Antjie Se Pen (subtitel van www.afrikakiwi.com)

Antjie se pen was die geboorte van my groot droom om eendag 'n boek of dalk twee te skryf. Een van my drie vereistes voor ek Nieu-Seeland toe gekom het, was dat daar van dag 1 af 'n rekenaar in die huis moet wees, want kommunikasie met die familie en vriende was uiters belangrik. Die dag dat ons voet op Kiwi bodem gesit het, het die eerste Nieu-Seeland nuusbrief die lig gesien... besoek ons webtuiste: www.afrikakiwi.com

Dippies se brief - die eerste een

Gedink julle sou dalk die ou se brief wou lees….
Dippies se brief

8 Augustus 2005

RUGBYKOMMENTAAR UIT AUCKLAND, NIEU-SEELAND ...

Weer eens staan ek toe 1-uur Sondagoggend op om die rugby te kyk. Dis maar standaard prosedure as die Bokke speel. Ek hoor toe mos hoe die een ou so links agter vir sy pel vandag sing ons die Haka dood", ja dis die voordeel van surround sound jy sit in die skare, “eina”, amper byt ek my tong raak, so naby die kiesgedeelte.

Ek wil eerstens net die Bokke gelukwens op hulle fantastiese oorwinning oor die All Blacks. Dit is nie snaaks data Tana Umanga nie sy kapteinskap toespraak na die wedstryd kon uitlewer nie, hy was dikbek soos ’n klein seuntjie wat nie roomys gekry het nie of was hy bang groot Kobus Wiese donder hom?

Ek het weer eens gesien dat hy geen passie vir rugby het nie aangesien hy weer eens saam met Jerry Collins met ’n bek vol tande gestaan het toe die Nieu-Seelandse volkslied gesing is met ’n African vibe. Kan die ou nie sing nie, dammit, sing hy nie in sy kerk nie of is hy ook maar ’n “nobody” wat aan niks behoort nie, dit smaak my nou maar so?

Ek het vir die rastavarian ’n boodskap, kry houding en passie vir die spel, jy is nie bo die spel nie.

Die Bokke het hom beskaam, beter "he was put to shame"!

Hy het mos gister gesê "ons sal sien wie wen op Nuweland", en nou Tana "nou wat nou...grootbek"!

Wragties geen respek en trots vir sy span en land nie, dis seer sekerlik net sy salaristjek wat hom op die veld kry of ’n opdrag van sy “tribe” somewhere iewers, met sulke hare en so gesig kan jy nie deel van die mensdom wees nie, jy kan net deel wees van ’n “tribe”, ja soos diere in die diereryk.

Gelukkig hoor ek niemand is gebyt nie maar hulle blaf nou baie en het baie te .

Ons raak nou almal al bietjie gatvol as die verloorders altyd ’n probleem het met die skeidsregter of lynregters, dis nou al boring, asseblief tog nou kêrels wees nou goeie verloorders want julle sal nog baie sulke wedstryde moet kan verwerk.

Alle krediet vir die Springbokke, hulle staan met hulle vuiste op hulle harte en sing hulle harte uit, swart en wit sing in drie tale, dis wragties nasietrots en as Afrikaner was ek deel van daardie oomblik in die Republiek.

Ek luister nou vanoggend na die radio (hier in Auckland) en hoor die All Blacks doen presies wat die Leeus gedoen het, “kerm kerm kerm”, dammit hou tog op rugby is nie vir sissies nie.

Die verskil is die Engelse en All Blacks is laaities, die Springbokke is bulle! Nee, nie Steve se Bulle nie maar regte bulle, klein word hulle bulletjies genoem, wonder maar wat ons met die Leeus sou gedoen het, ja ek weet wie die wêreldbeker gewen het en so what?

Waar is Justin Marchall en Andrew Mehrtens, ons sal eerder nie hierop kommentaar lewer nie, All Black bestuur het mos weereens ’n goeiebestuursbesluitgeneem toe kos dit hulle alhoewel ek nog steeds glo dat Marchall - Carter of Marshall - Mehrtens die beste skakel paar of kombinasie sou wees?

Dankie Richie McCraw, jy het erken dat die Bokke julle letterlik en figuurlik seergemaak het so die res hou nou verby met verskonings.

Nou hoekom skryf ek nou die e-mail oor die wen, raak ek nie te gou opgewonde nie. Nee, ons het die Wallabies en All Blacks gewen in 3 weke en dit maak my opgewonde?

Wie gaan in Perth wen, wonder want dis mos baie soos Suid-Afrika, ligging en temperatuur en Kaapstad het mos eintlik die All Blacks ge-favour maar toe gee die Bokke hulle ’n ander flavour van die spel?

"Lekke man"!

Dippies

Koning Tana

Hallo Almal

So ‘n paar maande gelede het ek amper ‘n aar in my kop gebars uit woede vir ‘n mede-Suid-Afrikaner wat ook ‘n nuwe tuiste hier in NZ kom vind het. Hy val ongelukkig onder die groep Suid-Afrikaners wat hierheen kom met die idee om ‘n klein Suid-Afrika te kom stig en alles dan wild en wakker wil verander om hulle te pas, vergetende dat dit eintlik die Kiwi’s se land is. Hulle is ook die groep wat oor sulke belaglikhede sal kla soos dat die suiker hier nie so soet soos in Suid-Afrika is nie, dat die bakpoeier te flou is en nog baie meer belaglikhede - al baie gewonder wat hulle hier kom soek.

Elk geval, die armsalige ou, noem homself Dippies, het eendag ‘n brief op Litnet gepubliseer waarin hy onder andere beweer het dat Tana barbaars is, ‘n gedrog met toutjieshare is en vandaar af het dit net erger geraak. Ek het toe in ‘n pennestryd met hom gewikkel geraak, maar toe hy my op Litnet uitkryt as ‘n Suid-Afrikaner wat toilette in NZ skoonmaak, het ek besluit ek wil nie verder na sy vlak daal nie.

Daarom was dit vir my wonderlik toe ek Brokkies 18 Januarie 2006 oopmaak en onderstaande berig lees. Wou dit graag met julle deel.

Skryf die naweek weer ‘n lekker laaaang brief.

Groete

Anna-Maré

n Rugby-ikoon tree uit



Hy is trots “Kiwi-Samoaans”. Hy dra “dreadlocks”. Hy is die bobaas-rugbyspan se kaptein. Hy is kragtig op sy voete. Hy is ‘n baie beskeie Christen wat voor wedstryde bid – nie vir ‘n oorwinning nie, maar dat almal veilig sal wees. Hy het ‘n willerige jongmenslewe omgekeer en in ‘n uiters bedagsame en sorgsame persoon geword. Hy is ‘n gesinsman en ‘n baie betrokke gemeenskapsmens. Hy is ‘n nasionale ikoon. Sy naam is Tana Umaga. En soos almal seker reeds weet, het hy uit internasionale rugby getree.

Ons by die Afrikaanse Klub weet hoe baie Afrikaanse Kiwi’s (volwassenes en kinders) hierdie opwindende speler as sportheld beskou. Daarom wil ons graag hulde bring aan ‘n groot speler en mens. Jare gelede was sy haredos beswaarlik aanvaarbaar in die hoër geledere van Kiwiland se rugbywêreld, maar kritici het gou op hul neuse gekyk en maar net verleë in trotse bewonderaars ontpop.

Tana, ons sê dankie vir jare se opwindende rugby, wat reg om die wêreld vrees, bewing, bewondering en respek afgedwing het. Lekker uitspan ou maat. Geniet die tyd saam met jou gesin.

Groete uit Orewa

Dinsdag – 10 Januarie 2006

17H00

Desember is daar hard gewerk, maar ook net so baie gespeel. Ons het gesorg dat daar ‘n goeie balans gehandhaaf word. Met so baie verjaarsdae, vyf om presies te wees en een daarvan sommer ‘n grote, het ons nie ‘n keuse gehad as om almal weer dieselfde ou bekende Nuwejaarsvoorneme te hê nie - slanke en gesonde liggame in 2006.

Die seuns het maar min vakansie tot dusver gehad. As hulle saans gaan slaap, tel hulle nie skapies nie, maar dollars. Aldrie het hulle oë op baie groot en duur artikels aan die einde van hierdie werkseisoen gestel. Reghardt is die ou wat die meeste ure ingesit het, want hy wil einde Januarie Nic se motor koop. Ek het so gehoop hy sal van hierdie mal plan afsien, want dromers hoort nou een maal nie agter ‘n stuurwiel nie. Hy is egter vasberade om as die skool begin sy eie wiele te hê. Daar lê egter nog baie skaafwerk voor en sal Nic maar die goeie Ouboet moet wees en hom vir nog so ‘n paar rylesse neem.

Nic werk al vandat hy terug is van Summer Camp by die houtfabriek waar hy nogal ‘n groot salaris verdien. Hy het nou sy hart verloor op ‘n bakkie of soos hulle dit in NZ noem, ‘n “ute”. Ek weet nie of die bakkie so ‘n goeie idee is nie, want in Nieu-Seeland is dit teen die wet om mense agterop ‘n bakkie te vervoer, selfs al is daar ‘n kappie op. Alle passasiers moet ten alle tye ‘n veiligheidsgordel dra en dit is nie moontlik in ‘n bakkie nie. Dalk sal die bakkie vir ‘n ruk nog net ‘n droom wees, want Nic is skielik weer ‘n klein seuntjie wat die afgelope ruk baie geld op speelgoed spandeer het. Hy het vir homself ook Kersgeskenke gekoop - twee “ remote control “ karre - en geniet dit vreeslik om met hulle in die straat te ry. Gister het hy vir hom ‘n fiets wat net soos ‘n Harley Davidson lyk, gekoop. Ons baklei nou omtrent om daarmee te ry en trek oral aandag waar ons gaan.

Marco het nog voor die vakansie begin het, gesê Kersfees gaan hy met sy eie kajak by Wenderholmpark op die rivier vaar. Elke sent is gespaar vir die kajak en toe skielik is daar ‘n groot kinkel in die kabel. Marco word al hoe stiller, is nooit honger nie, trek al sy kajak-spaargeld en hy en Kerry gaan koop hope klere daarmee. ‘n Pragtige meisietjie met die breedste glimlag wat ek nog ooit gesien het, het sy voete onder hom uitgeslaan. Sy is van Roemenië en was nog ‘n baba toe Kiwi’s haar aangeneem het. Skielik was ons huis vol kinders en Kerry nie meer die enigste dogter nie. Sy het ons almal egter gou ingelig sy was eerste hier en sal daarom altyd nommer 1 wees. Ek voorsien ‘n baie interessante toekoms eendag vir ons met drie skoondogters.

Die Deli het hierdie Kersseisoen al sy doelwitte ver oorskrei. Ons verkope Kersfeesweek alleen was $ 9000 meer as verlede jaar dieselfde tyd. Ek is baie in my noppies met die ongelooflike groei wat ons gehad het, 31% om presies te wees. Dit het egter nie vanself gekom nie. Soggens 5-uur as almal nog in droomland was, het ek al daar tussen die slaaie, kouevleise en kase gewoel. Gelukkig geniet ek my werk so baie dat dit ‘n lekker moegheid is wat saans so oor my neerdaal as ek huis toe gaan.

Pieter is die enigste een wat so ‘n paar dae vakansie gehad het. Dit was ook nie veel van ‘n vakansie nie, want hy het gesorg dat daar die minimum werk vir ons ander by die huis gewag het. Ja, ek is geseën met vier wonderlike mans in my lewe.

Die kinders se skool het die laaste week in November gesluit en hulle gaan nou eers weer die 7de Februarie terug hok toe - ‘n lekker laaaang vakansie. Marco en Reghardt gaan maar ‘n baie kort eerste kwartaal hê, want hulle mis die laaste twee weke van kwartaal een. Ons drie vlieg mos die 2de April Suid-Afrika toe. Ek begin nou al opgewonde raak en kan nie meer wag om die 4de April weer deel van die KKNK-skare te word nie.

Die universiteit begin die 27ste April. Nic en Kerry het reeds geregistreer vir hulle tweede jaar. Dit sal seker maar in die begin so ‘n bietjie van ‘n aanpassing vir Nic wees om weer die boeke op te neem na ‘n hele jaar van pret en plesier.

Die oomblik toe ek Corné Krige se The Right Place at the Wrong Time sien, wou ek dit met alle mag lees. Ek het mos ‘n swakte vir Outobiografieë - daardie nuuskierige gene in my. Die eerste paar hoofstukke in die boek het ek baie menslik en roerend gevind, die Kamp Staaldraad-hoofstuk was ‘n riller en die res van die boek….uiters BORING!! Op die oomblik is ek besig om Sharon Osbourn se boek te verslind - lekker “ juicy “ stories.
Kerry is op die oomblik in Suid-Afrika. Sy kuier vir drie weke by vriende in Oos-Londen om “closure” te kry en daarvandaan gaan sy vir nog drie weke na haar ouers in Hong Kong. Dit beteken nou dat ek gedurig links of regs moet kyk sodat ek nie dalk op Nic trap nie. Hy is dwalend en gedurig onder my voete. Alleenwees is nie vir hom nie.

Terwyl ons ander maar redelik passief is, verken Pieter ten minste vyf keer per week groot dele van die omgewing met sy fiets - nie eens die reën of wind kan hom keer om so tussen 50 en 80 km per dag te ry nie. Hy neem oor twee weke aan sy eerste fietswedren deel. In Maart is daar ‘n vierdag-fietstoer waarna hy baie uitsien.

Dit is nou hoe die stand van sake hier in die Claassen-huishouding staan. In die volgende nuusbrief hou ons jolyt, word daar geduik en vaar ons op die waters met die nuutste toevoeging tot al die speelgoed.

Tot netnou

Anna-Maré

Feestyd in NZ - deel 1

Dinsdag – 10 Januarie 2006

19H00

Ek het vandag spesiaal vroeg by die werk weggeglip sodat julle julle oggend kan begin met ‘n terugblik na ons Desemberpret.

Soos die vorige vyf Kersfeeste het ons weer die huis getooi in Kersliggies en is daar ‘n vars kersboom gekoop sodat alles na Kersfees kan ruik. Sommer vroeg in die maand was almal al in ‘n feestelike luim, ten spyte daarvan dat die meeste van ons die meeste van die tyd gewerk het.

Die Kersseisoen is afgeskop met ‘n duikoggend by Goat Island. Goat Island is ‘n klein eilandjie net ‘n kort entjie van die kus af. ‘n Mens kan soontoe roei in ‘n kajak, of selfs soontoe swem. Dit is ‘n baie gewilde plek om te duik en te snorkel. Vroeër jare het die seevaarders bokke en varke op die eiland losgelaat om te verseker dat vars vleis maklik bekombaar is as hulle die eiland aandoen. Op die ou einde het daar net bokke oorgebly, want die varke was slim genoeg om na die land toe te swem!

Gewapen met duiktoerusting en die gebruiklike piekniekmandjie is ons al douvoordag uit Orewa. Pieter en Johan het nie veel tyd op land verspil nie, want Goat Island is ‘n reservaat en kan duikers dus verseker wees dat hulle met elke duikslag die room van die Onderwaterwêreld sal sien. Omdat dit ‘n reservaat is, word die perlemoen (genoem paua) en krewe tot die frustrasie van baie duikers baie groot. Dit is mos taboe om enige seekos uit te haal of enige seelewe in die reservaat te jag. Aangesien ek selfs in ‘n stort kan verdrink, moes ons ‘n ander manier vind om ook ‘n kykie onder die see te kry. Ek en Engela is op Goat Island se bekende Glass Bottom Boat http://www.glassbottomboat.co.nz/. uit op die see en om die eiland. Dit was ‘n belewenis. Ons kon net sowel daar onder die water gewees het. Ons het Blue Mao-Mao, Parore, Blue Cod, Snapper (wat 50 – 60 jaar oud kan word!) en selfs ‘n skool jellievisse gesien! Aan die agterkant van die eiland is ‘n paar interessante seerowergrotte en oral op die rotshange was seevoëls.

Johan se groot droom was om eendag sy eie bootjie in NZ te besit. Die droom het toe vroeg in Desember waar geword toe hy vir hom ‘n 2,9m rubberduck gekoop het. Die Dorado voel sommer soos ons almal s’n, want behalwe vir die feit dat hy hier by ons gestoor word, het Johan vinnig-vinnig al die seuns touwys gemaak om die boot op die water uit te neem. So hulle is nou almal stuurmanne.

11 Desember het ‘n rooi kringetjie op die almanak gekry. Nie net was Marco 16 nie, maar is die Dorado ook vir die eerste keer ter water gelaat - kompleet met sjampanje en al. Spareribs en Wenderholmpark was Marco se keuse vir sy groot dag. Pieter is bobaas as dit kom by Spareribs braai en Wenderholm is ons almal se gunsteling park, met die rivier aan die eenkant en die see aan die agterkant. Vroegoggend was die gety nog laag, wat beteken het ons moes maar stadig en versigtig in die rivier afry tot in die see voordat ons lekker kon laat waai het. As ‘n mens eers op die oop see is, is dit heerlik om die enjintjie oop te maak en te laat loop oor die water. Gelukkig was dit ‘n pragtige dag en die water was redelik kalm. Die verjaardagmaatjie het sy dag gate uitgeniet en was self ‘n “cowboy” op die water.

Hierna het ons die verjaarsdae ingeryg. Die 20ste Desember was dit Kerry se beurt. Sy was die een met die GROOT verjaarsdag....A night under the stars. Dit gebeur net as ‘n mens 21 word. Ons moes almal swart en wit dra en halftien was slaaptyd vir die grootmense. Met haar ouers wat in Hong Kong woon, moes skoonma maar inspring en sorg vir die eetgoed. Dit het amper gevoel soos die dae toe ek al die skoolfunksies se fyn eetgoedjies moes maak. Sy het Nic mooi laat verstaan sy wil niks anders as ‘n ring vir haar verjaarsdag hê nie en dit het my lekker laat bloedsweet. Gelukkig is daar iets soos vriendskapsringe ook.

Ons ander drie het nou wel nie groot verjaarsdae gehad nie, maar ons het die groot dae gekies om jarig te wees. Johan was eerste aan die beurt op Oukersdag. Ons het hierdie groot verrassing gereël gehad vir die dag - ‘n rit met die stoomboot op die Kaipara Hawe, maar toe speel die weer nie saam nie. Hy moes toe maar tevrede wees met die gewone Claassen-ritueel op Oukersaand. Ons het tuisgemaakte sosaties soos net ek hulle kan maak - klink seker lekker windgat, maar dit is my “ claim to fame “ – gebraai. In plaas van ‘n sjampanjetjie, het ons ‘n tequilatjie nadergetrek vir ‘n heildronk. Daarna is daar om die Kersboom gekuier tot ons 11-uur kerk toe is vir die laataanddiens. Kersvader het eers na kerk geskenke kom uitdeel, wat beteken dat ons toe eers in die laatoggendure bed toe is.

Hierdie jaar was daar drie kandidate vir Kersvader se hoed - Johan omdat dit sy eerste Kersfees in NZ is, Kerry omdat dit haar eerste Kersfees saam met ons is en dan Marco omdat hy die enigste een in die gesin is wat nog nie Kersvader was nie. Pieter wou nie dat ons die ketting breek nie en toe kry Marco die eer om hierdie jaar Kersvader te wees. Hy het ‘n baie goeie werk gedoen en vir almal presies gebring wat op hulle wenslysies was.

Net omdat die brief nou ‘n bietjie lank word, gaan ek eers groet.

Tot netnou

Anna-Maré

Feestyd in NZ - deel 2

Dinsdag – 10 Januarie 2006

20H00

Terug met die laaste deel van die jaar...

Ons is Kersoggend begroet met Gordonsbaai se wind wat al ons planne vir die dag deurmekaar gewaai het. Daar is toe besluit op ‘n tipiese Claassen-ontbyt wat altyd uitloop op ‘n laaang kuier om die tafel.

Toe dit net lyk asof die windjie minder roer, het ons die gebruiklike piekniekmandjie gepak, die boot en Engela se kano gelaai en die pad gevat strand toe. Terwyl die manne en Kerry op die boot kerjakker het, het ek en Engela met die kano rivier op geroei en die natuurskoon bewonder. Ons was baie beïndruk met ons roeivermoë - het amper soos die Swindell-tweeling van NZ oor die water geseil, natuurlik met die hulp van die wind in ons blaaie. Die omdraaislag was egter ‘n perd van ‘n ander kleur. Vir elke meter wat ons vorentoe gevorder het, het die wind ons twee meter teruggestoot. Op die einde het ons in ‘n stroom beland en was die kans om weer by ons kampplek uit te kom, nul. Boonop was ons buite sig van die res van die groep en kon hulle nie eens kom help nie. Die enigste opsie wat oorgebly het, was om uit te spring en wal toe te gaan. Dankie tog vir “ life jackets “... Die kano is net daar gelos en moes ons voetslaan terug piekniekplek toe.

Nic is ‘n “ Boxing Day “-baba en teen hierdie tyd was ons nou al moeg van speel en eet. Hy het dus maar ‘n baie droë 20ste verjaarsdag gehad. Ons sal die einde van die jaar opmaak hiervoor en uithang vir sy 21ste verjaarsdag.

Oujaar was meer as besonders. Dit was die uwe se verjaarsdag, die beste wat ek kan onthou. Vroegoggend het al die seuns en Kerry by ons op die bed kom kuier en natuurlik vir my toegegooi met geskenke. Ontbyt was by ons gunsteling “ coffee shop “ wat op die see uitkyk en toe is ons stad toe vir ‘n verdere groot bederf. Engela het vir my ‘n kinderpartytjie voorberei, kompleet met ballonne, ‘n koek met kersies en rooi koeldrank. Johan is ‘n bobaas-seekossjef en was my gunsteling dis op die spyskaart - seekospot. Die res van die middag het ons op die mat uitgekamp en Nic se pokerstel ingewy.

Tienuur is ons stad toe en het deel van die skares geword wat 2006 en die vuurwerkvertoning kom inwag het. Ons het Auckland se Queenstraat platgeloop op soek na roomys en ons verkyk aan die straatkunstenaars. Die Hare Krishna het my natuurlik heeltemal betower en ons het ons vergaap aan hulle. Ons soektog na roomys het ons toe kort voor middernag na ‘n koffiewinkeltjie naby Pieter se werk gelei waar ons elkeen ‘n Frappecino ( amper iets soos milkshake ) gegryp het en toe genael het vir Gen-I se dak.

Gen-I is Pieter se kantoorblok, 20 verdiepings hoog en die naaste gebou aan die Sky Tower. Toe die klok 12-uur slaan, het die stad klein onder ons gelê, die derduisende mense se gejuig om ons weerklink en was die mooiste klank die van die bote in die hawe. En toe asof hulle net gewag het vir die geluid van die mishoring, ontplof daar ‘n pragspel van kleur bo ons koppe. Ek is nog steeds oortuig dat niemand Oujaarsaand nader as ons aan die vuurwerkvertoning was nie.

En op die hoë noot sluit ek nou eers die NZ-sage af.

Groete uit Orewa

Anna-Maré en Kie

Goeie wense uit NZ

Dinsdag – 10 Januarie 2006

16H00

n Voorspoedige 2006 vir julle almal….

Groot verskoning dat die laaste maand van die jaar geen nuusbriewe opgelewer het nie. Desember was tjokke-blok gelaai met aktiwiteite en by die werk was dit ‘n malhuis. Sommige dae het dit gevoel of ek permanent op ‘n “roller coaster ride” is.

Ek het my daaraan getroos dat die meeste van julle met ‘n heerlike lang vakansie is en dus nie eens nuus uit Nieu-Seeland sou mis nie. Dit is seker nou te laat om te Geseënde Kersfees, maar ek hoop dat julle almal ‘n wonderlike Kersdag gehad het, dat julle almal se Kerstafels ook gekreun het met al die kos en dat Kersvader baie geskenke gebring het.

Die geheue word al hoe korter, maar gelukkig is daar nog so ‘n klein stukkie gesonde grysstof waar ek ‘n paar van ons Desember-ervarings kon stoor om met julle te deel. Die volgende twee nuusbriefies is so ‘n terugblik na die laaste 5 weke in NZ.

Lekker lees.

Groete

Anna-Maré en Kie