Feestyd in NZ - deel 2
Dinsdag – 10 Januarie 2006
20H00
Terug met die laaste deel van die jaar...
Ons is Kersoggend begroet met Gordonsbaai se wind wat al ons planne vir die dag deurmekaar gewaai het. Daar is toe besluit op ‘n tipiese Claassen-ontbyt wat altyd uitloop op ‘n laaang kuier om die tafel.
Toe dit net lyk asof die windjie minder roer, het ons die gebruiklike piekniekmandjie gepak, die boot en Engela se kano gelaai en die pad gevat strand toe. Terwyl die manne en Kerry op die boot kerjakker het, het ek en Engela met die kano rivier op geroei en die natuurskoon bewonder. Ons was baie beïndruk met ons roeivermoë - het amper soos die Swindell-tweeling van NZ oor die water geseil, natuurlik met die hulp van die wind in ons blaaie. Die omdraaislag was egter ‘n perd van ‘n ander kleur. Vir elke meter wat ons vorentoe gevorder het, het die wind ons twee meter teruggestoot. Op die einde het ons in ‘n stroom beland en was die kans om weer by ons kampplek uit te kom, nul. Boonop was ons buite sig van die res van die groep en kon hulle nie eens kom help nie. Die enigste opsie wat oorgebly het, was om uit te spring en wal toe te gaan. Dankie tog vir “ life jackets “... Die kano is net daar gelos en moes ons voetslaan terug piekniekplek toe.
Nic is ‘n “ Boxing Day “-baba en teen hierdie tyd was ons nou al moeg van speel en eet. Hy het dus maar ‘n baie droë 20ste verjaarsdag gehad. Ons sal die einde van die jaar opmaak hiervoor en uithang vir sy 21ste verjaarsdag.
Oujaar was meer as besonders. Dit was die uwe se verjaarsdag, die beste wat ek kan onthou. Vroegoggend het al die seuns en Kerry by ons op die bed kom kuier en natuurlik vir my toegegooi met geskenke. Ontbyt was by ons gunsteling “ coffee shop “ wat op die see uitkyk en toe is ons stad toe vir ‘n verdere groot bederf. Engela het vir my ‘n kinderpartytjie voorberei, kompleet met ballonne, ‘n koek met kersies en rooi koeldrank. Johan is ‘n bobaas-seekossjef en was my gunsteling dis op die spyskaart - seekospot. Die res van die middag het ons op die mat uitgekamp en Nic se pokerstel ingewy.
Tienuur is ons stad toe en het deel van die skares geword wat 2006 en die vuurwerkvertoning kom inwag het. Ons het Auckland se Queenstraat platgeloop op soek na roomys en ons verkyk aan die straatkunstenaars. Die Hare Krishna het my natuurlik heeltemal betower en ons het ons vergaap aan hulle. Ons soektog na roomys het ons toe kort voor middernag na ‘n koffiewinkeltjie naby Pieter se werk gelei waar ons elkeen ‘n Frappecino ( amper iets soos milkshake ) gegryp het en toe genael het vir Gen-I se dak.
Gen-I is Pieter se kantoorblok, 20 verdiepings hoog en die naaste gebou aan die Sky Tower. Toe die klok 12-uur slaan, het die stad klein onder ons gelê, die derduisende mense se gejuig om ons weerklink en was die mooiste klank die van die bote in die hawe. En toe asof hulle net gewag het vir die geluid van die mishoring, ontplof daar ‘n pragspel van kleur bo ons koppe. Ek is nog steeds oortuig dat niemand Oujaarsaand nader as ons aan die vuurwerkvertoning was nie.
En op die hoë noot sluit ek nou eers die NZ-sage af.
Groete uit Orewa
Anna-Maré en Kie
0 Comments:
Post a Comment
<< Home