Sondag – 16 Julie 2006
21H00
More
Die winter het ons in sy koue greep. As ek nie soggens met die geluid van reën op die dak wakker word nie, is die gras en Nic se motor toe onder die ryp. Sonlig is deesdae maar baie skaars. Gelukkig is daar die “wood burner“ wat sommer gou-gou die koue verdryf. Dit is een van die geselligste kuierhoekies in die huis. Hier sit ons sommer plat op die vloer en eet , speel speletjies of haal in op almal se daaglikse gebeure.
Een van die ligpunte sommer hier op die erf is ons nartjie-oes. Verlede jaar was die nartjies maar droewig. Ek het gister so ‘n voorsmakie gehad van wat op ons wag so oor twee tot drie weke. Die narjies kort nog net so ‘n bietjie son, dan het ons ‘n uitvoerproduk op die agterwerf.
Dit gaan baie goed met die kinders. Maandagoggend kom hulle luilekker-vakansie tot ‘n einde. In die begin sal Marco en Reghardt seker so ‘n bietjie onttrekkingsimptome hê, want hulle was mos byna vir die hele twee weke aan hulle rekenaars gekoppel. Hier lê ‘n stywe kwartaal voor, want Reghardt skryf een van die dae ‘n “ mock exam “ en vroeg in November is dit sy finale skooleksamen. Met die Seniorbal en ‘n heerlike sneeu-vakansie agter die rug, gaan ons nou maar vir eers die leisels styftrek.
Nic en Kerry se tweede semester begin ook Maandag. Sy eerste semester-uitslae was uitstekend, punte waarvan sy ma nooit eers gedroom het nie - ‘n A+, 2A’s en ‘n B. Ouens met sulke punte het ek sommer altyd akademiese wrakke of “nerds” genoem en dan was dit nie suur druiwe nie. Ek het my sosiale lewe maar net probeer regverdig.
Ek het so ‘n tydjie gelede twee baie interessante slagspreuke gelees. Die eerste een was op een van ons busse. Ek en Pieter het in die stad gestap toe ‘n bus langs ons stop. Aan die buitekant van die bus, waar jy inklim, staan daar toe: THIS BUS KNEELS ON REQUEST. Blykbaar is dit vir die oumensies bedoel. Die bus se voorkant kan glo sak sodat hulle nie die ou krombene so hoog hoef te lig nie. Die Kiwi’s staan mos nie juis bekend as die wêreld se grootste Christene nie; daarom was ek heeltemal verstom toe ek Auckland binnery en op een van die groot advertensieborde lees: GOD SAYS:” I DON’T MIND IF YOU YELL AT ME, AT LEAST WE ARE TALKING.”
Pieter is stadig maar seker besig om die hele huis aan te steek om ‘n bietjie meer aktief te word. Hy het nou by Red Beach se muurbalklub aangesluit waar hy hoofsaaklik saam met Ryno speel. Die muurbal-gogga begin nou ook aan Kerry en Nic knaag en hulle het al een keer saam met Pieter-hulle die klein balletjie gaan rondjaag. Dit klink asof hulle dit nou meer gereeld wil doen. Selfs ek trotseer nou weer saans die koue en donker met my fiets. Wanneer Pieter gaan draf, trap ek ‘n paar kilometer. Soms gaan drafstap ek en sleep dan altyd vir Marco saam. Danksy Pieter se klein MP3-spelertjie maak Anton en Steve en al die ander Afrikaanse kunstenaars die pad vir my baie korter.
Pieter het twee groot byeenkomste waarvoor hy nou oefen. Einde Oktober neem hy deel aan die Auckland Maraton en wil hy graag sy eerste vol maraton hardloop. Hy is hard besig om my te oortuig om net die 10km te doen. Die GROTE wag einde November - die Taupo Cycle Challenge. Dit is ‘n 160 km fietswedren wat rondom Lake Taupo
afgelê word. Daar is blykbaar ‘n hele paar Meneer-heuwels. Hierdie een gaan ek net bywoon as toeskouer-ondersteuner. Fietsry doen ek vir my plesier en die Taupo Race klink glad nie soos pret nie.
Ek is baie opgewonde oor my toekoms by die werk. Die grootste Mall in die Suidelike Halfrond, altans so word daar gesê, word by Albany, wat net so 15 minute se ry van die huis af is, gebou. Die goeie nuus is dat daar ook ‘n New World binne in die sentrum gaan wees en die kanse lyk baie goed dat ek dalk die pos in die Deli kan kry - ‘n splinternuwe massiewe deli. Die Mall behoort eers teen Junie 2007 klaar te wees, maar dit pas ons goed. Ons moet eers vir Marco wag om volgende jaar matriek klaar te skryf voordat ons daaraan kan dink om te trek. Albany is ‘n goeie keuse, want dit is by die universiteit en ook naby die groot busdepot vanwaar die busse op die nuwe bus-snelweg vertrek.
IF ANYTHING ELSE FAILS, BLAME IT ON THE REF…..Ek is so bly dat almal wat my ken en vir wie ek ken, weet dat ek al lankal nie meer ‘n Bok-ondersteuner is nie. Ek gaan dus more, anders as baie ander SA-ers, werk toe sonder om die grap van die jaar te wees. Mense kan maar kwaad word vir my, maar dit is fantasties om ‘n span met soveel
klas (en diepte!!!) soos die All Blacks te ondersteun. Hulle praat nie groot voor die tyd en maak dan absurde verskonings na die tyd nie. Die Aussies sou blykbaar ‘n “walk over “ wees, want wat die Kiwi’s kan doen, kan die Bokke ook doen….
En op hierdie noot groet ek eers.
Liefde uit die land van die Mighty All Blacks
0 Comments:
Post a Comment
<< Home