Antjie Se Pen (subtitel van www.afrikakiwi.com)

Antjie se pen was die geboorte van my groot droom om eendag 'n boek of dalk twee te skryf. Een van my drie vereistes voor ek Nieu-Seeland toe gekom het, was dat daar van dag 1 af 'n rekenaar in die huis moet wees, want kommunikasie met die familie en vriende was uiters belangrik. Die dag dat ons voet op Kiwi bodem gesit het, het die eerste Nieu-Seeland nuusbrief die lig gesien... besoek ons webtuiste: www.afrikakiwi.com

Goeie nuus uit NZ

Vrydag  -  15 Julie 2005

 

21H30

 

More-sê

 

Die goeie nuus is nie die All Blacks wat maalvleis van die Leeus gemaak het nie, want dit is mos nou al ou nuus. Teen hierdie tyd weet almal mos wie is die wêreld se beste rugbyspan en die wenners van die 2005-Drienasiereeks. Sjoe, nou is daar darem ‘n paar ontstoke manne…

 

Die Nieu-Seelandse Minister van Buitelandse Sake het my en Pieter se burgerskap goedgekeur en het ons vandag ons amptelike gelukwense gekry. Ons is dus nou volwaardige Kiwi’s. Die seuns se burgerskap is ‘n bietjie vertraag. Hulle wag net vir Nic om terug te keer uit Amerika sodat hy sy paspoort kan inhandig. Marco en Reghardt se burgerskap is voorlopig goedgekeur, maar omdat hulle minderjarig is, wag hulle vir ‘n vorm uit Suid-Afrika. Ek en Pieter gaan nie nou al die seremonie waar jy trou aan die Koningin sweer, bywoon nie. Ons wil dit graag as ‘n gesin doen en sal dus eers wag tot die kinders se papierwerk afgehandel is. Irene van Dyk het ook so 6 weke gelede haar burgerskap gekry. Daar is natuurlik ‘n groot gedoente van gemaak en is selfs oor die TV-nuus uitgesaai. Selfs tannie Helen Clark was teenwoordig.

 

More-aand is dit groot jolyt in Browns Bay. Steve Hofmeyr is hier!! Ek wag nou al vier jaar dat hy hier kom optree. Die kaartjies vir more-aand se optrede was binne ‘n week uitverkoop en tree hy Maandagaand weer in Auckland op. Ek beplan om definitief met of ‘n CD of DVD van hom huis toe te kom. Ek het dit eers oorweeg om ‘n Possum G-string te koop om op die verhoog te gooi, maar Engela wat saam met my gaan, het my gewaarsku sy kom uit ‘n ordentlike huis en ek moet my gedra. Nou sal ek maar volstaan by om op die stoele te dans.

 

Marco en Reghardt het op die oomblik skoolvakansie en beweeg net tussen die rekenaar en New World. Hulle het gesorg dat hulle die vakansie weer so ‘n paar ekstra dollars verdien. Ek sorg darem dat hier soggens ‘n lysie met ‘n paar huistakies is sodat daar darem so ‘n bietjie balans in hulle lewe is.

 

Reghardt het toe besluit om hierdie jaar die Matriekafskeid by te woon. Dit is nie regtig ‘n matriekafskeid nie, eerder ‘n Senior Ball wat deur die matrieks en standerd neges bygewoon kan raak. Heeltemal teen sy aard berei hy en Kerry toe vreeslik voor vir hierdie groot aand en is hy en drie van sy vriende deftig uitgedos hier weg met ‘n Limo. Sy kommentaar oor die aand  -  dit was lank, kos was nie lekker nie en die DJ het ‘n goeie Compact Laptop. Dit is sommer ‘n goeie opsomming van wie Reghardt is  - word gou verveeld, vol fiemies oor kos en rekenaarmal.

 

Noudat die webblad klaar en gepubliseer is, het Pieter weer tyd om te studeer. Hy skryf oor drie weke een van sy Microsoft vakke en sit saans tot laat voor die rekenaar en boeke.

Ons is baie opgewonde oor ons webblad en beplan om dit Sondagaande op te dateer. Julle kan dus maar gereeld daar gaan rondkrap, want daar sal altyd ietsie nuuts wees. Verwys gerus mense wat meer oor Nieu-seeland wil weet na ons webblad.

 

Ons ski-naweek is vervroeg en ons maak al in alle erns reg vir die groot avontuur. Verlede naweek het ek en Engela solank vir ons elkeen ‘n paar “long johns “ gekry, want ons is nie van plan om koud te kry nie. Sy het vir my en haar elkeen so ‘n Hollandse gebreide hoedjie gekoop  -  ons lyk nes Hollandse poppies met vlegsels – om ons ore teen die koue te beskerm. Kerry kom vanaand terug van die ski-oord af en sal ons goed kan inlig oor wat om te verwag.

 

Dit gaan net elke dag beter by my werk. Die 11de Augustus vlieg ek saam met ses van die ander bestuurders Palmerston North toe om ‘n Food Expo te gaan bywoon. Ek sien vreeslik uit daarna, want ek is mos mal oor vlieg. Ek gaan die enigste hen onder die hane wees. Hulle het my klaar gewaarsku dat hulle sommer vinnig hulle werk vir die dag gaan afhandel en dat ek hulle maar in die wyntent moet kom soek.

 

Ek vra in die week een van die ouens wat die kouevleise kom aflewer om vir my een van die kartonne oop te sny sodat ek eers die temperatuur van die vleis kan neem voordat ek dit aanvaar. Hy sê toe: “ I’m a Maori boy… not allowed to have a knife with me.”  Ek en hy het vreeslik lekker daaroor gelag. Gedink dit is nou “nice” dat hy daaroor kan spot.

 

Groete uit ‘n lekker nat Nieu-Seeland

 

Anna-Maré en Kie

 

0 Comments:

Post a Comment

<< Home