Antjie Se Pen (subtitel van www.afrikakiwi.com)

Antjie se pen was die geboorte van my groot droom om eendag 'n boek of dalk twee te skryf. Een van my drie vereistes voor ek Nieu-Seeland toe gekom het, was dat daar van dag 1 af 'n rekenaar in die huis moet wees, want kommunikasie met die familie en vriende was uiters belangrik. Die dag dat ons voet op Kiwi bodem gesit het, het die eerste Nieu-Seeland nuusbrief die lig gesien... besoek ons webtuiste: www.afrikakiwi.com

Maandag - 23 Mei 2005

23H00
Hallo

Die rede vir die laataandbriefie is ‘n ander briefie…

Alles wat ‘n mens mos uit jou kind se hand ontvang, is kosbaar. Myne het begin met blommetjies, party was soms onkruidblommetjies, wat Nic op sulke wankelende beentjies gepluk het. Later was dit al die prentjies wat uit die kunsklas huis toe gekom het tot daar nie meer plek was om alles te bêre nie. Vandag is van hierdie “ kunswerke “ geraam en pryk dit teen ons kamermuur. Dan is daar die skoendoos vol Moedersdag-en verjaarsdagkaartjies wat met groot liefde en opgewondenheid by die skool geverf en geplak is. Gister is daar nog ‘n brief by hierdie ander kleinode gevoeg…

Ek deel graag Nic se eerste “ grootmens-brief “ aan sy ouers met julle. Dan weet julle sommer ook hoe dit met hom in Amerika gaan. Net ‘n waarskuwing - hy was nog nooit ‘n groot speller nie. Sy redenasie was dat solank mense verstaan wat hy wil sê, is die saak reg.

Lekker dag. Ek is op pad bed toe.

Anna-Maré

Hallo Mamma en Pappa

Dit is nou Sondag Oggend 8:30am hier.

Dit was net ek en die ander new zealander hier die eerste aand so susan het ons uit gevat vir ete. En toe 'n Wall Mart gewys. Dit is so groot soos die warehouse en new world saam gesit. Hulle verkoop alles van groente tot shotguns to tvs tot dvds. Alles is so goedkoop hier. Petrol is 50c per litre, blikkies coke is 25c, dvds is tussen $10 en $20 vir nuwe dvds. Hulle verkoop shotguns in die supermarket. Jy hoef net oor 18 te wees. Hulle is tussen $100 en $200 selfs ek kan een koop. En die mense wonder hoekom hulle crime het?

Gister middag het al die ander councelors opgedaag wat ook life guarding doen. Daar is so 30 van ons. Het gister ons eerste les gehad. Moes 500m (20 lengtes) swem en 4m duik om 'n baksteen uit te haal. Was nogal moeilik maar het beter gedoen as meeste van die ander kinders. Sal net een dag 'n week kan email want ons is baie besig van vandag 1uur af.

Gisteraand het ons af gekry so het saam met 'n paar van my cabin mates na Lafayete to gegaan. Dit is 'n dorpie hier naaby. Amper so groot soos Glenfield. Het in die mall geloop en na goed gekyk. Cds is tussen $8 en $15. Het by 'n Diner geeet. Het 'n regte American hamburger geëet en 'n peanut butter milkshake gedrink. Die hamburger was lekker en die milkshake was ok. Moet eers gewoont raak daar aan. Het toe so 11uur terug gekom en gaan slaap. Begin 1uur weer met life guarding en volgende week Vrydag met high ropes vir 'n week. Dan kom die kinders. daar is op die oomblik ook kinders hier maar hulle is net day campers. So hulle gaan in die aand huis toe en ander mense kyk na hulle.

Well mooi bly en hoop om weer gou te skryf. Laat weet maar wat julle alles wil weet.

Liefde

Nic

Donderdag - 19 Mei 2005

23H30

More

Hier is dit byna middernag, maar dit is baie belangrik dat hierdie brief nog vandag geskryf word - more sal dit nie meer dieselfde gewig dra nie.

Die 19de Mei is Stigtersdag vir die Claassen-gesin. Pieter is vanaand 11-uur presies 4 jaar in Nieu-Seeland. Ons is nou nie meer melkbaard-Kiwi’s nie. Hierdie dag word elke jaar gevier, maar vanaand se viering was so ‘n klein bietjie anders…

Pieter het hom vanaand weer op die lughawe bevind - hierdie keer om Nic te gaan afsien. Ek weet nou nog nie wie het die moeilikste gegroet nie - Kerry of Pieter. Ons blou-oog seun se oë was self onnatuurlik baie blink toe daar gedruk en gesoen moes word. Dit gaan ‘n baie lang en stil 15 weke wees. Nic het nou besluit om na die 11 weke lange Summer Camp eers ‘n ruk te gaan toer. Hy gaan nie gou weer so ‘n geleentheid kry nie.

Ons is ernstig gemaan om tog nie nou al hieroor te praat nie, want dit is nog nie bevestig nie, maar daar is sprake dat Steve Hofmeyr se Auckland-konsert ( die ene wat ek gaan bywoon !! ) opgeneem gaan word vir TV-uitsending in SA. “Daar is sprake dat die filmspan van Steve Hofmeyr se TV-program op KykNET, Dis Hoe Dit IS, na Nieu-Seeland wil kom om Steve se optrede by KiwiKasie en sy Kiwi-toer te verfilm! “ As dit realiseer, sal ek seker maak dat ek vir julle almal wuif, al moet ek dan nou ook op die verhoog spring - sal soos by die rugby ‘n groot plakkaat maak om julle te groet.

Die groot winterreën is hier… heerlik!! Ons maak omtrent elke aand ‘n vuurtjie in die kaggel. Om ‘n paar NZ-winters te oorleef, het jy nie ‘n goeie verwarmer nodig nie, maar eerder ‘n tuimeldroër met goeie uithouvermoë. Ons wasgoed sien nie ‘n wasgoedlyn as die winter eers toegeslaan het nie. Tauranga, waar ons skoonfamilie hulle bevind, is baie swaar deur die reën getref - vloede en oorstromings. Hier is so ‘n stukkie uit Brokkies: Talle huise, paaie en treinspore is al verspoel en inwoners staal hulself vir ‘n verdere 100mm wat vannag daar verwag word. Terwyl nooddienste en helpers van oral na Tauranga stroom om met die chaos te help, wil Die Afrikaanse Klub noem dat ons gebede met al die mense van Tauranga is, wetende dat daar ook honderde Suider-Afrikaners woon. Ons bede is dat verdere skade tot die minimum beperk sal wees en dat alle mense daar veilig deur hierdie beproewing sal kom.

Ek neem aan dat SA nie hierdie naweek in ‘n suidelike en noordelike kamp verdeel is nie, maar dat almal by blou gaan hou. Voorspoed vir die naweek. Dalk sien ons nog volgende naweek ‘n SA-NZ-stryd. My weddenskappe vir die naweek se Super 12 is in - sal julle laat weet of ek in die kol was. Ek speel nou al die hele Super 12-seisoen Virtual Super 12 op die internet - het glad nie te sleg gevaar sover nie.

Dit gaan baie goed by my nuwe werk. Ek geniet elke oomblik daarvan. Daar is nog baie om te leer, maar ek geniet die uitdagings.

Nou is ek eers op pad bed toe. Skryf weer die naweek.

Groete

Anna-Maré