Antjie Se Pen (subtitel van www.afrikakiwi.com)

Antjie se pen was die geboorte van my groot droom om eendag 'n boek of dalk twee te skryf. Een van my drie vereistes voor ek Nieu-Seeland toe gekom het, was dat daar van dag 1 af 'n rekenaar in die huis moet wees, want kommunikasie met die familie en vriende was uiters belangrik. Die dag dat ons voet op Kiwi bodem gesit het, het die eerste Nieu-Seeland nuusbrief die lig gesien... besoek ons webtuiste: www.afrikakiwi.com

Groete uit Orewa

Dinsdag – 10 Januarie 2006

17H00

Desember is daar hard gewerk, maar ook net so baie gespeel. Ons het gesorg dat daar ‘n goeie balans gehandhaaf word. Met so baie verjaarsdae, vyf om presies te wees en een daarvan sommer ‘n grote, het ons nie ‘n keuse gehad as om almal weer dieselfde ou bekende Nuwejaarsvoorneme te hê nie - slanke en gesonde liggame in 2006.

Die seuns het maar min vakansie tot dusver gehad. As hulle saans gaan slaap, tel hulle nie skapies nie, maar dollars. Aldrie het hulle oë op baie groot en duur artikels aan die einde van hierdie werkseisoen gestel. Reghardt is die ou wat die meeste ure ingesit het, want hy wil einde Januarie Nic se motor koop. Ek het so gehoop hy sal van hierdie mal plan afsien, want dromers hoort nou een maal nie agter ‘n stuurwiel nie. Hy is egter vasberade om as die skool begin sy eie wiele te hê. Daar lê egter nog baie skaafwerk voor en sal Nic maar die goeie Ouboet moet wees en hom vir nog so ‘n paar rylesse neem.

Nic werk al vandat hy terug is van Summer Camp by die houtfabriek waar hy nogal ‘n groot salaris verdien. Hy het nou sy hart verloor op ‘n bakkie of soos hulle dit in NZ noem, ‘n “ute”. Ek weet nie of die bakkie so ‘n goeie idee is nie, want in Nieu-Seeland is dit teen die wet om mense agterop ‘n bakkie te vervoer, selfs al is daar ‘n kappie op. Alle passasiers moet ten alle tye ‘n veiligheidsgordel dra en dit is nie moontlik in ‘n bakkie nie. Dalk sal die bakkie vir ‘n ruk nog net ‘n droom wees, want Nic is skielik weer ‘n klein seuntjie wat die afgelope ruk baie geld op speelgoed spandeer het. Hy het vir homself ook Kersgeskenke gekoop - twee “ remote control “ karre - en geniet dit vreeslik om met hulle in die straat te ry. Gister het hy vir hom ‘n fiets wat net soos ‘n Harley Davidson lyk, gekoop. Ons baklei nou omtrent om daarmee te ry en trek oral aandag waar ons gaan.

Marco het nog voor die vakansie begin het, gesê Kersfees gaan hy met sy eie kajak by Wenderholmpark op die rivier vaar. Elke sent is gespaar vir die kajak en toe skielik is daar ‘n groot kinkel in die kabel. Marco word al hoe stiller, is nooit honger nie, trek al sy kajak-spaargeld en hy en Kerry gaan koop hope klere daarmee. ‘n Pragtige meisietjie met die breedste glimlag wat ek nog ooit gesien het, het sy voete onder hom uitgeslaan. Sy is van Roemenië en was nog ‘n baba toe Kiwi’s haar aangeneem het. Skielik was ons huis vol kinders en Kerry nie meer die enigste dogter nie. Sy het ons almal egter gou ingelig sy was eerste hier en sal daarom altyd nommer 1 wees. Ek voorsien ‘n baie interessante toekoms eendag vir ons met drie skoondogters.

Die Deli het hierdie Kersseisoen al sy doelwitte ver oorskrei. Ons verkope Kersfeesweek alleen was $ 9000 meer as verlede jaar dieselfde tyd. Ek is baie in my noppies met die ongelooflike groei wat ons gehad het, 31% om presies te wees. Dit het egter nie vanself gekom nie. Soggens 5-uur as almal nog in droomland was, het ek al daar tussen die slaaie, kouevleise en kase gewoel. Gelukkig geniet ek my werk so baie dat dit ‘n lekker moegheid is wat saans so oor my neerdaal as ek huis toe gaan.

Pieter is die enigste een wat so ‘n paar dae vakansie gehad het. Dit was ook nie veel van ‘n vakansie nie, want hy het gesorg dat daar die minimum werk vir ons ander by die huis gewag het. Ja, ek is geseën met vier wonderlike mans in my lewe.

Die kinders se skool het die laaste week in November gesluit en hulle gaan nou eers weer die 7de Februarie terug hok toe - ‘n lekker laaaang vakansie. Marco en Reghardt gaan maar ‘n baie kort eerste kwartaal hê, want hulle mis die laaste twee weke van kwartaal een. Ons drie vlieg mos die 2de April Suid-Afrika toe. Ek begin nou al opgewonde raak en kan nie meer wag om die 4de April weer deel van die KKNK-skare te word nie.

Die universiteit begin die 27ste April. Nic en Kerry het reeds geregistreer vir hulle tweede jaar. Dit sal seker maar in die begin so ‘n bietjie van ‘n aanpassing vir Nic wees om weer die boeke op te neem na ‘n hele jaar van pret en plesier.

Die oomblik toe ek Corné Krige se The Right Place at the Wrong Time sien, wou ek dit met alle mag lees. Ek het mos ‘n swakte vir Outobiografieë - daardie nuuskierige gene in my. Die eerste paar hoofstukke in die boek het ek baie menslik en roerend gevind, die Kamp Staaldraad-hoofstuk was ‘n riller en die res van die boek….uiters BORING!! Op die oomblik is ek besig om Sharon Osbourn se boek te verslind - lekker “ juicy “ stories.
Kerry is op die oomblik in Suid-Afrika. Sy kuier vir drie weke by vriende in Oos-Londen om “closure” te kry en daarvandaan gaan sy vir nog drie weke na haar ouers in Hong Kong. Dit beteken nou dat ek gedurig links of regs moet kyk sodat ek nie dalk op Nic trap nie. Hy is dwalend en gedurig onder my voete. Alleenwees is nie vir hom nie.

Terwyl ons ander maar redelik passief is, verken Pieter ten minste vyf keer per week groot dele van die omgewing met sy fiets - nie eens die reën of wind kan hom keer om so tussen 50 en 80 km per dag te ry nie. Hy neem oor twee weke aan sy eerste fietswedren deel. In Maart is daar ‘n vierdag-fietstoer waarna hy baie uitsien.

Dit is nou hoe die stand van sake hier in die Claassen-huishouding staan. In die volgende nuusbrief hou ons jolyt, word daar geduik en vaar ons op die waters met die nuutste toevoeging tot al die speelgoed.

Tot netnou

Anna-Maré

0 Comments:

Post a Comment

<< Home