuus van die 2011- Wêreldbeker ontvang. Net om dit te bevestig, kyk ons toe nuus. Ek kom toe agter vir die Aussies bestaan daar nie so ‘n plek soos NZ nie. Terwyl die nuus aan die gang is, kom daar net so ‘n vinnige flits onderaan die skerm verby: “ NZ will host the 2011 Rugby World Cup “. Dit is AL.

Ek en Oumie-Jean is toe Vrydagoggend baie dapper en spring op ‘n bus stad toe. My mond het behoorlik die hele tyd oopgehang. Ek het gedink die openbare vervoer in NZ is op sy kop, maar ons kan by die Aussies gaan leer. Die snelweg is in twee dele verdeel en elke deel bestaan uit ‘n klompie bane. Die een kant is vir busse en die res vir Jan Publiek. As ‘n bus 6:37 by ‘n bushalte verwag word, is hy 6:37 daar. Ek was “impress”.

Terug in die winkelsentrum het ek weer tuis gevoel, want al is ons die klein verlore eilandjie suidoos van Australië, het ons dieselfde winkels as die Aussies - net heelwat goedkoper aan ons kant van die Tasman. Na ‘n ete by die Kebab-restaurant, het ons die Botaniese tuin in die middel van Brisbane gaan besoek - massief groot, pragtig en rustig. Ons het ons verkyk aan die mense in die tuin - oumensies wat rustig op die bankies sit, klomp studente wat sokker speel, verliefde paartjies wat op die gras lê, jongmense op rolskaatse en hope mal drawwers.

Vrydagaand het ek sommer weer baie jare van my ouderdom afgetrek. Ons is met die bus stad toe om te gaan kyk hoe lyk en woel dit in Brisbane in die nag. En daar ontmoet ek toe vir Batman in die stad. Kevin het my vertel van die reuse vlermuise in Australië, maar wie verwag nou in die middestad ‘n vlermuis hier tussen die hoë geboue rondfladder. Lyk nogal soos iets uit ‘n riller. Die hoogtepunt van die aand was ons wandeling oor die Story Bridge. Onder ons het die Brisbane-rivier gelê, omring met hoë geboue en parke, bote en seiljagte op die water. Ons eerste stop was die Brisbane Hotel waar ek Kevin se Aussie-vriende ontmoet het. Daarna is ons met die ferry oor die rivier na die anderkant van die stad. Dit is toe dat ek my hart heeltemal verloor het. Brisbane is prentjiemooi.

Die wêreld is baie baie klein. By die Victory Pub waar die res van die geselskap vir ons gewag het, sien ek toe dadelik ‘n vaagweg bekende gesig. 25 Jaar gelede het ek as 20 jarige student hierdie 8-jarige seuntjie opgepas. Die beste deel is dat hy my ook dadelik herken het - dit beteken die jare het my nie te sleg behandel nie. Eduard is ook ‘n vriend van Kevin en kon ons dus by die verjaarsdag verder saamkuier. Hy en sy vrou is op die oomblik hier in NZ om hulle Aussie-residensie hier te kom kry ( moenie vra hoe dit werk nie, want ek verstaan dit ook nie ). Ek gaan Saterdag weer saam met hulle kuier voor hulle terugvlieg Australië toe.

Ons het die aand afgesluit met ‘n burger by die Hungry Jack – NZ se Burger King - die beste burgers wat jy kan kry. Toe is dit terug huis toe met die bus - net betyds om 12-uur ‘n glasie sjampanje op Kevin te kan klink.

Saterdagoggend is daar vroegoggend al gewoel. Die huis moes ook partytjieklere kry - dit het die Angels, die dogtertjies lank besig gehou. Ek het nie geweet ek het so baie asem nie… die een ballon na die ander moes opgeblaas word. Die swembad was Kevin se babatjie om skoon te maak en Bianca het die heerlikste disse aanmekaar geslaan - haar Sushi was ‘n treffer. Daar was ‘n magdom mense en van vroegmiddag af is daar gekuier, later het die Aussies teen die res van die wêreld gholf gespeel en toe is daar tot die afskop van die Aussie-Ierland-wedstryd gedans.

Sondagoggend was ‘n klomp van die partytjiegangers nog daar, want hulle het sommer daar waar hulle ‘n lêplekkie gekry het, gekiep. Toe kuier ons maar weer verder en hou ‘n groot boere-brekfis langs die swembad.

Ek was Sondagoggend ook bevoorreg om glo een van die Aussie-icons te ontmoet - nog nooit van hom gehoor nie - Laurie Lawrence. Blykbaar is hy een of ander Australiese swemafrigter. Ek het ‘n Black Cap-hemp aangehad en toe gee die omie my ‘n bietjie gas. Tipies vrou het ek die laaste woord ingekry - alles in goeie gees.

Alle goeie dinge moet egter ook tot ‘n einde kom. Voor ek egter lughawe toe is, het ons nog eers gekyk hoe die Bokke teen Wallis speel. Natuurlik is die beste wedstryd van die naweek glad nie uitgesaai nie. Ek weet nie eens of die Aussies weet die All Blacks het hierdie naweek gespeel nie. Die Skotland-Samoa-wedstryd is 3 keer uitgesaai, maar die Kampioene?... Geen teken van hulle nie.

Op pad lughawe toe het ons nog ‘n keer langs die rivier gaan wandel sodat ek nog van die prag kon gaan aanskou, maar toe jaag een van daardie tipiese Brisbane storms ons aan.

Brisbane is mooi, net jammer dit is so warm en bedompig en dan natuurlik hulle sport. Ek hou daarvan om vir ‘n wenspan te skree…..

Dit was nou my Aussie-“experience”.

Groete vir eers.

Anna-Maré

0 Comments:

Post a Comment

<< Home