Antjie Se Pen (subtitel van www.afrikakiwi.com)

Antjie se pen was die geboorte van my groot droom om eendag 'n boek of dalk twee te skryf. Een van my drie vereistes voor ek Nieu-Seeland toe gekom het, was dat daar van dag 1 af 'n rekenaar in die huis moet wees, want kommunikasie met die familie en vriende was uiters belangrik. Die dag dat ons voet op Kiwi bodem gesit het, het die eerste Nieu-Seeland nuusbrief die lig gesien... besoek ons webtuiste: www.afrikakiwi.com

Kiwi-nuus Deel 1

Vrydag8 September 2006

16H00

Goeie Vrydagoggend

Ja, ek het klaar gerou en het uit my wegkruipplek gekom. Ek het gesit en worstel met die vraag: Is dit slegter om met 1 punt te verloor of met 1 punt te wen. Op die einde het ek maar volstaan met “ ‘n Wen is ‘n Wen - dus geluk aan al die Bok-ondersteuners. Die All Blacks kan nie kla nie - hulle het die Bledisloe, Tri-Nations en ook Freedom Cup(so byna het Joost dit gegaps ) en hulle besef nou daar is nog baie werk voor 2007 se WB.

Dit is heerlike lente…en die huis en die tuin het ‘n nuwe baadjie gekry. My tuinvrou was vandag hier en sy het my so geïnspireer dat ek sommer ‘n wavrag plantjies gaan koop het. Hopenlik lyk alles feestelik teen die tyd dat ons Nic se groot verjaarsdag vier. Janet wat ons tuin versorg, is so ‘n skraal blonde vroutjie wat vrou-alleen binne drie ure ‘n hele tuin omdolwe en al wat onkruid is, uitroei. Aangesien hier nie handlangers is nie, is ‘n ambagsman of die vullisverwyderaar of tuindienste gewoonlik ‘n “one man band “.

Dit gaan op die oomblik maar rof by die werk. Die opposisie se werkers by die afleweringspunte staak. Hulle wil ‘n 30% verhoging , wat hulle natuurlik nie gaan kry nie. Dit is gelukkig ‘n vreedsame staking - niemand het nog geplunder en geroof nie. Natuurlik beteken dit dat ons nou ‘n stormloop soos ons gewoonlik net met Kersfees ervaar, het. Ek is dus leeggetap as ek saans by die huis kom. Die beste wat ek op die oomblik kan doen is ‘n algemene briefie - sal later weer persoonlike briefies skryf. Ons oes nou eers lekker.

Ons het nou wel nie so baie Openbare Vakansiedae om een of ander gebeurtenis te herdenk nie, maar die Kiwi’s spog met ‘n hele paaranderstepretdae op die kalender. Verlede week was dit “ Boobs on Bikes”-dag. The name says it all. Teen middagete is Aucklandstad se hoofstraat gepak met mense soos jy dit net tydens die jaarlikse Santa Parade sien. Die ouens se kameras werk dan oortyd soos hulle al die verskillende groottes en vorms wat op wiele in Queenstraat afkom, afneem. Ek het hier teen 12-uur vir Pieter wat in die stad werk gebel, net om seker te maak hy is doenig met die regte dinge. Dan is daar natuurlik ook die jaarlikse Nude Day - " Nudeness is most fun when shared. It’s easy, the first step is to buy a nude day Tee Shirt & or a Beanie. The Nude Day Beanie is FOR those that would like something to wear on the actual day. Be generous with your nakedness. So lei die advertensie om van hule T-hemde en Beanies ontslae te raak. Ek weet self nie hoe die dag werk nie en wie deel daarvan is nie, maar ek het ‘n T-hemp wat Nic verlede Kersfees vir my gekoop het.

In die begindae in Nieu-Seeland het ek altyd sulke lang treurmares oor sekere van my gunsteling kosse wat ons nie hier kan kry nie, gehad. Later het ek gewoond geraak aan die anderste koffie en mayonnaise, die bleek hoenders en kaas en die piepklein waatlemoentjies. Ek het egter nog gedurig ‘n groot lus vir skorsies gehad, een groente wat nie hier te kry is nie. Toe skielik in die begin van die jaar duik die klein ronde groen pampoentjies in die winkel op. Ek het almal op hol gehad oor my vonds en kon die ou in die groente-afdeling nie genoeg bedank vir sy nuutste aankope nie. En net soos met alle ander dinge in die lewe, was die nuutjie ook net in die begin snaaks. Dit is maande laas sedert skorsie op ons spyskaart was.

Toe word dit ouma se pepperment-yskastert, maar met geen Orley Whipp in die land nie en tennisbeskuitjies en peppermentsjokolade wat jy net ten duurste by die SA-winkel kan koop, skryf ons toe maar die lus af. Ek kry egter die groenlig om SA-produkte in my deli se gourmet-afdeling te verkoop en nou bestel ek na hartelus alles waarvan ek hou en teen ‘n heelwat laer prys. So vanaand is daar peppermint-yskastert, gemaak met gewone room, vir nagereg. Mieliepap, Rooibostee, Zoo-koekies en Jelly Tots is die topverkopers.

Die mense kla my eposse is te lank. So ek skryf maar in episodes. Nommer 2 volg oor ‘n rukkie.

Anna-Maré

0 Comments:

Post a Comment

<< Home