Antjie Se Pen (subtitel van www.afrikakiwi.com)

Antjie se pen was die geboorte van my groot droom om eendag 'n boek of dalk twee te skryf. Een van my drie vereistes voor ek Nieu-Seeland toe gekom het, was dat daar van dag 1 af 'n rekenaar in die huis moet wees, want kommunikasie met die familie en vriende was uiters belangrik. Die dag dat ons voet op Kiwi bodem gesit het, het die eerste Nieu-Seeland nuusbrief die lig gesien... besoek ons webtuiste: www.afrikakiwi.com

NZ-groete

Sondag – 16 Julie 2006

21H00

More

Die winter het ons in sy koue greep. As ek nie soggens met die geluid van reën op die dak wakker word nie, is die gras en Nic se motor toe onder die ryp. Sonlig is deesdae maar baie skaars. Gelukkig is daar die “wood burnerwat sommer gou-gou die koue verdryf. Dit is een van die geselligste kuierhoekies in die huis. Hier sit ons sommer plat op die vloer en eet , speel speletjies of haal in op almal se daaglikse gebeure.

Een van die ligpunte sommer hier op die erf is ons nartjie-oes. Verlede jaar was die nartjies maar droewig. Ek het gister so ‘n voorsmakie gehad van wat op ons wag so oor twee tot drie weke. Die narjies kort nog net so ‘n bietjie son, dan het ons ‘n uitvoerproduk op die agterwerf.

Dit gaan baie goed met die kinders. Maandagoggend kom hulle luilekker-vakansie tot ‘n einde. In die begin sal Marco en Reghardt seker so ‘n bietjie onttrekkingsimptome , want hulle was mos byna vir die hele twee weke aan hulle rekenaars gekoppel. Hier ‘n stywe kwartaal voor, want Reghardt skryf een van die dae ‘n “ mock exam “ en vroeg in November is dit sy finale skooleksamen. Met die Seniorbal en ‘n heerlike sneeu-vakansie agter die rug, gaan ons nou maar vir eers die leisels styftrek.

Nic en Kerry se tweede semester begin ook Maandag. Sy eerste semester-uitslae was uitstekend, punte waarvan sy ma nooit eers gedroom het nie - ‘n A+, 2A’s en ‘n B. Ouens met sulke punte het ek sommer altyd akademiese wrakke of “nerds” genoem en dan was dit nie suur druiwe nie. Ek het my sosiale lewe maar net probeer regverdig.

Ek het so ‘n tydjie gelede twee baie interessante slagspreuke gelees. Die eerste een was op een van ons busse. Ek en Pieter het in die stad gestap toe ‘n bus langs ons stop. Aan die buitekant van die bus, waar jy inklim, staan daar toe: THIS BUS KNEELS ON REQUEST. Blykbaar is dit vir die oumensies bedoel. Die bus se voorkant kan glo sak sodat hulle nie die ou krombene so hoog hoef te lig nie. Die Kiwi’s staan mos nie juis bekend as die wêreld se grootste Christene nie; daarom was ek heeltemal verstom toe ek Auckland binnery en op een van die groot advertensieborde lees: GOD SAYS:” I DON’T MIND IF YOU YELL AT ME, AT LEAST WE ARE TALKING.”

Pieter is stadig maar seker besig om die hele huis aan te steek om ‘n bietjie meer aktief te word. Hy het nou by Red Beach se muurbalklub aangesluit waar hy hoofsaaklik saam met Ryno speel. Die muurbal-gogga begin nou ook aan Kerry en Nic knaag en hulle het al een keer saam met Pieter-hulle die klein balletjie gaan rondjaag. Dit klink asof hulle dit nou meer gereeld wil doen. Selfs ek trotseer nou weer saans die koue en donker met my fiets. Wanneer Pieter gaan draf, trap ek ‘n paar kilometer. Soms gaan drafstap ek en sleep dan altyd vir Marco saam. Danksy Pieter se klein MP3-spelertjie maak Anton en Steve en al die ander Afrikaanse kunstenaars die pad vir my baie korter.

Pieter het twee groot byeenkomste waarvoor hy nou oefen. Einde Oktober neem hy deel aan die Auckland Maraton en wil hy graag sy eerste vol maraton hardloop. Hy is hard besig om my te oortuig om net die 10km te doen. Die GROTE wag einde November - die Taupo Cycle Challenge. Dit is ‘n 160 km fietswedren wat rondom Lake Taupo

afgelê word. Daar is blykbaar ‘n hele paar Meneer-heuwels. Hierdie een gaan ek net bywoon as toeskouer-ondersteuner. Fietsry doen ek vir my plesier en die Taupo Race klink glad nie soos pret nie.

Ek is baie opgewonde oor my toekoms by die werk. Die grootste Mall in die Suidelike Halfrond, altans so word daar gesê, word by Albany, wat net so 15 minute se ry van die huis af is, gebou. Die goeie nuus is dat daar ook ‘n New World binne in die sentrum gaan wees en die kanse lyk baie goed dat ek dalk die pos in die Deli kan kry - ‘n splinternuwe massiewe deli. Die Mall behoort eers teen Junie 2007 klaar te wees, maar dit pas ons goed. Ons moet eers vir Marco wag om volgende jaar matriek klaar te skryf voordat ons daaraan kan dink om te trek. Albany is ‘n goeie keuse, want dit is by die universiteit en ook naby die groot busdepot vanwaar die busse op die nuwe bus-snelweg vertrek.

IF ANYTHING ELSE FAILS, BLAME IT ON THE REF…..Ek is so bly dat almal wat my ken en vir wie ek ken, weet dat ek al lankal nie meer ‘n Bok-ondersteuner is nie. Ek gaan dus more, anders as baie ander SA-ers, werk toe sonder om die grap van die jaar te wees. Mense kan maar kwaad word vir my, maar dit is fantasties om ‘n span met soveel

klas (en diepte!!!) soos die All Blacks te ondersteun. Hulle praat nie groot voor die tyd en maak dan absurde verskonings na die tyd nie. Die Aussies sou blykbaar ‘n “walk over wees, want wat die Kiwi’s kan doen, kan die Bokke ook doen….

En op hierdie noot groet ek eers.

Liefde uit die land van die Mighty All Blacks

Ons Sneeu-naweek

Dinsdag – 11 Julie 2006

22H00

More-

A White Christmas… in die middel van die winter …

Daar is vir weke opgewonde uitgesien na hierdie sneeu-naweek. “Thermals”, “beanies” en handskoene was op almal se inkopielys, want dit is nie verniet NZ se koudste winter in 14 jaar nie. Na verlede jaar se heerlike ski-naweek by Whakapapa, was dit ‘n absolute moet dat die kinders ook hierdie jaar in die sneeu gaan baljaar.

Ons het Vrydagoggend 5-uur in die pad geval met die melktrein of altans so het dit gevoel, want die rit wat normaalweg 5 ure duur, het ons in 8 ure afgelê. ‘n Plek moes nes ‘n goeiedraai-loop-pleklyk, dan is daar stilgehou. Skaars ‘n uur op die pad en toe moes daar koffie gedrink word. Dit is toe dat ek die skokkende ontdekking maak. My beursie met ons bankkaarte en kontant is net weg. Gelukkige het ons kinders sakke vol geld en swaai ons toe maar die hele naweek Nic se kaart.

Dit het nou al instelling geword dat as ons suid reis, daar eers in Otorohanga, NZ se kiwiana-dorpie, ontbyt genuttig moet word. Na ‘n heerlike ontbyt en minder lekker cappuchino, moes daar eers foto’s by die Maori-beelde geneem word. Ek is mos mal oor Kodak-oomblikke, solank ek net nie voor die kamera hoef te wees nie. ‘n Uur later het Pieter begin glo dat hierdie naweekuitstappiegejinx” is, want ons ry die afrit na Mt Ruapehu mis en gaan draai byna by die kus om.

Toe ons einde ten laaste by die berg aankom, is Whakapapa-skiveld toe - te veel sneeu op die pad. Dit het ons egter nie verhoed om sommer daar langs die pad saam met die ander hordes aspirant-skiërs in die sneeu te speel nie. Dit was die seuns se eerste kennismaking met die wit vlokkies en sommer gou was daar ‘n sneeugeveg.

Ons het in Ohakune, Nieu-Seeland se “Carrot Capital” tuisgegaan. Ohakune aan die voet van Mt Ruapehu en is net ‘n klipgooi van die ander ski-oord, Turoa. Aangekom by ons motel waar ons ‘n 4-slaapkamer chalet gehuur het, wag daar nog ‘n skok op my. Almal help vinnig afpak sodat ons nog ‘n groot deel van die namiddag kan benut om Turoa te gaan verken. Gewapen teen die koue daar buite, wag almal net vir my, want ek soek nog na my tas, wat nêrens te vinde is nie. Dié het agtergebly in ons motor in Auckland toe ons oorgepak het na Johan se 4WD. Ek het toe maar die naweek in die seuns en Pieter se tasse gekuier en het toe ‘n goeie rede gehad om ‘n paar nuwe onder-kledingstukkies te kry.

n Sprokieswêreld. ‘n Wit Kersfees ( jy het enige oomblik ‘n takbok iewers verwag ). Sneeu en nogmaals sneeu, hoe hoër ons teen die berg uit is. Die berg was ongelukkig gesluit vir ski-aktiwiteite, maar dit het nie die kinders gekeer nie. Daar is geduik in die sagte sneeu, sneeugevegte is gevoer en natuurlik moes daar ‘n sneeuman gebou word(nog ‘n foto).Ons het omtrent gesukkel om die kinders daar weg te kry, selfs toe dit liggies begin reën, was hulle nog dapper genoeg om in die sneeu rond te rol.

Toe die ski-veld Saterdagoggend oopmaak, was die kinders op hulle pos vir hulle eerste ski-les wat twee ure geduur het. Volgens hulle was hulle sommer baie gou tuis op die ski’s en het ons hulle eers weer gesien toe die berg toemaak. Daar is ongelukkig nie foto’s van hulle ski-pogings nie, want ons was nie op dieselfde ski-helling as hulle nie.

Die ouer generasie het hierdie jaar maar weggebly van die ski’s en “snow boards “ af en hulle lewe gewaag op die “toboggans”. Dit was net soveel vet pret om met ‘n slee teen die hellings af te seil as om te ski. Jy val nog steeds dat jy hop as jy nie jou sit ken of goed kan stuur met die lyf nie. Ek en Engela was maar slegte bestuurders. As ons nie ander mense disnis gery het nie, het ons onsself katswink geval. Pieter was soos ‘n kind op die “toboggans - kon nie genoeg kry nie. Dit het natuurlik baie gehelp dat hy so fiks is, want dit is maar ‘n stywe entjie se stap terug sneeulangs as jy aan die onderpunt van die “toboggan”-helling is.

Dit is seker nie eens nodig om te wat ons Saterdagaand gedoen het nie….Hie-ha!! Ons het na ‘n heerlike aandete by die restaurant in die motel ons tuisgemaak in die kroeg waar daar ‘n heerlike kaggelvuur gebrand het. Dit was fantasties om saam met ander Kiwi’s te kyk hoe die Mighty All Blacks die res van die wêreld op hulle neuse laat kyk. Dit nou eers daar gelaat, want dit is ‘n onderwerp op sy eie.

Die kinders is Sondagoggend vroeg terug berg toe, want hulle wou darem nog vir oulaas ook gaan “toboggan”. Ons was al byna terug by die huis, toe is hulle eers uit Ohakune weg. Dit is seker maar die voordeel van jonk wees - tyd is eindeloos….

Die hele naweek was eenvoudig perfek. Saans het daar twee warm spapoele gewag vir die moeë en seer liggame. Vir diegene wat nog genoeg energie oorgehad het, was daar ‘n speletjieskamer met ‘n pooltafel” en “dart board “. En niemand het hulle doodgewerk nie - elke maaltyd hetn ander kok gehad, selfs al was dit net die laataand-milo-en-koekies wat gemaak moes word.

Wat die naweek nog meer besonders gemaak het, is dat ons in die pret kon deel met goeie vriende. Nic het Kerry aan sy sy gehad, Marco het sy boesemvriend van laerskooldae saamgenooi ( hulle twee staan ook bekend as Ebony and Ivory ) en Reghardt het besluit hy hang sommer saam met Marco en Dominique uit. Dit was vir ons net so lekker om ons maaikies saam te neem.

Na die naweek het ons weer eens besef hoe ongelooflik bevoorreg ons is om in so ‘n mooi land te woon en dat ons ons kinders soveel geleenthede kan bied.

Nou ja, tot Vrydag wanneer ek julle bombardeer met ‘n lekker laaaaang nuusbrief.

Groete

Die Sneeukoningin