Donderdag - 19 Mei 2005
More
Hier is dit byna middernag, maar dit is baie belangrik dat hierdie brief nog vandag geskryf word - more sal dit nie meer dieselfde gewig dra nie.
Die 19de Mei is Stigtersdag vir die Claassen-gesin. Pieter is vanaand 11-uur presies 4 jaar in Nieu-Seeland. Ons is nou nie meer melkbaard-Kiwis nie. Hierdie dag word elke jaar gevier, maar vanaand se viering was so n klein bietjie anders
Pieter het hom vanaand weer op die lughawe bevind - hierdie keer om Nic te gaan afsien. Ek weet nou nog nie wie het die moeilikste gegroet nie - Kerry of Pieter. Ons blou-oog seun se oë was self onnatuurlik baie blink toe daar gedruk en gesoen moes word. Dit gaan n baie lang en stil 15 weke wees. Nic het nou besluit om na die 11 weke lange Summer Camp eers n ruk te gaan toer. Hy gaan nie gou weer so n geleentheid kry nie.
Ons is ernstig gemaan om tog nie nou al hieroor te praat nie, want dit is nog nie bevestig nie, maar daar is sprake dat Steve Hofmeyr se Auckland-konsert ( die ene wat ek gaan bywoon !! ) opgeneem gaan word vir TV-uitsending in SA. Daar is sprake dat die filmspan van Steve Hofmeyr se TV-program op KykNET, Dis Hoe Dit IS, na Nieu-Seeland wil kom om Steve se optrede by KiwiKasie en sy Kiwi-toer te verfilm! As dit realiseer, sal ek seker maak dat ek vir julle almal wuif, al moet ek dan nou ook op die verhoog spring - sal soos by die rugby n groot plakkaat maak om julle te groet.
Die groot winterreën is hier
heerlik!! Ons maak omtrent elke aand n vuurtjie in die kaggel.
Ek neem aan dat SA nie hierdie naweek in n suidelike en noordelike kamp verdeel is nie, maar dat almal by blou gaan hou. Voorspoed vir die naweek. Dalk sien ons nog volgende naweek n SA-NZ-stryd. My weddenskappe vir die naweek se Super 12 is in - sal julle laat weet of ek in die kol was. Ek speel nou al die hele Super 12-seisoen Virtual Super 12 op die internet - het glad nie te sleg gevaar sover nie.
Dit gaan baie goed by my nuwe werk. Ek geniet elke oomblik daarvan. Daar is nog baie om te leer, maar ek geniet die uitdagings.
Nou is ek eers op pad bed toe. Skryf weer die naweek.
Groete
Anna-Maré
0 Comments:
Post a Comment
<< Home