Antjie Se Pen (subtitel van www.afrikakiwi.com)

Antjie se pen was die geboorte van my groot droom om eendag 'n boek of dalk twee te skryf. Een van my drie vereistes voor ek Nieu-Seeland toe gekom het, was dat daar van dag 1 af 'n rekenaar in die huis moet wees, want kommunikasie met die familie en vriende was uiters belangrik. Die dag dat ons voet op Kiwi bodem gesit het, het die eerste Nieu-Seeland nuusbrief die lig gesien... besoek ons webtuiste: www.afrikakiwi.com

Mense wat my lewe aanraak

Saterdag – 11 April 2009
 
1800
 
More Almal
 
Die dood van ‘n goeie e-pos-buddie, ‘n groot siel wat my lewe aangeraak het, het my baie laat dink…
 
Die mense op my e-poslys is soos passassiers saam met my op ‘n reis, hetsy ‘n trein, ‘n boot of  ‘n vliegtuig. In 2001 begin ek my reis die onbekende in met ‘n oorvol passassierslys. “Moenie kontak verloor nie.” “Skryf vir ons.” “Moet ons nie vergeet nie.” Dit is maar ‘n paar van die laaste afskeidswoorde.
 
In 2009 staan ek terug en kyk na die mense wat in die 8 jaar saam met my op reis was. Sommige het nog voor die eerste halte afgeklim; ander het darem nog by so ‘n paar stilhouplekke bly sit. Die groot hartseer is dat die meeste van die wat nie meer langer deel van die reis wou wees nie, familie en baie goeie vriende was. Van sommige was daar van  die begin af nooit ‘n “hallo en hoe gaan dit met julle?”  nie en ander het na ‘n eerste kort briefie ook net doodstil geraak. Uit die oog, uit die hart…
 
Ander het weer nie gehou van die manier waarop ek skryf nie en het sommer so in die ry afgespring. Dankie tog…
 
Maar soos mense afklim, is daar ook altyd diegene wat langs die pad opklim. Dit is juis baie van hierdie mense wat my lewe op besonderse wyses aangeraak het. Byna die helfte van my epos-buddies het ek nog nooit ontmoet nie. Hulle het my sommer so langs die pad òf by mense op my e-poslys òf Antjie se pen raakgelees. Vandag is hulle dan ook die mense wat ‘n pad saam met my stap. Ek huil op hul skouers as die lewe druk, ek vra hulle om te bid as die pad duister lyk, ek gesels en baklei rugby met hulle, ek doen my vliegtuigbesprekings deur hulle, ons ruil notas uit oor immigrasie, ek kuier sommer net lekker op die internet met hulle. Byna almal vreemdelinge wat ek graag eendag sal wil ontmoet.
 
Een van hulle was Peter Beets. Toe my nood in April 2004 op sy hoogste was, kom hy in my lewe. Ek sit en slaap en skakel nie my SA-rybewys binne die eerste jaar oor na ‘n Kiwi-lisensie nie. Die klomp Kiwi’s wil toe hê ek moet die hele proses van leerlinglisensie tot beperkte lisensie tot vol-lisensie deurgaan, ‘n hele 2-jaar gedoente. Ek Google Peter Beets raak. Hy is ‘n hoge persoon daar by die Wes-Kaapse Departement van Vervoer en binne ‘n paar dae stuur hy vir my vorms uit die Kaap op sy eie onkoste. Twee dae later het ek ‘n geldige Kiwi-lisensie en so word ons twee hegte e-pos-maaikies. Ek ken later sy hele familie tot by Adam se kant en hy myne. Sy briewe lees soos ‘n storie en die meeste van die tyd skree ek soos ek lag, want hy mag maar stories vertel.
 
Sy e-posse word toe almal in ‘n aparte plekkie op die rekenaar gebêre, net ingeval ek hulle eendag in my boek wil gebruik. En toe skielik word hy stil en ek bekommerd. Na baie oproepe spoor ek hom op. Hy is met kanker gediagnoseer. Hy word nooit beter nie, maar hy hou ook nooit op met glo dat hy weer gesond sal word nie. Die belangrikste, hy hou nooit op met skryf nie. Selfs wanneer sy briewe aan my terugbons, gee hy nie op nie. Dan kommunikeer hy met my via my groot Aussie-vriend, wat hy deur my leer ken het en wat hom ook gaan opsoek het toe hy in SA was.
 
Peter Beets was nog in die fleur van sy lewe toe hy die stryd teen die siekte wat hom opgevreet het, verloor. Drie weke voor die Here hom kom haal, is sy vrou saggies in haar slaap langs hom oorlede. Peter Beets het die Here geken, hy het vir sy familie geleef, hy was bemind onder almal wat sy pad gekruis het, hy was ‘n meester met die pen en bowenal het hy tyd vir almal in sy lewe gemaak.
 
Ek sou graag al sy briewe met julle wou deel, maar dit is te veel. Hier is so ‘n paar uittreksels wat vir my baie spesiaal is:
 
Dit was ‘n dierbare ene:
 
Theresa verjaar more en ek moet nog ietsie moois vir my ou wyf gaan soek.  Hoop maar ek kry iets.  Sy kan nie meer winkels toe gaan nie na so twee beroertes en nou moet ek klere koop.  Ek verkondig darem so uit die staanspoor kliphard, sodat almal in die winkel kan hoor, dat ek die klere nie vir myself koop nie (vrees altyd iemand dink ek is 'n cross-dresser).  Gelukkig is Theresa kort en mollig (ek stel dit maar sagkens) en haar saais is gelukkig groter en korter as myne.  Dankbaar vir hierdie tipe van redding.
 
Sy humorsin het geen gelyke nie:
 
My Ma is toe om 01:39 op Dinsdagnag / Woensdagoggend 12 Oktober oorlede.  Ek glo ek het jou seker vertel dat sy baie siek was.  Ons het haar toe Vrydag 14 Oktober by haar ma in Pretoria begrawe.  Was maar 'n baie treurige dag vir my broer en my vier susters, maar ek glo ons sal bo uitkom as dinge eers bedaar het.  My Ma se testament lui dat haar aardse besittings deur haar ses kinders in gelyke dele geerf moet word.  Maar se jy nou vir my - as jy dan nie juis iets het nie, hoe deel jy dit dan op?  My susters se dogters het heerlik geshop tussen al die poeiertjies, lipstiffies, laventeltjies en sulke goedjies.  Volgens die hoeveelhede wat daar was, was Ma van plan gewees om 160 jaar of ouer te word en altyd opgetof te wees.  Glo dit of nie - wat maak mens met 41 pare skoene, 29 waslappe (alles nuut) en elf vlieeslaners - laasgenoemde nogals merkwaardig omdat sy in so eenman woonstelletjie gebly het tussen 'n klomp ander ou tannies.  Ek het die vlieeplakke huis toe gebring - seker op een of ander uitverkoping gekoop, want die bandjie wat die goedjies bymekaar gehou het, was ook nog daar - twelve for the price of one - tipiese Suid-Afrikaanse koeliewinkel.  Ek is so dankbaar vir die feit dat al ses van ons darem iets in die lewe bereik het en dat sy haar nie oor enige een van ons hoef te geskaam het nie.

Sy laaste brief aan my:
 
My vriendinn daar in die verte, stuur groete vir jou man en jou bulle en
onthou dak ek julle nie sommer net so sal vergeet nie.  Mens gryp nie
net die griffel vir so paar jaar en vergeet die res sommer net so nie.
Mens onthou, stuur groete en probeer om in kontak te bly.  Met die rugby
wat eersdaags weer begin, kan ons gerus weer vir vriend Kevin nader trek
en sewe soorte hartseer uit hom uit irriteer met die vieringe van ons
souperieure (vieslike verkeerdgeselde stuk anglisisme, maar tog te
lekker) spanne se gereelde oorwinnings.  Mag ons drie hierdie jaar baie
rede tot groot vreugde kan belewe met ons spanne se oorwinnings.  Mooi
bly en baie liefde hier uit die Kaap aan julle groepie Kiwi's.
 
Gods rykste seen.

Peter Beets het my lewe verryk en dit was ‘n voorreg om hom op my e-poslys te hê.
 
Groete
 
Anna-Maré

NZ-nuus 2009

Vrydag – 10 April 2009
 
1800
 
More Almal
 
Verlede Saterdagoggend 6-uur het ons swaar afskeid geneem van my ouers wat byna 6 weke by ons gekuier het. Dit was so vreeslik lekker om hulle hier te hê. Nou is dit weer terug tot die werklikheid en kan ek deel 2 van my vorige nuusbrief voltooi voor ek ‘n aksiegelaaide vakansiebrief skryf.
 
Net soos met die aanbreek van elke nuwe jaar, was daar weer die gewone doelwitte en ideale gestel vir 2009. Hierdie jaar is die Lotto en Weight Watchers nie op ons lysie nie – net ‘n gesonde leefstyl sal voldoende wees. Daarom skop ons dan ook die nuwe jaar op die regte manier af en soek ons die 1ste Januarie Wenderholm Park se vars lug, blou waters en boomryke piekniekplekke op. Johan sleep sy boot saam en die manne vaar die see in om al die klein eilandjies te gaan verken. Met die klein Beukessie wat die eerste week in April sy verskyning moes maak, is die rubberboot nie die gemaklikste plek vir Engela nie en kuier ons lekker onder die bome met ons storieboeke. Dit het Engela egter nie gekeer om later vir ‘n hele uur saam met Marco met die kajakke op die rivier uit te gaan nie. ‘n Mens het mos darem ook ‘n bietjie vitamien D nodig as jy gesond wil wees.
 
2009 is ‘n groot jaar vir ons…Ons tel die dae af na Oupa en Ouma se Goue Bruilof-kuiertjie in Februarie, Marco gaan Amerika toe, Reghardt word 21, Nic verlaat die nes, die kinders gaan ‘n “boetie” ryker word en die uwe word ‘n halfeeu oud. So tussenin moet ons nog die baas ook gelukkig hou, veral Pieter, want hy is die ene wat sy hand diep in sy sak moet steek vir baie van hierdie gebeurlikhede. Toe sy werk hom dus Sydney toe stuur vir 2 weke, moes hy maar klim. Gelukkig is hul verblyf altyd luuks en is daar ook genoeg tyd vir ontspanning en word Pieter se Sydney-besoek ‘n werksvakansie. Hy besoek die Opera-huis, ‘n voëlpark en dan sy gunsteling, Sydney se akwarium, waar daar selfs sekere tye van die dag mooi meerminne saam met met die visse swem  -  ‘n lekker studentewerkie. Twee naweke na Paasnaweek is dit al weer Sydney-tyd.
 
Ons almal het alreeds ‘n paar sportgeleenthede geïdentifiseer waaraan ons graag hierdie jaar wil gaan deelneem. Een van hulle was die Cathy Pacific Halfmaraton waaraan Pieter en Nic gaan deelneem het. Ek en Kerry het absoluut net in die fotograaf- en ondersteuningsrol saamgegaan. Ons sal later vanjaar genoeg geleentheid kry om ons eie ding te gaan doen. Die twee was maar lekker vodde toe hulle by die eindpunt aankom. Die jonger lede van die familie het seker besef Pa en Ma is ernstig oor hulle Nuwejaarsvoornemens en het ook by ons gym gaan aansluit. Nou hou ons sommer ons familie-saamtrekke so tussen die oefenfietse, roeimasjiene en “tread mills”.
 
Nic en Kerry het na ‘n verhouding van 6 jaar besluit om te kyk of hulle onder een dak sal kan saambly. Baie mense vra my of ek dink hulle gaan trou. Die antwoord is ‘n besliste Ja, maar net nie nou al nie. Hulle beplan om nog vir ten minste 2 jaar in London te gaan werk en was dit nie vir die skielike ressessie nie, was hulle die einde van die jaar al op pad. Hulle sal weet wanneer hulle reg is vir die Groot Stap, maar intussen ondersteun ons hulle in hul besluit. Gelukkig woon hulle nie te ver van die huis af nie en sien ons hulle gereeld, veral as daar lekker kos op die spyskaart is.
 
Reghardt is oor 2 weke 21. Anders as Nic, wil hy nie ‘n groot uithangpartytjie hê nie. Hy is tevrede met ‘n intieme familie-ete en sal eerder die geld neem…slim kind! Marco weet nog nie presies waar in Amerika hy geplaas is vir ‘n Summer Camp nie, maar behoort binnekort uit te vind, want hy vlieg einde Mei. Hy weet hy mag nie sy hart op ‘n Yankee gaan verloor nie.
 
Die afskeid Saterdagoggend is baie makliker gemaak met my geskenk wat ek vir my groot 50 gaan kry  -  ‘n vliegtuigkaartjie Suid-Afrika toe en natuurlik is dit so gereël dat dit saam met die KKNK val. Daar gaan geen groot makietie gehou word op die Oujaar nie, want elke sent gaan saam Kunstefees toe waar ek die hele week net van tent tot tent wil kuier. Ek het alreeds vroeër in die week die KKNK se program vir 2009 bestudeer, net om solank gees te begin vang.
 
O ja, julle wonder seker oor die kinders se boetie wat op pad is. Nee, die dae van wonderwerke is verby…Die kinders was vreeslik opgewonde toe Engela swanger word en het heeltyd na hom as hul boetie verwys. Klein Daniël Beukes het toe gisteroggend, die 9de April, sy verskyning in die wêreld gemaak. Met besoektyd wat hier strek van 1-uur in die middag tot 8-uur saans, het ek al die afgelope twee dae lekker popgespeel. Kerry is ook elke keer saam, want sy koer ook net so lekker soos ek. Selfs Pieter het vanmiddag die mannetjie vasgehou.
 
Ons kon Sondagoggend so ‘n uurtjie langer slaap. Saterdagnag 2-uur is die horlosies weer almal ‘n uurtjie teruggedraai, want “daylight saving” het tot ‘n einde gekom. Net so het my 6-weke vakansie ook tot ‘n einde gekom en was ek Maandagoggend weer terug in die tuig. Ek het gevoel soos iemand wat vir die eerste keer skool toe is.
 
‘n Geseënde Paasfees vir julle almal.
Groete
 
Anna-Maré

NZ-Nuus 2009