Antjie Se Pen (subtitel van www.afrikakiwi.com)

Antjie se pen was die geboorte van my groot droom om eendag 'n boek of dalk twee te skryf. Een van my drie vereistes voor ek Nieu-Seeland toe gekom het, was dat daar van dag 1 af 'n rekenaar in die huis moet wees, want kommunikasie met die familie en vriende was uiters belangrik. Die dag dat ons voet op Kiwi bodem gesit het, het die eerste Nieu-Seeland nuusbrief die lig gesien... besoek ons webtuiste: www.afrikakiwi.com

Senior Ball


Goeiemore

Elke ma dink mos maar haar bloedjie is die oulikste en die mooiste, wel
ek is ook maar net 'n ma. Vanoggend wil ek gou spog met ons twee baie
aantreklike jongmans.

Dit was Saterdagaand Reghardt en Marco se Senior Ball, 'n funksie
soortgelyk aan die matriekafskeid. Die verskil is net dat beide die
standerd neges en tiens die funksie as gaste mag bywoon. So die twee
broers kon dus hierdie jaar saam in die Limo klim.

Dit hele aand was omtrent 'n groot affêre. Die agstuks wat saam na die
funksie is en hulle ouers het 5-uur vir 'n paar drankies en 'n ligte
vingerete by ons huis bymekaar gekom. Dit is nou die sogenaamde pre-Ball
wat die kinders ook kans gee om groepfoto's te neem. Sesuur het 'n baie
spoggerige limo opgedaag en die klomp is toe hier weg. Hulle het die
limo vir 'n uur tot hulle beskikking gehad en het toe op 'n "joyride"
deur Aucklandstad gegaan voordat hulle by die North Harbour Stadion
afgelaai is waar die funksie was. Hulle het eers op die Aucklandbrug
stilgehou waar hulle nog foto's kon neem.

Die ouers ( wie ons van geen Adamskant af ken nie ) het toe vergeet dat
hulle eintlik genooi is vir 'n pre-Ball en kuier toe sommer nog so 'n
goeie paar uur langer. Engela en Johan was gelukkig ook hier en so
tussen ons vier kon ons die klomp Kiwi's toe lekker geselskap hou.

Nic en Kerry het ongelukkig uitgemis op al die opwinding, want Nic kuier
op die Suid-Eiland by 'n vriend en Kerry is in Australië om haar pa te
besoek.

Hier is 'n klompie foto's van die Groot Aand. Reghardt het sy hart op sy
metgesel verloor, al lank voor die dans, maar ongelukkig is die gevoel
nie wederkerig nie. Ons sal seker een of ander tyd weer 'n gebroke hart
moet troos. Marco se maat vir die aand is die Groot Liefde in sy lewe.
Sy het vanoggend Frankryk toe gevlieg - hulle het 'n vakansiehuis in
die suide van Frankryk.

Skryf weer later in die week met meer nuus.

Groete

Anna-Maré

0 Comments:

Post a Comment

<< Home