Antjie Se Pen (subtitel van www.afrikakiwi.com)

Antjie se pen was die geboorte van my groot droom om eendag 'n boek of dalk twee te skryf. Een van my drie vereistes voor ek Nieu-Seeland toe gekom het, was dat daar van dag 1 af 'n rekenaar in die huis moet wees, want kommunikasie met die familie en vriende was uiters belangrik. Die dag dat ons voet op Kiwi bodem gesit het, het die eerste Nieu-Seeland nuusbrief die lig gesien... besoek ons webtuiste: www.afrikakiwi.com

Die nuwe Kiwi's

Woensdag- 30 November 2005

22H00

More-sê

Vanaand skryf ek in my amptelike hoedanigheid as ‘n Kiwi. Die mense wat foto’s kan ontvang, sal netnou so ‘n kykie in ons groot dag kry.

Vandag het ek al douvoordag hier gesit en eers gou die volkslied geleer. Die Engelse weergawe het vinnig vasgesteek, maar daardie eerste vers in Maori, het nou nog nie ingeskop nie. So halfnege vind ek toe uit dat aangesien dit ‘n klein intieme seremonie is, gaan ons glad nie die volkslied sing nie en wend die manne toe nie eens ‘n poging aan om daarna te kyk nie.

Die seremonie was toe glad nie wat ek verwag het nie - gedink ons gaan in so ‘n stowwerige regeringskantoor sit, die eed aflê en dan ‘n sertifikaat ontvang. Die hele proses het hom afgespeel in ‘n saaltjie op die 6de verdieping van die AA-gebou in die hartjie van Auckland - ons het dus eerstens ‘n “ room with a view “ gehad. Die vertrek self was baie NZ – die vlag, die landswapen, ‘n foto van die Queen. Daar was 15 van ons wat vandag Kiwi’s geword het - omtrent ‘n mengelmoes: ‘n Moeslem-gesin, ‘n jong Amerikaanse meisietjie, ‘n stokou vroutjie van een van die eilande af, ‘n Franse paartjie met die mooiste Franse-Engelse aksent, ons vyf en dan nog ‘n SA-ertjie – Keisha Paulse. Ek weet nie of sy familie van Breyton Paulse is nie, maar ek weet net dat sy amper net so beroemd en bekend soos hy was. Sy is die eerste SA-er wat een van die 10 deelnemers aan NZ Idol was - nogal baie talentvol, al het sy in die tweede rondte uitgeval. Ek het natuurlik tot die seuns se misnoë vir haar gevra of sy saam met ons vir ‘n foto sal “pose”.

Die aflê van die eed was baie besonders. In plaas daarvan dat ons een-een vorentoe moes gaan om dit voor te lees, kon ons vyf as ‘n familie dit in ‘n spreekkoor doen, met die Bybel in die linkerhand en die regterhand in die lug. En toe almal nou klaar trou aan die Queen beloof het, word aangekondig dat ons nou die volkslied gaan sing. So, ek het dus nie vanoggend verniet so hard geleer nie. Een van die Amerikaanse vrouens het ons kom komplimenteer met die seuns wat die volkslied so uit volle bors en in Maori sing - hulle sing mos so af en toe die volkslied by die skool.

Nog seremonie-foto’s : Drie seuns; Vier manne voor die seremonie; Ma en seuns ;
Vier manne na die seremonie

En soos die gewoonte nou maar is, moet alle gebeure mos met baie eet gevier word. Ons vyf is toe Denny’s toe waar ons lekker gekuier en gesmul het.

Ons het vandag vir ‘n verandering ‘n pragtige somersdag gehad en die Claassen-manne het gesorg dat hulle elke minuut van die sonskynweer geniet. Hier weet ‘n mens nie wanneer jy weer sulke mooi weer sien nie. Ons bly net drie blokke van die see af en Marco en Reghardt het die middag in die branders gaan deurbring, Nic het so ‘n uur noord gery en die groter golwe op sy branderplank gaan aandurf. Pieter het vandag altesaam so 50 km op sy fiets deurgebring - 23 vanoggend en vanmiddag weer 27. Oor waarmee ek my besig gehou het, sal ek swyg… een van my sondetjies.

Nic was verlede week baie teleurgesteld. Hy sien nou al maande daarna uit om Februarie Wellington toe te gaan vir die Nieu-Seeland Sewes-toernooi. Tien minute na die kaartjieverkope egter oopgemaak het, is alles uitverkoop. Nou is dit maar “ big screen “ vir hom. Saterdag behoort egter op te maak daarvoor. Hy gaan Edenpark toe waar die Black Caps en Australië teen mekaar speel.

Nic en Kerry het die afgelope naweek op Waiheke Eiland deurgebring. Ons was self nog nooit daar nie, maar dit is glo ‘n paradys - vir duikers en kaalbaaiers. Vandag se koerant het egter minder goeie nuus oor Waiheke:

A couple of small tremors felt on Waiheke Island could be a sign of things to come.

The earthquakes measuring 2.5 on the Richter scale hit about 30 kilometres east of
Auckland last night and again today.

Seismologist Ken Gledhill says local earthquakes only happen about once a decade in
Auckland and these ones are very small, but he says they are centred just outside the Auckland volcanic field, so there is a small chance it could be the start of something happening.

Dr Gledhill says all scientists can do at this stage is keep a close watch on the situation
.

En so met die aardbewing-nuus, sê ek eers nag. Skryf weer na die naweek.

Liefde

Anna-Maré

Sportnuus uit Kiwiland

Dinsdag- 29 November 2005

22H00

Goeiemore

Dit is weer van vooraf winter hier op die eilandjie - lekker koud, nat en winderig. Gelukkig klop my hart so warm op die oomblik dat die ongure weer van die afgelope paar dae nie eens amper ‘n demper op my vreugde plaas nie.

Die meeste van julle het seker hierdie briefie die een of ander tyd verwag. Ek het lank gesit en wik en weeg oor hoe ek hierdie briefie moet aanpak… sal ek gal braak oor al die swak verloorders daar buite se suur druiwe of sal ek die oomblik aangryp, myself oorgee aan die smaak van oorwinning en saam met die swart golf ry….

Dit is die eerste Drienasiewedstryd tussen SA en die All Blacks en die Kiwi’s verloor…En skielik onthou almal my weer en die sms’e stroom in die vroeë oggendure in. ‘n Paar maande later “pocket” ons die 2011 Wêreldbekertoernooi en ons saai amok in die rugbywêreld - ek kyk later of my selfoon nog werk, want hy is morsdood. Niemand sê geluk of mooi so nie. “ Julle was maar vrot teen die Skotte”. “ Julle was gelukkig om teen Skotland te wen.” Al wat ek wil sê, is: “ Foeitog!”

My dag is gisteroggend gemaak. My goeie Aussie-vriend wat anti-alles wat Kiwi/All Black/Eiland-hoenders is, skryf gister in sy algemene nuusbrief dat die All Blacks tans geen gelyke in die wêreld het nie. Net daar laat rol ek toe al die ander mense se negatiewe aanmerkings soos water van my rug af .

Ek woon nou al 4 jaar in Kiwiland, sweer more-oggend kwart oor 12 trou aan die Queen en mag dus nou sonder om skuldig te voel my spanne openlik ondersteun.

Die All Blacks het vanoggend stil-stil in Auckland aangekom. Die groot vraag op die oomblik is of Tana sy rugbystewels gaan ophang. As julle dalk ook gewonder het… hy het ‘n rugbykontrak tot einde 2007 en wil nou eers net lekker laaaank vakansie hou sodat die moeë bene kan rus. Hy mag dalk besluit om nou met glorie uit die stryd te tree, maar die NZ-rugbyliefhebbers is dit eens dat hy in 2007 die All Blacks op die veld moet aanvoer. Hy is nou wel nie ‘n “oilpainting” nie ( vir my is hy mos eintlik mooi van lelikgeid ), maar hy het klas.

Ek lees in die Burger dat Suid-Afrika en Frankryk in die 2007-WB-finaal gaan speel. Die NZ-koerante het die All Blacks darem plek in die kwarteindrondte gegee. Interessant die redes vir die ander drie spanne se teenwoordigheid…

Assuming New Zealand get to the final next time - something they have not managed since 1995, remember - only three teams are obviously equipped to be there with them.

South Africa, because their physicality will carry them through many a torrid conflict and because their clever coach, Jake White, will use the humiliation of their 2003 campaign as positive therapy; France, not simply because they will have home advantage, but also because they are building a truly formidable squad of players and can, on their day, run rings round anyone; and England.

Dear old
England. Honestly.

The reigning champions are not without their problems, lack of midfield dynamism being the most obvious of them, but as they old saying goes: forwards decide who wins a game of rugby, the backs decide by how many points.

England have a vintage pack under construction, and the manner of the heavy mob's performance against the All Blacks at Twickenham underlined their potential.

En toe sluit ons die jaar op ‘n hoogte-hoogtepunt by die Internasionale Rugbyraad se Toekenningsaand in Parys af. Wanneer daar so gestry en gekibbel word oor ‘n uitslag, is die maklikste uitweg mos altyd om te sê: Kyk na die “scoreboard”. Ek sluit dus vir julle die toekennings in. It says it all:

Award recipients:

Player of the year:
Daniel Carter (NZ)
Team of the year: New Zealand
Coach of the year: Graham Henry (NZ)
Under-19 player of the year: Isaia Toeava (NZ)
Under-21 player of the year: Tatafu Polota-Nau (Australia)
Sevens team of the year: Fiji
Sevens player of the year: Orene Ai'i (NZ)
Spirit of rugby award: Jean Pierre Rives (France)
Vernon Pugh award for distinguished service: Peter Crittle (Australia)
Referee award for distinguished service: Paddy O'Brien (NZ)
Women's personality of the year: Farah Palmer (NZ)
Development award: Robert Antonin (France)
Chairman's award: Sir Tasker Watkins (Wales).

Nou oor rugby van ‘n ander kleur - rugby league. In Australië veral, maar ook hier in NZ geniet rugby-league groot aanhang. Die Kiwi’s, NZ se nasionale league-span, herskryf toe die geskiedenisboeke in Engeland dieselfde tyd toe ons die Grand Slam wen. Die Kiwi’s, Wallabies en Groot Brittanje speel elke jaar ook ‘n Drienasiereeks. Voor die toernooi nog begin het, is die Kiwi’s se kanse om een van hulle wedstryde te wen, beskou as minder as nul. Daar verras ons toe vriend en vyand en verslaan die Kangaroo’s op eie bodem, verloor die tweede wedstryd met ‘n skrale 2 punte teen hulle in NZ en vind by ons aankoms in Engeland uit dat ons definitief nie een van die spanne in die finaal gaan wees nie. Dit het die uitslag nog soeter gemaak… Ons wen die Kangaroo’s in die finaal met 24 – 0. Dit is die eerste keer in 52 jaar dat die klein eilandjie se manne met die ouens oorkant die Tasman afreken. Voeg nog ‘n statistiek by - vir die eerste keer in 27 jaar kan die Kangaroo’s nie daarin slaag om enige punte aan te teken nie. Ons beker loop omtrent oor….

Nou piepie almal my battery nat en moet ek luister hoe swak is ons ou krieketspannetjie. Ek sal nou nie na hulle besoek aan SA hulle summier afskryf nie. Sommige van daardie wedstryde kon tot die laaste paar balle nog enige kant toe gaan. Behalwe vir die Aussies wat ‘n krieketklas op sy eie is, lyk die res van die wêreld se krieket ook maar baie gemiddeld.

En voordat julle nou almal so kwaad vir my word dat julle nie wil verder lees nie, net gou ietsie oor die 2011 Wêreldbeker. Gewonder hoe ons dit gekry het… lees ‘n bietjie hier:

Then to have Helen Clark and Tana [Umaga] there - he was the icing on the cake. I said bugger all."

Meads said
Clark was "bloody brilliant", but he had special praise for Hobbs and Moller. "They carried the day." he said Hobbs' speech was passionate and moving and "got me worked up".

Another reason for
New Zealand's success may have been the way the bid tugged on the IRB's purse strings as well as its heartstrings, emphasising tax and injury compensation advantages for visitors.

While the Government won't provide cover for egos bruised by the All Blacks, ACC relief will be available to players, officials, supporters and other tourists for any injuries - sporting or otherwise - sustained while here in 2011.

New Zealand's no-fault ACC system is unique - in other countries an injured party might sue for compensation from whoever is responsible.

The bid document also highlighted the double tax treaty between
New Zealand and Ireland (where the IRB is based) which could provide tax breaks for tournament profits.

Players and World Cup employees will also be exempt from income tax, provided they aren't residents and don't stay in the country too long.

Op ‘n meer gemoedelike noot -

So ou paar Blou Bul–grappies virrie lekker…

( JULLE KEN HULLE DALK ALMAL )

n Wat doen 'n 2005-Blou Bulondersteuner as hy klaar die Curriebeker gewen het? Hy sit sy Playstation af!

n Te koop: Goedkoop maalvleis, effens beskadig, gebyt deur 'n Cheetah. Kontak Loftus slaghuis by tel…

n Die NG-Moedergemeente Bloemfontein bedank graag vir broer Rassie Erasmus wat 15 bul-karkasse geskenk het vir die kerkbasaar.

n Het jy gehoor hulle bring 'n nuwe vorm van doodstraf terug? Jy trek 'n Blou Bul-trui aan en dan skaam jy jou dood.

n Wat's die verskil tussen 1 Os en 15 Bulle? Jy't net een Os nodig om die Curriebeker te wen.

Groete tot more wanneer ek my algemene nuusbrief skryf.

Anna-Maré

SKOKNUUS - Ek is verlief

Donderdag- 24 November 2005

22H00

More

Ek is VERLIEF… dolverlief. Gelukkig is dit ons vroulike spesie se voorreg om wispelturig te wees. Verlede week nog was dit “mooi – mooier – Aucklandstad”. Twee weke later verloor ek my hart van alle plekke in Australië. Brisvegas “is to die for”.

My Aussie-maat, Kevin, was verlede Saterdag ‘n baie jong 40. Vir julle wat nie weet nie, ek en Kevin het saam skoolgehou in Somerset-Wes voordat ons ons hier Down Under kom ingrawe het. Aanvanklik sou ek al vroeër hierdie jaar Australië toe gaan om sy troue te gaan bywoon, maar toe gaan trou hy mos verlede jaar Desember op Tafelberg. Danksy die groot verjaarsdag het ek toe ‘n goeie verskoning om die Tasman te kruis.

My naweek het al Dondermiddag op ‘n hoë noot afgeskop met ‘n venstersitplek, twee leë sitplekke langs my, ‘n goeie fliek en ‘n maaltyd van die spyskaart af. As Emirates lugredery nie soos die melktrein by elke lughawe geland het nie, was ons volgende jaar April via Dubai Suid-Afrika toe. AucklandBrisbane-Singapoer-Dubai-Johannesburg-Kaapstad…. Dit is darem ‘n te lang pad, veral nog met Marco en Reghardt ook by my.

Kevin en Bianca was vir twee dae Melbourne toe en hulle vliegtuig het seker so ‘n kwartier voor myne in Brisbane geland. Pieter, ons chauffeur, hoef toe darem net een rit te maak. My eerste indruk van Brisbane op pad huis toe was - Aucklandstad sonder die Sky Tower. Ek kon net sowel by die huis gewees het. Dit was toe ook nie eens so warm soos wat ek gevrees het nie.

Donderdagaand was baie spesiaal. Dit was die stilte voor die groot jolyt begin het. Kevin se ma, Oumie-Jean, het al die pad uit SA gevlieg en ons twee was dadelik soos twee ou karperde – trek lekker saam. Sy lyk nie net soos my ma nie, maar woel en werskaf net so baie soos sy. Seker daarom dat sy so bekend gevoel het. Ons het tot na middernag plat op die mat gesit en gesels - lekker opgevang op al die ou nuus. Dit het by tye nogal vreemd gevoel om so in die Rooitaal te kuier.

As daar nou een plek is wat kan baat by Daylight Saving, dan is dit nou Brisbane. Soggens 5-uur sit die son al hoog en kan jy nie anders as om uit die kooi te klim nie. Die redes waarom die klomp Aussies nie belangstel in Daylight Saving nie, is baie snaaks. Onder andere sal die koeie glo heeltemal deurmekaar wees as die horlosies ‘n uur vroeër aangedraai word en dan is die hele melkbedryf daarmee heen. Verder sukkel ek nog om die tweede verskoning te verstaan - iets te doen met gordyne wat gaan verbleik.

Vrydagoggend 5-uur Aussie-tyd het ek die blye nuus van die 2011- Wêreldbeker ontvang. Net om dit te bevestig, kyk ons toe nuus. Ek kom toe agter vir die Aussies bestaan daar nie so ‘n plek soos NZ nie. Terwyl die nuus aan die gang is, kom daar net so ‘n vinnige flits onderaan die skerm verby: “ NZ will host the 2011 Rugby World Cup “. Dit is AL.

Ek en Oumie-Jean is toe Vrydagoggend baie dapper en spring op ‘n bus stad toe. My mond het behoorlik die hele tyd oopgehang. Ek het gedink die openbare vervoer in NZ is op sy kop, maar ons kan by die Aussies gaan leer. Die snelweg is in twee dele verdeel en elke deel bestaan uit ‘n klompie bane. Die een kant is vir busse en die res vir Jan Publiek. As ‘n bus 6:37 by ‘n bushalte verwag word, is hy 6:37 daar. Ek was “impress”.

Terug in die winkelsentrum het ek weer tuis gevoel, want al is ons die klein verlore eilandjie suidoos van Australië, het ons dieselfde winkels as die Aussies - net heelwat goedkoper aan ons kant van die Tasman. Na ‘n ete by die Kebab-restaurant, het ons die Botaniese tuin in die middel van Brisbane gaan besoek - massief groot, pragtig en rustig. Ons het ons verkyk aan die mense in die tuin - oumensies wat rustig op die bankies sit, klomp studente wat sokker speel, verliefde paartjies wat op die gras lê, jongmense op rolskaatse en hope mal drawwers.

Vrydagaand het ek sommer weer baie jare van my ouderdom afgetrek. Ons is met die bus stad toe om te gaan kyk hoe lyk en woel dit in Brisbane in die nag. En daar ontmoet ek toe vir Batman in die stad. Kevin het my vertel van die reuse vlermuise in Australië, maar wie verwag nou in die middestad ‘n vlermuis hier tussen die hoë geboue rondfladder. Lyk nogal soos iets uit ‘n riller. Die hoogtepunt van die aand was ons wandeling oor die Story Bridge. Onder ons het die Brisbane-rivier gelê, omring met hoë geboue en parke, bote en seiljagte op die water. Ons eerste stop was die Brisbane Hotel waar ek Kevin se Aussie-vriende ontmoet het. Daarna is ons met die ferry oor die rivier na die anderkant van die stad. Dit is toe dat ek my hart heeltemal verloor het. Brisbane is prentjiemooi.

Die wêreld is baie baie klein. By die Victory Pub waar die res van die geselskap vir ons gewag het, sien ek toe dadelik ‘n vaagweg bekende gesig. 25 Jaar gelede het ek as 20 jarige student hierdie 8-jarige seuntjie opgepas. Die beste deel is dat hy my ook dadelik herken het - dit beteken die jare het my nie te sleg behandel nie. Eduard is ook ‘n vriend van Kevin en kon ons dus by die verjaarsdag verder saamkuier. Hy en sy vrou is op die oomblik hier in NZ om hulle Aussie-residensie hier te kom kry ( moenie vra hoe dit werk nie, want ek verstaan dit ook nie ). Ek gaan Saterdag weer saam met hulle kuier voor hulle terugvlieg Australië toe.

Ons het die aand afgesluit met ‘n burger by die Hungry Jack – NZ se Burger King - die beste burgers wat jy kan kry. Toe is dit terug huis toe met die bus - net betyds om 12-uur ‘n glasie sjampanje op Kevin te kan klink.

Saterdagoggend is daar vroegoggend al gewoel. Die huis moes ook partytjieklere kry - dit het die Angels, die dogtertjies lank besig gehou. Ek het nie geweet ek het so baie asem nie… die een ballon na die ander moes opgeblaas word. Die swembad was Kevin se babatjie om skoon te maak en Bianca het die heerlikste disse aanmekaar geslaan - haar Sushi was ‘n treffer. Daar was ‘n magdom mense en van vroegmiddag af is daar gekuier, later het die Aussies teen die res van die wêreld gholf gespeel en toe is daar tot die afskop van die Aussie-Ierland-wedstryd gedans.

Sondagoggend was ‘n klomp van die partytjiegangers nog daar, want hulle het sommer daar waar hulle ‘n lêplekkie gekry het, gekiep. Toe kuier ons maar weer verder en hou ‘n groot boere-brekfis langs die swembad.

Ek was Sondagoggend ook bevoorreg om glo een van die Aussie-icons te ontmoet - nog nooit van hom gehoor nie - Laurie Lawrence. Blykbaar is hy een of ander Australiese swemafrigter. Ek het ‘n Black Cap-hemp aangehad en toe gee die omie my ‘n bietjie gas. Tipies vrou het ek die laaste woord ingekry - alles in goeie gees.

Alle goeie dinge moet egter ook tot ‘n einde kom. Voor ek egter lughawe toe is, het ons nog eers gekyk hoe die Bokke teen Wallis speel. Natuurlik is die beste wedstryd van die naweek glad nie uitgesaai nie. Ek weet nie eens of die Aussies weet die All Blacks het hierdie naweek gespeel nie. Die Skotland-Samoa-wedstryd is 3 keer uitgesaai, maar die Kampioene?... Geen teken van hulle nie.

Op pad lughawe toe het ons nog ‘n keer langs die rivier gaan wandel sodat ek nog van die prag kon gaan aanskou, maar toe jaag een van daardie tipiese Brisbane storms ons aan.

Brisbane is mooi, net jammer dit is so warm en bedompig en dan natuurlik hulle sport. Ek hou daarvan om vir ‘n wenspan te skree…..

Dit was nou my Aussie-“experience”.

Groete vir eers.

Anna-Maré

Baie NZ-nuus

Dinsdag - 15 November 2005

22H00

More

Mooi - mooier - Aucklandstad…

Ek is glad nie die mees berese persoon in die wêreld nie en het dus nog nie baie groot stede gesien nie sodat ek hierdie stelling kan maak nie. Verder weet ek ook dat baie van my Suid-Afrikaanse vriende nou vir my die mooiste prentjies van Kaapstad met Tafelberg op die agtergrond of een of ander skilderagtige plekkie gaan skets, maar toe ek verlede Vrydag die Auckland-brug nader en die stad lê daar voor my met die Sky Tower in die agtergrond, ‘n paar vulkaniese koppies in die verte en die duisende seilbootjies voor in die hawe, wou ek dit so graag net vir ‘n oomblik met julle almal deel. Dit is ‘n asemrowende gesig.

Dit is feestyd in Nieu-Seeland….

Al het die somer nog nie sy kop hier op die eiland kom uitsteek nie, het die vakansiegevoel al hier van Labour Weekend af ingeskop. Daarna het die Halloween-gees geloop en 5 dae later is daar ge-Guy Fawkes tot in die oggendure. En nog is dit het einde niet….

Maandag, 24 Oktober, was ‘n vakansiedag, Labour Day. Die eerste NZ Werkersdag was op 28 Oktober 1890 toe ‘n paar duisend unielede en ondersteuners die strate ingevaar het om na die optogte in die groter dorpe en stede te gaan kyk. Selfs staatsdienswerkers het die dag afgekry om deel te hê aan die aksie. Labour Day herdenk die stryd om ‘n 8-ure werksdag ingestel te kry, ‘n stryd wat ‘n skrynwerker, Samuel Parnell, in 1840 in Wellington gewen het. Nieu-Seeland was ook een van die eerstes ter wêreld om ‘n 8-uur werksdag in te stel – onder andere vandaar die reputasie dat ons “a worker’s paradise” en feitlik “strike-free” is. Ek pleeg so ‘n bietjie plagiaat met hierdie inligting - het dit uit Engela se algemene nuusbrief “gedeps”.

Ons maak mos groot ophef van verjaarsdae. Watter draaie die verjaarsdagmaatjie se dag maak, is nie so belangrik nie, solank dit op die regte manier afskop. Engela het Werkersnaweek haar groot 30ste gevier en ek en Pieter is donkeroggend uit Orewa weg om vir haar ‘n verrassingsontbyt te gaan maak. Ek het net gehoop ons gaan staan nie iewers langs die pad nie, want ek is sommer met pajamas en al stad toe - dit was mos die dragkode vir die vroegoggendpartytjie. Later die dag het die dapperstes onder die dapperes dit op die Sky Screamer wat niks anders as “reverse bunjy jumping “ is nie, gaan waag. Gelukkig moet daar altyd by sulke geleenthede ook ‘n kameraman wees en het ek dus ‘n goeie verskoning gehad om op Moeder Aarde te bly.

Hierdie jaar het die Halloweenkarakters ons uit die huis uit ge-”trick or treat “.Gelukkig was ons goed gewapen met sakke vol lekkergoed. Ons is stormgeloop deur duiweltjies, Liewe Heksies, Spiderman, Dracula en nog hordes ander grillerige kreature. Die oulikste was die drie Chinese dogtertjies. Hulle het die pot heeltemal misgesit en het hier in hulle feëtjiegewade opgedaag. Dit is verstommend hoe gewild Halloweendag hier by ons is. Dit lyk byna soos Kersfees in die winkels met al die versierings, kostuums en vreesaanjaende mombakkies. Wat my die meeste gefassineer het, is die oumas en oupas of ma’s wat saam met die klein kindertjies stap wat ook wou “ trick or treat “.

Minder as ‘n week later toe is dit al weer ‘n fees van ‘n ander kleur. Marco en Reghardt het ‘n goeie persentasie van hulle weeklikse loon op “ fireworks “ spandeer. Ook maar goed dat ‘n mens net 5 dae van die jaar mag vuurwerke koop. Die eerste November begin die stormloop vir klappers en as jy die oggend van die 6de in ‘n winkel instap, sal jy nie glo dit was die vorige dag Guy Fawkes nie - nie eens ‘n “ starlight “ te vinde nie. Marco het die 5de November tot 10-uur gewerk en het ons dus eers baie laat met ons lugvertoning begin. Ons het ‘n rugbyveld naby aan die huis gekies as lanseerterrein en die wind en reën gaan trotseer. Skaars 10 minute aan die gang, steek Pieter so ‘n groot kanon aan die brand, draai om en buk om nog een uit die sak te haal. Met die bukslag waai die wind die 3-in-1 vuurpyl om en tref hulle Pieter volskoot op die boud. Hy vergeet skoon dat Engela-hulle ook daar is en pluk sommer daar en dan sy broek af. Gelukkig het hy net ‘n bloukol oorgehou van ‘n ongeluk wat eintlik lelik kon wees.

Nou is alle feestelikhede vir eers verby en hang hier so ‘n donker wolk oor ons huis. Die seuns skryf eksamen, Reghardt se tweede en Marco se eerste eksterne eksamen. Die uitslae van hulle proef-eksamen was nie te sleg nie, maar hulle kort nog elkeen heelwat krediete. Hulle maak albei die 25ste November klaar met eksamen en dan begin hulle laaaang vakansie. Marco wil graag ‘n kajak koop en beplan dus om heelwat tyd by New World deur te bring.

Pieter en Nic het nou hulle “Padi-open water”-lisensies. Dit het goed gegaan met hulle seeduike en nou wil die manne net gaan duik. Pieter probeer baie hard om my te oortuig om saam met hulle te gaan snorkel. Ek kan amper nie eens stort sonder om te verdrink nie en sal maar op die “Glass Bottom Boat" uitgaan om te kyk hoe dit onder die water lyk.

Kersfees het hierdie jaar vroeg gekom vir Pieter. Hy het vir homself ‘n Kersgeskenk gekoop - ‘n blinknuwe resiesfiets. Sy “ shin splints “ gee hom deesdae baie opdraende en kan hy dus op hierdie stadium nie hardloop nie. Nou wend hy hom maar tot fietsry vir oefening. Hy lyk soos ‘n professionele fietsryer as hy die langpad vat. Ek het hom die dood voor die oë gesweer as die fietsry-gogga hom die dag so byt dat hy sy beenhare wil skeer. Ek kan deesdae weer doen met ‘n bietjie oefening en gaan ons nou vir die uwe ook ‘n fiets aanskaf.

Kerry vlieg die 5de Januarie vir ‘n maandlange vakansie Suid-Afrika toe en daarna gaan sy vir nog ‘n verdere maand by haar ouers in Hong Kong kuier. Die twee “ love birds “ plaas vir die tweede keer binne sewe maande hulle groot liefde voor ‘n toets. Hulle beplan om eerskomende Vrydag met die ferry Waiheke Eiland toe te gaan en ‘n paar dae daar deur te bring. Soms sal jy nie sê hulle is al 20 jaar oud nie. Vanaand het die twee weer wegkruipertjie in die huis gespeel en so gelag en jil dat die bure hulle kon hoor.

En raai wat loop ek en Pieter verlede week in een van ons video-winkels raak… Leon Schuster se Mr Bones. Ons het nogal gewonder hoe sy sin van humor by die Kiwi’s sou afgaan, want dit is nou een ding waaraan hulle ‘n groot gebrek het. En toe in dieselfde week maak die vrou in SA wie se neus deur ‘n rob afgebyt is, ook ‘n draai op ons voorblaaie. Dit was nogal raar, want die enigste SA-nuus wat ons soms hier by ons kry, is sportnuus.

En toe maak my krieketspan dit nie daar in die Republiek nie. Dit is mos hoe die Kiwi kommentators na Suid-Afrika verwys. Ek was egter nie in sak en as nie, want dit was geen weghol-oorwinnings nie. Die skaal kon net so maklik na die anderkant geswaai het. Tien uit tien vir Stephen Fleming… hy is ‘n uitstekende nabootser. Ja, daar is nie veel liefde tussen hom en kapokhaantjie Smith nie. Ons wil nou ook nie as gierigaards beskou word nie. Ons netbalmeisies teken deesdae kriekettellings teen die buur-eiland en die Jamaica-girls aan. Oor ons TWEE All Black-spanne gaan ek nou eers niks sê nie. Dit is in elk geval seker ook nie nodig nie.

Ek hoop Japan wen die Wêreldbeker-bod sodat nie een van die groot aanspraakmakers om die Wêreldbeker die voordeel van ‘n tuisskare het nie. Dit behoort die skape van die bokke te skei.

My tassies is amper klaar gepak. Ek vlieg mos Donderdagmiddag Australië toe om my SA-Aussie-vriend se 40ste verjaarsdag te gaan bywoon. Dit klink my na ‘n vreeslike bedrywige naweek. Dan is dit mos nog boonop so vrekwarm en bedompig in Brisvegas – geen wonder dit is ‘n “ pool party “ nie. Ek hoop ek het nog genoeg energie oor wanneer ek Maandag in die vroeë oggendure in Auckland aanland, want 5 ure nadat ek op NZ-bodem land, moet ek inval vir ‘n harde dag se werk.

Dit is nou al laatnag hier. Volgende week vertel ek julle van my Aussie-ervaring.

Groete

Anna-Maré