Nuus van Down Under
Maandag - 27 Junie 2005
21H30
More
Ja, dit gaan besonder goed in All Black-land en enige persoon wat nie saamstem dat ons soos kampioene gespeel het en ‘n welverdiende wen gehad het nie, se druiwe is suur. My Aussie-vriend dink ons is ‘n klomp vuilspelers na die O’Driscoll-insident, maar as dit by vuilspel kom,
Die rugbygees loop hoog in die land. Toe ek Vrydagoggend by die dokters ‘n draai gaan maak het, het hulle self soos ‘n klomp All Blacks gelyk, almal uitgedos in swart vir die dag. Ek het self Saterdag my rugbyhart op my wang gedra - ‘n swart varinkie. Dit is ook net hier waar ek besluit het ‘n tattoe moet ek kry. Sodra ek weer by Victoria Market ‘n draai maak, is dit ek en die inkpot.
Terwyl ons nou op die onderwerp van rugby is, bring dit my by die Maori’s. Dit klink my daar is nogal hewig in Suid-Afrika geskryf oor die feit dat ons ‘n Maori-span het en dat dit darem baie rassisties is. Kleur speel nie ‘n groot rol in Nieu-Seeland nie en definitief ook nie by die keuse van ‘n Maori-span nie, want daar is heelwat wit Maori’s in die land. Een van Nic se goeie vriende het potblou oë, is geseën met ‘n wortelkop en is Maori se kind. En net vir die rekord - Maori’s is Nieu-Seelanders, alias Kiwi’s.
Die Amazing Race-reeks wat tans in Suid-Afrika begin wys het, het verlede week hier tot ‘n einde gekom. Die twee Survivor-sterre het die mense lekker omgekrap en vir lekker kykgenot gesorg. Laat weet maar as daar enige iemand is wat wil weet wie met die miljoen dollar weggestap het.
Ons voel ook sommer nou baie avontuurlustig en het besluit 2005 is die jaar vir ‘n ski-vakansie. Ek het egter nie nou verlof nie en moet maar tevrede wees met ‘n langnaweek by een van die ski-oorde. Ons wag net dat die skoolvakansie eers verby is sodat daar nie so ‘n gedruis van mense is nie en dan gaan ons en Johan en Engela vir ‘n paar dae Mt Ruapehu toe om te gaan ski. Ek wou nog altyd in die sneeubedekte berge in ‘n houthuisie met ‘n lekker glasie soetwyn voor ‘n oop kaggel kuier. Die ski is ‘n bysaak. Mt Ruapehu huisves meer as net twee ski-oorde - Mt Ruapehu, in the central North Island of New Zealand, is an active volcano with a crater lake at its summit. Hy het laas in 1995 ‘n bietjie stoom afgeblaas. Ons gaan die Saterdag ‘n beginnerskursus doen, wat ‘n uur en ‘n half se opleiding, die res van die dag op die Happy Valley-hellings ( ‘n gedeelte net vir beginners ) en ‘n “ scenic tour “ van die berg met ‘n “ chairlift “ insluit. Ek hoop maar ons kom heelhuids terug.
My Sarie-dae is nou getel. Hierdie maand kry ek die laaste uitgawe van die Sarie. Dit was seker een van die beste geskenke wat ek ooit gekry het. Ek gaan egter vir Nataniël en al sy stories so mis dat ek besluit het my Kersgeskenk hierdie jaar aan myself is nog ‘n jaar se Saries. Ek moet nog net besluit wanneer my Kersfees moet begin.
Die winter het toegeslaan… Dit is sommer lekker koud en nat. Verlede winter was ons nartjieboom oortrek van heerlike soet nartjies en hierdie jaar is daar nou nie eens ‘n spikkeltjie oranje te sien nie. Ek dink hy het hom verlede jaar doodgedra. Die pomeloboom maak hierdie jaar weer op vir die gebrek aan nartjies.
Die koue en reën het ook al sy groepie slagoffers in die huis geëis. Pieter en Reghardt het albei al gehoes en geproes en selfs ‘n paar dae in die bed spandeer. Arme Marco het egter ‘n dubbeldosis van die Hong Kong-virus ingekry. Hy het ons op ‘n stadium baie bekommerd gehad, want die griep wat aanvanklik met bronchitus begin het, het oorgeslaan na longontsteking en toe sy liggaam so afgetakel dat sy witbloedtelling op ‘n stadium baie laag was. Dit gaan nou al weer beter en hy is terug by die skool, maar moet nou drie weke se skoolwerk inhaal.
En asof dit nie genoeg ongevalle en doktersgeld was nie, gedra ons kat hom toe soos ‘n straatkat. Hier oorkant die straat woon so ‘n liederlike en vermetele swart kat wat sommer hier in ons huis kom soek na ‘n pakslae. Hierdie keer het Pikes aan die kortste end getrek en moes ons toe veearts toe met hom, sommer binne in die wasgoedmandjie. Jy mag mos nie hier jou kat na ‘n veearts neem as hy of sy nie binne-in ‘n “ catbox “ is nie.
Verder gaan dit baie goed met die Claassen-gesin. Ons hoor baie min van Nic, maar dit klink asof hy ‘n fees in Amerika het. Ek gaan kyk elke dag op sy kamp se webblad of daar nie ‘n ou foto’tjie is waarop die kind is nie. Ons word dan vreeslik opgewonde as ons op een afkom. Gewoonlik vind ons hom in die Chapel, meestal met ‘n baie ernstige gesiggie.
Marco en Reghardt het uitstekende rapporte gekry en
My kop is nog steeds in die wolke by my nuwe werk - ek het nog nie aarde toe gekom nie. Ek geniet elke oomblik daarvan.
Op die hoë noot groet ek eers, want dit is slapenstyd.
Lekker dag vir julle.
Liefde
Anna-Maré en Kie
0 Comments:
Post a Comment
<< Home