Feestyd in NZ - deel 1
Dinsdag – 10 Januarie 2006
19H00
Ek het vandag spesiaal vroeg by die werk weggeglip sodat julle julle oggend kan begin met ‘n terugblik na ons Desemberpret.
Soos die vorige vyf Kersfeeste het ons weer die huis getooi in Kersliggies en is daar ‘n vars kersboom gekoop sodat alles na Kersfees kan ruik. Sommer vroeg in die maand was almal al in ‘n feestelike luim, ten spyte daarvan dat die meeste van ons die meeste van die tyd gewerk het.
Die Kersseisoen is afgeskop met ‘n duikoggend by Goat Island. Goat Island is ‘n klein eilandjie net ‘n kort entjie van die kus af. ‘n Mens kan soontoe roei in ‘n kajak, of selfs soontoe swem. Dit is ‘n baie gewilde plek om te duik en te snorkel. Vroeër jare het die seevaarders bokke en varke op die eiland losgelaat om te verseker dat vars vleis maklik bekombaar is as hulle die eiland aandoen. Op die ou einde het daar net bokke oorgebly, want die varke was slim genoeg om na die land toe te swem!
Gewapen met duiktoerusting en die gebruiklike piekniekmandjie is ons al douvoordag uit Orewa. Pieter en Johan het nie veel tyd op land verspil nie, want Goat Island is ‘n reservaat en kan duikers dus verseker wees dat hulle met elke duikslag die room van die Onderwaterwêreld sal sien. Omdat dit ‘n reservaat is, word die perlemoen (genoem paua) en krewe tot die frustrasie van baie duikers baie groot. Dit is mos taboe om enige seekos uit te haal of enige seelewe in die reservaat te jag. Aangesien ek selfs in ‘n stort kan verdrink, moes ons ‘n ander manier vind om ook ‘n kykie onder die see te kry. Ek en Engela is op Goat Island se bekende Glass Bottom Boat http://www.glassbottomboat.co.nz/. uit op die see en om die eiland. Dit was ‘n belewenis. Ons kon net sowel daar onder die water gewees het. Ons het Blue Mao-Mao, Parore, Blue Cod, Snapper (wat 50 – 60 jaar oud kan word!) en selfs ‘n skool jellievisse gesien! Aan die agterkant van die eiland is ‘n paar interessante seerowergrotte en oral op die rotshange was seevoëls.
Johan se groot droom was om eendag sy eie bootjie in NZ te besit. Die droom het toe vroeg in Desember waar geword toe hy vir hom ‘n 2,9m rubberduck gekoop het. Die Dorado voel sommer soos ons almal s’n, want behalwe vir die feit dat hy hier by ons gestoor word, het Johan vinnig-vinnig al die seuns touwys gemaak om die boot op die water uit te neem. So hulle is nou almal stuurmanne.
11 Desember het ‘n rooi kringetjie op die almanak gekry. Nie net was Marco 16 nie, maar is die Dorado ook vir die eerste keer ter water gelaat - kompleet met sjampanje en al. Spareribs en Wenderholmpark was Marco se keuse vir sy groot dag. Pieter is bobaas as dit kom by Spareribs braai en Wenderholm is ons almal se gunsteling park, met die rivier aan die eenkant en die see aan die agterkant. Vroegoggend was die gety nog laag, wat beteken het ons moes maar stadig en versigtig in die rivier afry tot in die see voordat ons lekker kon laat waai het. As ‘n mens eers op die oop see is, is dit heerlik om die enjintjie oop te maak en te laat loop oor die water. Gelukkig was dit ‘n pragtige dag en die water was redelik kalm. Die verjaardagmaatjie het sy dag gate uitgeniet en was self ‘n “cowboy” op die water.
Hierna het ons die verjaarsdae ingeryg. Die 20ste Desember was dit Kerry se beurt. Sy was die een met die GROOT verjaarsdag....A night under the stars. Dit gebeur net as ‘n mens 21 word. Ons moes almal swart en wit dra en halftien was slaaptyd vir die grootmense. Met haar ouers wat in Hong Kong woon, moes skoonma maar inspring en sorg vir die eetgoed. Dit het amper gevoel soos die dae toe ek al die skoolfunksies se fyn eetgoedjies moes maak. Sy het Nic mooi laat verstaan sy wil niks anders as ‘n ring vir haar verjaarsdag hê nie en dit het my lekker laat bloedsweet. Gelukkig is daar iets soos vriendskapsringe ook.
Ons ander drie het nou wel nie groot verjaarsdae gehad nie, maar ons het die groot dae gekies om jarig te wees. Johan was eerste aan die beurt op Oukersdag. Ons het hierdie groot verrassing gereël gehad vir die dag - ‘n rit met die stoomboot op die Kaipara Hawe, maar toe speel die weer nie saam nie. Hy moes toe maar tevrede wees met die gewone Claassen-ritueel op Oukersaand. Ons het tuisgemaakte sosaties soos net ek hulle kan maak - klink seker lekker windgat, maar dit is my “ claim to fame “ – gebraai. In plaas van ‘n sjampanjetjie, het ons ‘n tequilatjie nadergetrek vir ‘n heildronk. Daarna is daar om die Kersboom gekuier tot ons 11-uur kerk toe is vir die laataanddiens. Kersvader het eers na kerk geskenke kom uitdeel, wat beteken dat ons toe eers in die laatoggendure bed toe is.
Hierdie jaar was daar drie kandidate vir Kersvader se hoed - Johan omdat dit sy eerste Kersfees in NZ is, Kerry omdat dit haar eerste Kersfees saam met ons is en dan Marco omdat hy die enigste een in die gesin is wat nog nie Kersvader was nie. Pieter wou nie dat ons die ketting breek nie en toe kry Marco die eer om hierdie jaar Kersvader te wees. Hy het ‘n baie goeie werk gedoen en vir almal presies gebring wat op hulle wenslysies was.
Net omdat die brief nou ‘n bietjie lank word, gaan ek eers groet.
Tot netnou
Anna-Maré

0 Comments:
Post a Comment
<< Home