Antjie Se Pen (subtitel van www.afrikakiwi.com)

Antjie se pen was die geboorte van my groot droom om eendag 'n boek of dalk twee te skryf. Een van my drie vereistes voor ek Nieu-Seeland toe gekom het, was dat daar van dag 1 af 'n rekenaar in die huis moet wees, want kommunikasie met die familie en vriende was uiters belangrik. Die dag dat ons voet op Kiwi bodem gesit het, het die eerste Nieu-Seeland nuusbrief die lig gesien... besoek ons webtuiste: www.afrikakiwi.com

NZ-nuus deel 2

Woensdag  -  10 Augustus 2005

 

21H00

 

Goeiemore

 

Al is my hart baie seer oor die Mighty All Blacks Saterdag ‘n afdag beleef het, is ek hulle baie dank verskuldig. Die eindfluitjie het nog nie eens geblaas nie, toe word ek al gebombardeer met sms’e van mense en familie van wie ek meer as ‘n jaar laas gehoor het. Vanaand het die eposse ook nog nie opgehou instroom nie. Dankie julle, dit is lekker om van julle te hoor.

 

Sondagaand was dit net snot en trane toe ek van die werk af kom. Ons het die laaste paar weke al hoe minder en minder nuus uit Amerika gekry. As dit nie was vir die foto’s van Nic wat elke week op die kamp se webblad verskyn het nie, het ek hom al lankal as vermis aangegee. Kerry het egter Sondag so ‘n kort briefie van hom gekry net om te sê hy kom nie meer oor drie weke huis toe nie, maar eers oor vyf. Hy gaan ‘n bietjie langer toer as wat aanvanklik beplan is. Die moederhart was self nie baie lekker nie, maar ek moes maar sterk wees en baie troos en moed inpraat.

 

Elke keer dat ons ‘n nuwe Nieu-Seelander uit Suid-Afrika by ons het, leer ons weer ietsie nuuts oor Kiwiland. Basie en Pieter was kollegas in Suid-Afrika en hy is nou hier om werk te soek. Sy familie kom eers ‘n bietjie later oor. Ek verstaan vanaand vir die eerste keer waarom ek in die 4 jaar dat ons hier woon nog nooit ‘n Kiwi gesien het nie. Volgens Basie se immigrasie-inligting slaap ‘n Kiwi glo 23 uit die 24 ure van ‘n dag.

 

Hierdie afgelope naweek was dit die Voedsel en Wyn Expo. Ek was gelukkig om gratis kaartjies by die werk vir die Fees te kry en ek en Kerry het vir Basie aan die eilandlekkernye gaan bekendstel. Ons het omtrent gekuier tussen al die kase, olywe en salami’s en dan natuurlik die sjokolades. Die stalletjies het gewissel van alledaagse kosse tot lekkernye in ‘n Russiese bakkery. Al wat ‘n wynlandgoed in NZ is, was ook daar verteenwoordig. Amarula likeur het sy eie stalletjie gehad, kompleet met ‘n Afrika-motief.

 

More is dit die fees der feeste in Palmerston North. Ons vlieg 8-uur die oggend en is weer die aand terug in Auckland. Ek hoor die vliegtuig is maar aan die kleinerige kant en boonop voorspel hulle slegte weer vir die dag. Ek sal maar ‘n “ happy”-pilletjie voor die tyd moet sluk en ekstra hard bid. Dit is absoluut wonderlik die geleenthede wat ‘n mens hier by maatskappye kry. Werkgewers is nie skaam om hulle hand diep in die sak te steek om hulle mense te beloon vir harde werk nie.  Nog ‘n klassieke voorbeeld hiervan is die groot meevallertjie wat in Engela se rigting gekom het. Haar werkgewer het besluit sy is vir hulle meer as goud werd en om hulle dankbaarheid te betoon het hulle haar gestuur vir die groot “ hairdo “ wat sy nou al so lank beplan. Hulle het nie net ‘n tjek by die haarkapper gaan los nie, maar ook ‘n bottel sjampanje wat hulle op die ys moes sit sodat sy ordentlik bederf kan word. Daar is niks fout met die Kiwi-base se harte en sakke nie.

 

2006 is verkiesingsjaar en volgende maand gaan ons vir die eerste keer in Nieu-Seeland ook ons kruisie trek. Ek het so ‘n paar jaar gelede in een van my eerste briewe vertel hoe hou die klomp eilandbewoners verkiesing. Ek is weer net so beïndruk met die aanloop tot die verkiesing dat ek eers weer daaroor wil lofsing. Hier is ook die gewone oor-en-weer gooiery van modder en leë beloftes deur die politici, maar dit is waar dit eindig. Stemdag is hulle nie te sien nie, behalwe as hulle self hulle kruisie gaan trek. Jy kan dus rustig gaan stem sonder dat daar iemand gaan wees wat jou nog hier op die laaste minuut wil probeer oorreed om vir hulle kandidaat te stem. Die wonderlikste vir my is natuurlik die kaal lamppale  -  geen plakkaat in sig nie. Daar is spesifieke plekke in ‘n dorp waar die partye groot advertensieborde kan gaan opsit vir die verkiesingsveldtog. En bewaar die party wie se bord nog staande is as daardie stembus gesluit het.

 

Julle wat nog nie op ons webblad was nie, kan dit gerus gaan besoek en ook aan julle vriende stuur. Ons beplan om die blad eerskomende Sondag op te dateer. Ons foto-album, Antjie se pen en die Immigrasie-blad gaan so ‘n bietjie uitbrei.

 

Groete

 

Anna-Maré en Kie

 

www.afrikakiwi.com

NZ-nuus deel 1

Saterdag  -  6 Augustus 2005

 

22H30

 

More-sê

 

Eers baie geluk met julle oorwinning oor die Aussies. Ek gaan nie nou al my hoendertjies begin tel nie, maar onthou net die manne in swart is in ‘n ander klas as ons bure. Saterdagaand gaan ek saam met die hoenders slaap sodat ek Sondagoggend eenuur op my pos kan wees vir die Haka. Sondag is mos ‘n werksdag vir my en ek klok al 7-uur in.

 

Ek het omtrent nog vir ‘n week na Steve Hofmeyr se konsert op die wolke geloop. Nou is daar seker ‘n hele klompie mense wat net hulle kop skud omdat ek so op loop raak oor die man met die rasper-stem, maar as jy nog nie vir Steve op ‘n verhoog gesien het nie, kan jy nie oordeel nie. Hy mag maar optree…

 

Die aand het aanvanklik op ‘n vals noot begin. Dit het my baie sterk herinner aan die skole se jaarlikse prysuitdeling  -  die seremoniemeester met sy flou grappies, die voorsitter met ‘n ellelange jaarverslag, die borge wat oor die verhoog paradeer en asof dit nie genoeg is nie, is ons nog eers voorgestel aan die bestuur van die Afrikaanse Klub van Nieu-Seeland, of soos die Rapport na hulle verwys, die Beenkoppe. En nog was dit het einde niet. Toe is ons eers vermaak deur die plaaslike Afrikaanse talent van Nieu-Seeland. Die ergste van alles was natuurlik dat ek nie eens kon sit en mor daaroor nie, want hier rondom my en Engela was 800 ander Suid-Afrikaners.

 

Twee ure later was die ster van die aand op die verhoog, maar van dans op die stoele was daar nie sprake nie. Ons het mooi ordentlik met ons voetjies teen mekaar gesit en maar so op en af gewip op die boude. Toe die Blou Bul se eerste note egter daar oor die luidspekers kom, het almal geweet wie kom uit die Transvaal uit, want toe staan hulle almal. Pampoen was laaste op die program en het 800 mense op hulle voete gehad. Ek moes die volgende oggend 6-uur werk toe ry, maar dit het my nie gekeer om kwart oor 11  nog in die ry te staan en wag dat Steve my DVD kan teken nie. Daar was nog tyd ook vir ‘n drukkie en ‘n foto. Steve en Carlos en Pieter gaan dus nou saam hier uit die fotorame vir my kyk as ek my eposse skryf.

 

Ons naweek in die sneeu was een groot fees!! Ek en Pieter het die naweek lekker uitgerek en Donderdagaand by Engela en Johan in Aucklandstad gaan slaap vanwaar ons klomp Vrydag in die vroeë oggendure vertrek het. Ons vrouens het vooraf besluit om die kookboeke by die huis te laat en die res van die naweek ronde handjies te hê. Sodra ons mae dus begin knaag het, is daar na ‘n eetplekkie gesoek  -  dit was ons dames se groot bederf.

 

Ons het in die Tongariro National Park Village gewoon, so 15 minute vanaf Whakapapa, die ski-oord. Vanaf ons Lodge was ons veronderstel om ‘n mooi uitsig oor die drie sneeubedekte berge te hê, maar die digte mis wou nie saamspeel nie. Ons het die Vrydag soos uitgelate kinders met die “chairlifts “ op en af teen die berg gegaan. Halfpad af teen die berg het dit begin sneeu en het ons dit so in die sneeuvlokkies geniet dat ons weer teen die berg op is en Cappuchino’s in Nieu-Seeland se hoogste restaurant gaan drink het.

 

Die klein dorpies het soms van die oulikste eetplekkies waaraan jy kan dink. Vrydagaand het ons heerlik voor die kaggel by die Schnapps Bar, ‘n gewilde bymekaarkomplek vir die skiërs, gekuier. Dit is so ‘n snoesige kroegie wat die lekkerste disse maak.

 

Saterdagoggend het helderblou aangebreek en Johan het ons al van 7-uur af begin aanjaag sodat ons die lang rye op die berg kon vryspring. Ek was toe die enigste slim een in die groep wat besluit het om aan te meld vir ‘n ski-les. Die ander drie was dapper genoeg vir “snowboarding”. Na ‘n uur en ‘n half se geswoeg en gesweet en neerslaan in die sneeu, was ek ‘n “pro” op die ski’s. Pieter-hulle het dit baie ongelukkig getref, behalwe dat dit baie moeiliker is om staande te bly op ‘n “snowboard” as op ski’s, was hulle instrukteur glo ‘n nul op ‘n kontrak. Hulle het sommer gou-gou teen ‘n hoë spoed daar teen die hellings afgeseil, maar omdat hulle nooit geleer is hoe om te stop nie, was die tweede beste manier maar om ‘n stuk sneeu te koop. Ons is dus die aand huis toe met twee baie seer en stywe mans. Gelukkig was die Tokaanu warmbronne so 40 km van waar ons gebly het en kon ons al die oorwerkte spiere daar in die 41 grade Spa-poele onder die sterrehemel gaan lawe.

 

Sondag het ons so kuier-kuier in die reën die pad terug Auckland toe aangepak. Ons eerste stilhouplek was in Taupo vir ‘n koffietjie en toe het ons die 45-minute wandelpad by Craters on the Moon aangedurf. Dit is presies wat sy naam sê  -  ‘n wandelroete tussen diep gate in die grond waar die stoom uittrek en waar jy soms die water onder die oppervlak kan hoor borrel. Nie eens die reëntjie kon ‘n demper op ons wandellus plaas nie. Na so ‘n vinnige besoek aan die Honey Hive en die Huka Waterval het ons die stuk ingesit huis toe.

 

Marco en Reghardt het verkies om die naweek saam met Kerry by die huis te bly. Hulle is nou al te groot om saam met Pa en Ma uit te hang en geniet dit in elk geval baie om eerder saam met Kerry dinge te doen. Hulle het alreeds by haar begin uitvis of sy nog net soveel tyd saam met hulle gaan spandeer as Nic oor drie weke weer by die huis is. Sy floreer op die aandag wat sy so van die seuns kry.

 

Ek sou graag hierdie briefie wou klaar skryf, want daar is nog so ‘n bietjie nuus, maar dit sal moet oorstaan tot more-aand. Ek gaan nou inkruip, want ek wil 1-uur more-oggend opstaan om die Haka te doen en 6-uur moet ek werk toe ry.

 

Groete uit die land van die Mighty All Blacks

 

Anna-Maré