Antjie Se Pen (subtitel van www.afrikakiwi.com)

Antjie se pen was die geboorte van my groot droom om eendag 'n boek of dalk twee te skryf. Een van my drie vereistes voor ek Nieu-Seeland toe gekom het, was dat daar van dag 1 af 'n rekenaar in die huis moet wees, want kommunikasie met die familie en vriende was uiters belangrik. Die dag dat ons voet op Kiwi bodem gesit het, het die eerste Nieu-Seeland nuusbrief die lig gesien... besoek ons webtuiste: www.afrikakiwi.com

Deel 1 - Uiteindelik lewe in NZ

Donderdag – 11 Mei 2006

20H00

Hallo Almal

Skande!! Skande!! Dit is op een dag na vandag presies VIER MAANDE dat ek laas ‘n bietjie Nieu-Seeland-nuus die lig laat sien het. So hier volg nou ‘n stormloop in episodes opgedeel...

Oos, Wes, Tuis Bes.....Heerlik om weer by die huis te wees. Moenie verkeerd verstaan nie - ek het ‘n fantastiese vakansie in Suid-Afrika gehad, maar ‘n mens se eie plek bly maar die lekkerste plek om te wees.

Ek weet daar is baie mense wat skande-kwaad vir my is omdat ek nie gesig kom wys het nie, maar hierdie keer was my hoofdoel om by my ouers te kuier, want hulle word ook nie jonger nie. Volgende keer kuier ons weer lekker saam.

Ek het al vergeet ek het vakansie gehad so ingeburger is ek alweer by die werk. Die vakansie het wondere verrig, want ek sien weer kans vir vroeg opstaan, al die nuwe doelwitte en syfers wat gehaal moet word en het baie nuwe planne vir my Deli.

Hier het ‘n groot verrassing op Marco en Reghardt gewag toe ons in Nieu-Seeland aanland. Volgens die kalender moes hulle tweetjies die oggend na ons geland het, teruggaan hok toe. Hulle het alreeds twee ekstra weke vakansie gehad en baie skoolwerk verloor. Aangesien Paasnaweek en ook Anzac Dag deel van die vakansie was en dit eintlik baie onregverdig is om dit in te reken by die skoolvakansie, het baie van die hoërskole nog drie dae by hulle vakansie gevoeg. Die seuns het hulle vakansie in Suid-Afrika baie geniet, al was die trekpleisters aan hierdie kant baie sterk. Marco was siek van verlange na sy Roemeense liefde en Reghardt is die laaste van die drie manne wat toe ook geval het - hy het sy hart ‘n paar dae voordat ons SA toe moes vlieg, verloor. Hy sit deesdae in styl op - hy het die meisie vanaand na ‘n opvoering, Pride and Prejudice, geneem. Die teater is maar‘n klipgooi van ons huis af. Met die nuutste toevoeging tot die familie, word die huis nou te klein.

Hierdie jaar se Uni Games ( Intervarsities ) is in Wellington gehou. Nic het lankal, tot sy ma se vreugde, uit rugby getree. Die gees wil nog speel, maar die vlees, sy knieë, het lankal halt geroep. Hy is egter saam op die tien uur lange treinrit Wellington om sy universiteit te gaan verteenwoordig op die sportveld. Hy was deel van Massey Universiteit se Ultimate Frisbee-span, ‘n sport waarvoor jy nogal redelik fiks moet wees. Anders as die Intervarsity wat ons in Suid-Afrika ken, is hierdie ‘n weeklange sportgebeurtenis waar al NZ se universiteite op verskillende sportterreine meeding, selfs op die rolbalbaan. As ek na die foto’s in die universiteitsblad kyk, lyk dit asof Nic ‘n fees gehad het en die voorbok by die sport en sports was - die een oomblik lei hy die haka op die veld en later die dag kom hy in ‘n winkeltrollie die straat af.

Die rook draai sommige dae daar by sy kamer uit. So tussen hom en Kerry het hulle al ‘n paar boeke geskryf - elke week is daar ‘n werkstuk of meer wat ingehandig moet word. Hy vaar egter ongelooflik goed - het tot dusver nog net onderskeidings vir sy take gekry - nou spog ek darem lekker.

Pieter is baie bedrywig - hardloop, ry fiets, neem deel aan wedrenne en gaan nou ook sy eie duiktoerusting koop sodat hulle meer gereeld kan gaan duik. Hy het ook intussen na ‘n ander afdeling in sy maatskappy geskuif, waar die vorderingsmoontlikhede meer is en sy werk ook geskoei is op die studies waarmee hy tans besig is.

Nou is julle weer ‘n slag op hoogte met die Claassen-bedrywighede. Ek gaan nou eers my Afrika-briefie klaar skryf om ook vir julle te stuur.

Groete

Anna-Maré

0 Comments:

Post a Comment

<< Home