Antjie Se Pen (subtitel van www.afrikakiwi.com)

Antjie se pen was die geboorte van my groot droom om eendag 'n boek of dalk twee te skryf. Een van my drie vereistes voor ek Nieu-Seeland toe gekom het, was dat daar van dag 1 af 'n rekenaar in die huis moet wees, want kommunikasie met die familie en vriende was uiters belangrik. Die dag dat ons voet op Kiwi bodem gesit het, het die eerste Nieu-Seeland nuusbrief die lig gesien... besoek ons webtuiste: www.afrikakiwi.com

Baie NZ-nuus

Dinsdag - 15 November 2005

22H00

More

Mooi - mooier - Aucklandstad…

Ek is glad nie die mees berese persoon in die wêreld nie en het dus nog nie baie groot stede gesien nie sodat ek hierdie stelling kan maak nie. Verder weet ek ook dat baie van my Suid-Afrikaanse vriende nou vir my die mooiste prentjies van Kaapstad met Tafelberg op die agtergrond of een of ander skilderagtige plekkie gaan skets, maar toe ek verlede Vrydag die Auckland-brug nader en die stad lê daar voor my met die Sky Tower in die agtergrond, ‘n paar vulkaniese koppies in die verte en die duisende seilbootjies voor in die hawe, wou ek dit so graag net vir ‘n oomblik met julle almal deel. Dit is ‘n asemrowende gesig.

Dit is feestyd in Nieu-Seeland….

Al het die somer nog nie sy kop hier op die eiland kom uitsteek nie, het die vakansiegevoel al hier van Labour Weekend af ingeskop. Daarna het die Halloween-gees geloop en 5 dae later is daar ge-Guy Fawkes tot in die oggendure. En nog is dit het einde niet….

Maandag, 24 Oktober, was ‘n vakansiedag, Labour Day. Die eerste NZ Werkersdag was op 28 Oktober 1890 toe ‘n paar duisend unielede en ondersteuners die strate ingevaar het om na die optogte in die groter dorpe en stede te gaan kyk. Selfs staatsdienswerkers het die dag afgekry om deel te hê aan die aksie. Labour Day herdenk die stryd om ‘n 8-ure werksdag ingestel te kry, ‘n stryd wat ‘n skrynwerker, Samuel Parnell, in 1840 in Wellington gewen het. Nieu-Seeland was ook een van die eerstes ter wêreld om ‘n 8-uur werksdag in te stel – onder andere vandaar die reputasie dat ons “a worker’s paradise” en feitlik “strike-free” is. Ek pleeg so ‘n bietjie plagiaat met hierdie inligting - het dit uit Engela se algemene nuusbrief “gedeps”.

Ons maak mos groot ophef van verjaarsdae. Watter draaie die verjaarsdagmaatjie se dag maak, is nie so belangrik nie, solank dit op die regte manier afskop. Engela het Werkersnaweek haar groot 30ste gevier en ek en Pieter is donkeroggend uit Orewa weg om vir haar ‘n verrassingsontbyt te gaan maak. Ek het net gehoop ons gaan staan nie iewers langs die pad nie, want ek is sommer met pajamas en al stad toe - dit was mos die dragkode vir die vroegoggendpartytjie. Later die dag het die dapperstes onder die dapperes dit op die Sky Screamer wat niks anders as “reverse bunjy jumping “ is nie, gaan waag. Gelukkig moet daar altyd by sulke geleenthede ook ‘n kameraman wees en het ek dus ‘n goeie verskoning gehad om op Moeder Aarde te bly.

Hierdie jaar het die Halloweenkarakters ons uit die huis uit ge-”trick or treat “.Gelukkig was ons goed gewapen met sakke vol lekkergoed. Ons is stormgeloop deur duiweltjies, Liewe Heksies, Spiderman, Dracula en nog hordes ander grillerige kreature. Die oulikste was die drie Chinese dogtertjies. Hulle het die pot heeltemal misgesit en het hier in hulle feëtjiegewade opgedaag. Dit is verstommend hoe gewild Halloweendag hier by ons is. Dit lyk byna soos Kersfees in die winkels met al die versierings, kostuums en vreesaanjaende mombakkies. Wat my die meeste gefassineer het, is die oumas en oupas of ma’s wat saam met die klein kindertjies stap wat ook wou “ trick or treat “.

Minder as ‘n week later toe is dit al weer ‘n fees van ‘n ander kleur. Marco en Reghardt het ‘n goeie persentasie van hulle weeklikse loon op “ fireworks “ spandeer. Ook maar goed dat ‘n mens net 5 dae van die jaar mag vuurwerke koop. Die eerste November begin die stormloop vir klappers en as jy die oggend van die 6de in ‘n winkel instap, sal jy nie glo dit was die vorige dag Guy Fawkes nie - nie eens ‘n “ starlight “ te vinde nie. Marco het die 5de November tot 10-uur gewerk en het ons dus eers baie laat met ons lugvertoning begin. Ons het ‘n rugbyveld naby aan die huis gekies as lanseerterrein en die wind en reën gaan trotseer. Skaars 10 minute aan die gang, steek Pieter so ‘n groot kanon aan die brand, draai om en buk om nog een uit die sak te haal. Met die bukslag waai die wind die 3-in-1 vuurpyl om en tref hulle Pieter volskoot op die boud. Hy vergeet skoon dat Engela-hulle ook daar is en pluk sommer daar en dan sy broek af. Gelukkig het hy net ‘n bloukol oorgehou van ‘n ongeluk wat eintlik lelik kon wees.

Nou is alle feestelikhede vir eers verby en hang hier so ‘n donker wolk oor ons huis. Die seuns skryf eksamen, Reghardt se tweede en Marco se eerste eksterne eksamen. Die uitslae van hulle proef-eksamen was nie te sleg nie, maar hulle kort nog elkeen heelwat krediete. Hulle maak albei die 25ste November klaar met eksamen en dan begin hulle laaaang vakansie. Marco wil graag ‘n kajak koop en beplan dus om heelwat tyd by New World deur te bring.

Pieter en Nic het nou hulle “Padi-open water”-lisensies. Dit het goed gegaan met hulle seeduike en nou wil die manne net gaan duik. Pieter probeer baie hard om my te oortuig om saam met hulle te gaan snorkel. Ek kan amper nie eens stort sonder om te verdrink nie en sal maar op die “Glass Bottom Boat" uitgaan om te kyk hoe dit onder die water lyk.

Kersfees het hierdie jaar vroeg gekom vir Pieter. Hy het vir homself ‘n Kersgeskenk gekoop - ‘n blinknuwe resiesfiets. Sy “ shin splints “ gee hom deesdae baie opdraende en kan hy dus op hierdie stadium nie hardloop nie. Nou wend hy hom maar tot fietsry vir oefening. Hy lyk soos ‘n professionele fietsryer as hy die langpad vat. Ek het hom die dood voor die oë gesweer as die fietsry-gogga hom die dag so byt dat hy sy beenhare wil skeer. Ek kan deesdae weer doen met ‘n bietjie oefening en gaan ons nou vir die uwe ook ‘n fiets aanskaf.

Kerry vlieg die 5de Januarie vir ‘n maandlange vakansie Suid-Afrika toe en daarna gaan sy vir nog ‘n verdere maand by haar ouers in Hong Kong kuier. Die twee “ love birds “ plaas vir die tweede keer binne sewe maande hulle groot liefde voor ‘n toets. Hulle beplan om eerskomende Vrydag met die ferry Waiheke Eiland toe te gaan en ‘n paar dae daar deur te bring. Soms sal jy nie sê hulle is al 20 jaar oud nie. Vanaand het die twee weer wegkruipertjie in die huis gespeel en so gelag en jil dat die bure hulle kon hoor.

En raai wat loop ek en Pieter verlede week in een van ons video-winkels raak… Leon Schuster se Mr Bones. Ons het nogal gewonder hoe sy sin van humor by die Kiwi’s sou afgaan, want dit is nou een ding waaraan hulle ‘n groot gebrek het. En toe in dieselfde week maak die vrou in SA wie se neus deur ‘n rob afgebyt is, ook ‘n draai op ons voorblaaie. Dit was nogal raar, want die enigste SA-nuus wat ons soms hier by ons kry, is sportnuus.

En toe maak my krieketspan dit nie daar in die Republiek nie. Dit is mos hoe die Kiwi kommentators na Suid-Afrika verwys. Ek was egter nie in sak en as nie, want dit was geen weghol-oorwinnings nie. Die skaal kon net so maklik na die anderkant geswaai het. Tien uit tien vir Stephen Fleming… hy is ‘n uitstekende nabootser. Ja, daar is nie veel liefde tussen hom en kapokhaantjie Smith nie. Ons wil nou ook nie as gierigaards beskou word nie. Ons netbalmeisies teken deesdae kriekettellings teen die buur-eiland en die Jamaica-girls aan. Oor ons TWEE All Black-spanne gaan ek nou eers niks sê nie. Dit is in elk geval seker ook nie nodig nie.

Ek hoop Japan wen die Wêreldbeker-bod sodat nie een van die groot aanspraakmakers om die Wêreldbeker die voordeel van ‘n tuisskare het nie. Dit behoort die skape van die bokke te skei.

My tassies is amper klaar gepak. Ek vlieg mos Donderdagmiddag Australië toe om my SA-Aussie-vriend se 40ste verjaarsdag te gaan bywoon. Dit klink my na ‘n vreeslike bedrywige naweek. Dan is dit mos nog boonop so vrekwarm en bedompig in Brisvegas – geen wonder dit is ‘n “ pool party “ nie. Ek hoop ek het nog genoeg energie oor wanneer ek Maandag in die vroeë oggendure in Auckland aanland, want 5 ure nadat ek op NZ-bodem land, moet ek inval vir ‘n harde dag se werk.

Dit is nou al laatnag hier. Volgende week vertel ek julle van my Aussie-ervaring.

Groete

Anna-Maré

0 Comments:

Post a Comment

<< Home