Antjie Se Pen (subtitel van www.afrikakiwi.com)

Antjie se pen was die geboorte van my groot droom om eendag 'n boek of dalk twee te skryf. Een van my drie vereistes voor ek Nieu-Seeland toe gekom het, was dat daar van dag 1 af 'n rekenaar in die huis moet wees, want kommunikasie met die familie en vriende was uiters belangrik. Die dag dat ons voet op Kiwi bodem gesit het, het die eerste Nieu-Seeland nuusbrief die lig gesien... besoek ons webtuiste: www.afrikakiwi.com

Nuus van Nic

Hallo Almal

Daar was nog nie weer 'n nuusbriefie van Nic af na die laaste enetjie
wat ek aangestuur het nie. Ek het egter Dinsdagoggend 'n oproep van hom
af gekry by die werk!! Dit was wonderlik om sy stemmetjie te hoor al het
dit duisende kilometers ver geklink. Dit was so onduidelik dat ek baie
keer maar moes raai wat hy sê. Toe ek egter daardie foon neersit, het ek
vreeslik na my blou-oog-kind verlang.

Hy geniet dit so baie by die kamp dat hy glo nog glad nie huis toe
verlang het nie. Dit is baie vreeemd om te hoor van 'n kind wat eintlik
vreeslik huisvas is. Die kamp maak oor 4 weke klaar, maar hy en en twee
Pommies gaan vir twee weke toer. Hulle laat glad nie die Leeu-toer
tussen hulle staan nie. Hy het by Kerry geskimp dat hy graag 'n rukkie
langer sou wou aanbly, maar die Rooikop het haar voet neergesit. Ons sal
nou maar moet wag en sien wanneer hy huis toe kom.

Hulle het 'n vreeslike besige program en kry maar so af en toe 'n
aandjie af. Daar is ook net twee rekenaars in die kamp en die kinders
staan glo vreeslik tou om almal nuus huis toe te stuur.

Hier is 'n paar foto's van die kamp:

Soos julle kan sien, speel die NZ-vlag 'n baie groot rol. Die vlag was
nou al op die lamppaal en hang ook voor Nic se "cabin". Die groot
kartonbeeld van ou George Bush kom glo saam huis toe as 'n aandenking.
Ek weet nie hoekom die kind nie iets kleiners en minder onooglik kan
saambring nie.

Ek was half verbaas toe ek hoor Nic gaan op 'n Christenkamp. Dit is nie
omdat ek in Nic se Christenskap twyfel nie, maar net omdat dit nie vir
kinders van sy ouderdom altyd so "cool" is om daaroor te praat nie. Hy
was die laaste jaar en 'n half maar baie kerksku. Ek het geweet die kamp
is op godsdienstige beginsels geskool en dat daar elke oggend en aand
Chapel-dienste is. Ek het heeltyd gewonder hoe dit Nic raak en of hy ook
deelneem daaraan.

Die ander foto van die oggenddiens was net so ontstellend. Dit is die
eerste keer dat ons hom so naby 'n meisiekind sien en soos Marco gesê
het:" Ma, hier kom moeilikheid." So Nic sal dus seker heelwat moet kom
verduidelik as hy terug is by die huis. Maak nie saak hoe onskuldig dit
is nie, ons vrouens is maar so beskermd.

Die foto met die matrasse - dit is eintlik 'n boot. Nic en sy spannetjie
het deelgeneem aan 'n optog. Ons probeer nog uitwerk of Nic sing en of
hy die boot se geluide namaak.

Dan was daar Independence Day. Nic het sy eie vlag daar gehad om te wys
waar sy lojaliteit dan nou eintlik lê. Die meisiekind wat die vlag saam
met hom vashou, is ook 'n Kiwi. Hulle is die enigste twee
Nieu-Seelanders daar.

Nic is ook 'n "lifeguard" op die kamp. Ek sien hy het nou weer 'n Carlos
Spencer-haarstyl. Ek weet nie of dit die All Blacks se goeie rugby is
wat hom nou weer tot die haarstyl gedwing het nie en of hy nie maar
sommer net weer wil Kiwi voel nie.

Dit is al nuus oor Nic. Ek skryf later 'n briefie met groot nuus...

Groete

Anna-Maré

0 Comments:

Post a Comment

<< Home